Houthi-rebelle teiken Britse vlootvaartuig

Houthi-rebelle het die gekaapte Galaxy Leader onlangs vir manlike toeriste oopgestel. (Foto: AFP)

Engeland se minister van verdediging, Grant Shapps, sê die Verenigde Koninkryk bly “onverskrokke” nadat die Britse vloot ’n aanval deur Jemen se Houthi-rebelle suksesvol afgeweer het.

Dié Iran-gesteunde rebelle het Saterdag ʼn Britse vlootvaartuig in die Rooisee geteiken. Die groep se hommeltuig is egter deur die geteikende HMS Diamond afgeskiet.

“Deur die Sea Viper-missielstelsel te ontplooi, het Diamond ’n hommeltuig vernietig wat haar geteiken het,” het Shapps op die sosialemediaplatform X gesê.

Hy het die voortdurende aanvalle as “ondraaglik en onwettig” beskryf, maar gesê dat die VK hom nie sal laat afskrik nie.

Niemand aanboord die HMS Diamond is in die voorval beseer nie en die vaartuig is ook nie beskadig nie.

Amerikaanse en Britse magte het op 12 Januarie die eerste gesamentlike aanvalle geloods wat daarop gemik is om die Houthi-rebelle se vermoë om handelsvaartuie in Rooisee aan te val, te verhinder.

Die rebelle voer aan hul aanvalle is ter ondersteuning van Palestyne in die Gaza-strook waar die oorlog tussen Israel en die terreurgroep Hamas voortwoed.

Die aanvalle in die Rooisee het in November verlede jaar begin, kort nadat Hamas Israel op 7 Oktober aangeval het.

Die rebelle is deel van ʼn anti-Israel- en anti-Westerse alliansie. Hul aanvalle hou ʼn groot bedreiging vir internasionale handel in, aangesien die Rooisee altesame 12% van internasionale maritieme verkeer dra.

Groot vragskepe is reeds om Afrika na die Kaap herlei om aanvalle vry te spring.

Rebelle slaan munt uit kapings

Die rebelle het intussen een van die vragskepe wat hulle vroeër gekaap het vir “toeriste” oopgestel, en maak self geld daaruit.

Die Galaxy Leader is in November gekaap en sy bemanningslede gyselaar geneem. Die skip en bemanning is steeds in Jemen.

AFP berig dat vir so min as $1 (ongeveer R18,80) per besoek, kan toergroepe wat slegs uit mans bestaan vyf keer per week deur die vaartuig stap.

Die vaartuig is boonop versier met Jemenitiese en Palestynse vlae.

Die rebelle beskou die vaartuig as ʼn “trofee” in hul stryd om die Palestynse bevolking te steun.

Zubair al-Haidari van die Houthi-beheerde hoofstad, Sanaa, sê hy het vyf uur gereis om die skip te besigtig.

“Dis ons trots en eer dat ons gewapende magte hierdie wonderlike werk kon verrig om ons onderdrukte broers in Palestina en Gaza te ondersteun,” het hy aan AFP gesê.

Hy was een van tien besoekers wat foto’s van die vragskrip geneem het terwyl hulle aan eetgoed gepeusel het.

Besoekers aan die skip het tot ʼn tradisionele dans uitgevoer met dolke wat Jemeniete gewoonlik in hul gordels dra. Dít terwyl dreunsang Houthi-rebelle verheerlik het.

Daar is egter geen woord gerep oor waar die vermiste bemanningslede kan wees wat in November gyselaar geneem is nie. Die 25 bemanningslede is hoofsaaklik Bulgaars, Filippyns, Oekraïens en Mexikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

electricmango ·

Die arme goedjies….. het 4 drones as geskenk gekry by iran met cyril se goedkeuring en nou gaan hulle engeland aan vat. Ek hoop die Here begenadig hulle want dinge gaan skeef loop.

Jacobus ·

Ek hoop die VSA en Britanje vee Iran ook plat. Wat hierdie terroriste en dit sluit SA in doen is aanvalle teen lande. Israel voer nie hierdie oorlog teen die Palisteine nie maar teen die terroristiese organisasie hamas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.