IMF, Wêreldbank vergader eerste keer in halfeeu in Afrika

Die IMF en die Wêreldbank se vergadering word in Marrakesj in Marokko gehou. (Foto: Fadel Senna/AFP)

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank hou Maandag vir die eerste keer in 50 jaar hul vergadering op die Afrika-vasteland.

Die IMF en die Wêreldbank hou tradisioneel elke drie jaar ʼn vergadering van ministers van finansies en sentrale bankgoewerneurs buite hul hoofkwartiere in Washington DC in die VSA.

Vanjaar word dié vergadering in Marrakesj in Marokko gehou. Dié land was veronderstel om die vergadering in 2021 aan te bied, maar die byeenkoms is twee keer uitgestel weens die Covid-19-pandemie.

ʼn Aardbewing wat verlede maand tot die dood van 3 000 mense in die suide van Marokko gelei het, het gedreig om die vergadering weer te ontspoor, maar die regering het besluit om daarmee voort te gaan.

Die IMF en die Wêreldbank het in 1973 laas ʼn vergadering in Afrika gehou, toe Kenia die geleentheid aangebied het en sommige lande nog onder koloniale bewind was.

ʼn Halfeeu later staar ʼn verskeidenheid uitdagings die vasteland in die gesig. Dit wissel van oorloë en verskeie militêre staatsgrepe tot onverbiddelike armoede en natuurrampe.

“ʼn Voorspoedige wêreldekonomie in die 21ste eeu vereis ʼn voorspoedige Afrika,” het Kristalina Georgieva, besturende direkteur van die IMF, gesê.

Die IMF se rol is om volhoubare groei en welvaart vir al 190 van sy lidlande te verseker. Dit word gedoen deur ekonomiese beleid te ondersteun wat finansiële stabiliteit en monetêre samewerking bevorder, wat noodsaaklik is om werkskepping en ekonomiese welstand te verbeter.

Die Wêreldbank poog weer om armoede te verminder deur geld aan die regerings van sy armer lidlande te leen om hul ekonomieë ʼn hupstoot te gee sodat die lewenstandaard van hul mense kan verbeter.

Leninghupstoot verwag

Die IMF en Wêreldbank beplan om aan Afrika ʼn derde setel in hul uitvoerende rade te gee. Volgens Georgieva gaan dit die vasteland ʼn “sterker stem” gee.

Maar die grootste kwessie handel oor geld.

Die lidlande wat verantwoordelik is vir die grootste bydraes is nie ten gunste van ʼn kapitaalverhoging nie, aangesien dit hulle sal dwing om meer geld in te sit en groter invloed aan opkomende moondhede soos China en Indië te gee.

Die Wêreldbank sal egter na verwagting sy planne bevestig om lenings met $50 miljard oor die volgende dekade deur balansstaatveranderings te verhoog.

Ajay Banga, president van die Wêreldbank, wil selfs verder gaan en kapasiteit met $100 miljard of soveel as $125 miljard verhoog deur die bydraes van ekonomieë van ontwikkelde lande.

Dié tameletjie sal waarskynlik egter nie in Marrakesj uitgeklaar word nie.

Die wêreldwye leners kan die vergaderings gebruik om hul kwotastelsels te hervorm.

Die kwotas, wat gegrond is op ʼn land se ekonomiese prestasie, bepaal hoeveel finansiering hulle aan die IMF moet verskaf, hul stemkrag en die maksimum bedrag lenings wat hulle kan kry.

‘Dieselfde ou, mislukte boodskap’

Aktiviste beplan om ʼn optog in Marrakesj te hou om die Washington-gebaseerde instellings aan te spoor om stappe teen klimaatsverandering en skuld te doen.

Nie-regeringsorganisasies sê die oplossings wat deur die IMF en die Wêreldbank aangebied word, vergroot net die gaping tussen die rykes en die armes in die ontwikkelende wêreld.

Kampvegters sê wêreldwye leners moet eerder daarop fokus om die skuld van die armste nasies af te skryf en die rykes meer te belas.

Oxfam International het gesê 57% van die wêreld se armste lande moet openbare besteding met ʼn totaal van $229 miljard oor die volgende vyf jaar besnoei. Oxfam is ʼn wêreldwye beweging wat poog om die onreg van armoede te beëindig.

“Die Wêreldbank en IMF keer vir die eerste keer in dekades terug na Afrika met dieselfde ou mislukte boodskap,” het Amitabh Behar, uitvoerende direkteur van Oxfam International, gesê.

“Die IMF dwing armer lande in hongersnood in deur bestedingsbesnoeiings, wat ongelykheid en lyding vererger.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.