Inheemse Amasonegroep bevry toeriste

Buitelandse en Peruviaanse toeriste wag in die boot waar hulle gyselaar gehou is deur die Cuninico-gemeenskap in Loreto, noord van Peru (4 November 2022) (Foto: Angela Ramirez/AFP)

Lede van ʼn inheemse groep het Vrydag meer as 100 toeriste vrygelaat wat hulle ʼn dag tevore in die Amasone in Peru gyselaar geneem het. Dit was uit betoging “teen die regering se versuim om te reageer op ʼn oliestorting”.

Die groep toeriste sluit in 27 mense van die VSA, Spanje, Frankryk, Brittanje, Switserland en 80 van Peru. Kinders was ook onder die gyselaars.

“Hulle keer reeds terug na hul plek van oorsprong,” het toerismeminister Roberto Sanchez aan verslaggewers in Lima gesê.

Die toeriste het op ʼn rivierboot gevaar toe hulle Donderdag deur lede van die Cuninico-gemeenskap oorval is. Die gemeenskap eis ingryping van die regering ná ongeveer 2 500 ton ruolie op 16 September in die Cuninicorivier gestort het.

Gemeenskapsleier Watson Trujillo het Donderdag gesê gemeenskap het dié “radikale maatreël” geneem om die regering oor te haal om ʼn afvaardiging te stuur om die omgewingskade te bepaal aan die streek wat die tuiste is van sowat 2 500 inheemse mense.

Peru se ombudsman vir menseregte het Vrydag gesê onderhandelings het daartoe gelei dat die toeriste bevry word.

“Hulle het ons almal bevry,” het Angela Ramirez, ʼn fietsryer van Peru, later aan AFP via WhatsApp gesê. Sy was een van die toeriste wat op die boot gyselaar gehou is. Sy sê mense was angsbevange en was uitgeput terwyl hulle op hul lot gewag het. Hulle water en kos het begin opraak tydens die 28 uur lange aanhouding.

Die oliestorting het plaasgevind weens ʼn skeur in die Norperuano-oliepyplyn wat aan die staatsbeheerde Petroperu behoort. Dit vervoer ruolie van die Amasone na die Piurahawe aan die kus.

Petroperu het op ʼn doelbewuste sny van ongeveer 21 cm in die pyplyn afgekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.