Invloedryke Nigeriese prediker TB Joshua sterf

Die Nigeriese prediker TB Joshua. (Foto: Facebook)

Die bekende Nigeriese prediker en stigter van The Synagogue, Church of All Nations (Scoan), TB Joshua (57), is Saterdagaand in Lagos dood kort ná ʼn vergadering van die kerk.

Die leier van dié megakerk is bestempel as een van Afrika se mees invloedryke predikers en het enorme aanhang op sosialemediaplatforms en TV gehad.

Tientalle boodskappe van medelye het kort na die nuus oor sy dood begin instroom. Hy sou op 12 Junie sy 58ste verjaardag gevier het.

Luidens ʼn verklaring van TB Joshua Ministries het God sy “dienaar, profeet TB Joshua, volgens Sy Goddelike wil huis toe geneem”.

Die kerk het geen oorsaak van Joshua se dood bekend gemaak of enige besonderhede oor die omstandighede waaronder hy dood is, gedeel nie.

“Profeet TB Joshua laat ʼn nalatenskap van diens en opoffering aan God se koninkryk wat voortleef vir geslagte wat nog moet kom,” lui die verklaring.

“The Synagogue, Church of All National en die Emmanuel TV-familie waardeer julle liefde, gebede en besorgdheid en vra vir ʼn tydperk van privaatheid vir die familie.

“Hierdie is profeet TB Joshua se laaste woorde: ‘Kyk en bid’,” lui die verklaring.

Joshua is deur talle as profeet geëer, maar was geen vreemdeling vir omstredenheid nie.

Vroeër vanjaar het die sosialemediaplatform YouTube Joshua se kanaal geblok weens bewerings van haatspraak teen gay mense, ʼn besluit waarteen Joshua geappelleer het, berig AFP.

Joshua se YouTube-kanaal het meer as 1,8 miljoen volgelinge en video’s daarop is al meer as 600 miljoen keer gekyk en die prediker het sy aanhangers gevra om vir YouTube te bid.

Facebook het ook al verskeie video’s van Joshua se blad – met meer as 5,6 miljoen volgelinge – verwyder.

Die stappe is skerp gekritiseer in Nigerië waar die evangeliese gemeenskap baie invloedryk is en kerke tienduisende lede het.

In 2014 is 114 mense dood – die meeste van hulle Suid-Afrikaners – toe ʼn gastehuis by die kerk ineengestort het. Die slagoffers was deel van verskeie toergroepe wat by die kerk tuisgegaan het.

Altesame 85 Suid-Afrikaners het in die ramp gesterf en talle ander is beseer.

Temitope Balogun Joshua, beteken bekend as TB Joshua, is gereeld “die man van God” of “die Profeet” genoem en was bekend vir sy sogenaamde wonderwerke, genesing van siekes en selfs opwekkings.

Volgens Forbes het hy oor die jare ʼn fortuin van etlike miljoene dollar opgebou.

Joshua was egter ook bekend vir sy humanitêre werk en hulp aan minderhede en minder bevoorregtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Carel Aaron ·

Hy het beweer hy het dooies laat opstaan. So hy moet mos kan opstaan of iemand wat die bedrog gaan oorneem as leier moet hom opwek.
Kobus jnr van Stilfontein het ook geglo sy pa Kobus van Rensburg gaan ook opgewek word.
Dood is dood en mense glo in ou fiktiewe stories van verskeie oer gelowe waar dit nabewering plaas gevind het. Dit gebeur net nie.

Die enigste wek is lagwekkend.

MakersMark ·

Ongelukkig is daar baie mense, self afrikaans sprekendes wie se denkwyse nog in die middeleeue hoort want hul glo in dieselfde konsepte en sameswerings teorieë. Enigste wie ons weet die dode kan opwek is die Hemelse Vader.

Gawie ·

Carel, gaan doen bietjie navorsing oor die kerk in Afrika, maar ook wêreldwyd. Dooies word gereeld opgewek deur die krag van God. Ek stem saam, geen mens kan iemand uit die dood laat opstaan nie, maar wel net God. Om te sê dit gebeur net nie, wys net op jou onkunde oor die saak.
Jesus het mense uit die dood opgewek, en Hy het self gesê dat ons groter dinge as Hyself sal doen.

Bosvelder ·

Daar is kerke in Suid Amerika waar jy vandag nog (nie in die oere verlede) nie pastoor mag word voordat jy iemand uit die dood uit opgewek het nie. Word kundig.

Pensionaris Sedgefield ·

Hennie, jy weet nie waarvan jy praat nie. Iemand wat geld vir ‘n kerk gee om God se werk te doen word nie verlos van sy geld nie.

Ettienne ·

Ek is nie op ‘n plek waar ek die waarheid oor sy christenskap kan beoordeel nie, maar dat sy “werk” deurslek was met onbybelse optrede en uitsprake is vir almal daar om te sien.’ n Boom word tog geken aan sy vrugte…. Hierdie man het geloof in ‘n kommoditeit omskep. Geldmaak was sy doel. Daar is so baie wat ek oor hom wil en kan sê, maar sal volstaan by, hierdie charlatan wat’ n mengsel van african-spiritualism en prosperity theology gepreek het, het on betekenbare skade aan die Christelike geloof beteken. ‘n Wolf in skaapsklere….

Bosvelder ·

Het jy ooit een van sy teachings geluister of is jou opmerking op hoorsê gebaseer?

Ettienne ·

Ek het van sy teachings geluister, en vier van my familie lede was daar en lid van ‘n “kerk” wat by SCONE geaffilieer is. Sela.

Lynette ·

Die dood is nou een ding wat hy NIE kon ‘scam’ nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.