Israel beveel om dringend hulp vir Gaza te verseker

Familielede en ondersteuners van Israelse gyselaars wat sedert 7 Oktober in Gaza aangehou word, betoog in Tel Aviv (26 Maart 2024) (Foto: Jack Guez/AFP)

Die Internasionale Geregshof het Israel beveel om seker te maak dat dringende humanitêre bystand mense in die Gaza-strook bereik. Gevegte duur Vrydag voort rondom hospitale ondanks ʼn bindende versoek om ʼn skietstilstand deur die Verenigde Nasies.

Die IG in Den Haag het in sy bevel gesê Palestyne in Gaza beleef nie meer net ʼn risiko van hongersnood nie, maar hongersnood is reeds teenwoordig.

Minstens 31 mense, insluitend 27 kinders, is reeds dood weens wanvoeding of dehidrasie.

Die hof het in Januarie bepaal dat Israel “dringend nodige” humanitêre hulp aan die Palestynse grondgebied moet verseker en dade van menseslagting moet voorkom. Israel het die saak, wat deur Suid-Afrika gebring is, verwerp.

Die jongste uitspraak van die hof, wat nie veel afdwingingsmiddele het nie, kom ná Israel se weermag Vrydag gesê het hy gaan voort met bedrywighede by Al-Shifa-hospitaal, die gebied se grootste, vir ʼn twaalfde dag.

Regdeur die kusgebied is dosyne mense oornag dood, het die ministerie van gesondheid in die Hamas-beheerde Gaza vroeg Vrydag gesê. Van dié sterftes is 12 mense wat dood is in ʼn huis in die suidelike stad Rafah.

Mans het met selfoonliggies in die donkerte gewerk en met hul hande gegrawe om mense, wat onder betonblokke vasgekeer is ná ʼn lugaanval, te bevry, wys AFPTV-beelde.

Die IG het Israel beveel om “alle nodige en doeltreffende maatreëls in te stel om seker te maak, sonder enige vertraging, dat dringend nodige basiese dienste en humanitêre bystand gelewer word”. Dit sluit in kos, water en mediese voorraad.

‘Onmiddellike skietstilstand’

Die oorlog het op 7 Oktober begin toe Hamas se aanval tot sowat 1 160 sterftes in Israel, hoofsaaklik burgerlikes, gelei het. Dit is volgens ʼn AFP-telling gebaseer op Israel se amptelike syfers.

Israel se reaksionêre veldtog om Hamas te vernietig, het reeds minstens 32 623 mense, hoofsaaklik vroue en kinders, se lewens geëis, aldus Gaza se gesondheidsministerie.

Groot dele van die grondgebied is in puin gelê. Meeste van Gaza se bevolking skuil nou in die suidelike punt, Rafah.

Die VN se veiligheidsraad het Maandag ʼn “onmiddellike skietstilstand” in Gaza geëis, dat gyselaars deur militante vrygelaat word en dat humanitêre toegang verseker word.

Ledestate is verplig om aan dié resolusies te voldoen, maar die geveg duur voort en die liefdadigheidsorganisasie Dokters Sonder Grense (MSF) het Vrydag gesê niks het nog op grondvlak verander nie.

Hulpgroepe sê slegs ʼn breukdeel van die nodige voorraad om aan basiese humanitêre behoeftes te voldoen, is sedert Oktober toegelaat, toe Israel Gaza onder ʼn byna algehele beleg geplaas het.

Israel blameer die tekorte aan die Palestina-kant, naamlik ʼn gebrek aan kapasiteit om bystand te versprei sodra dit opdaag.

Filantrope voer aan vragmotors is die mees doeltreffende manier om hulp af te lewer, maar die getal voertuie wat toegelaat word, is nog nie voldoende nie.

Met beperkte toegang op die grond het verskeie lande begin om hulp uit die lug af te lewer, en ʼn see-korridor van Siprus het sy eerste vrag kos afgelewer.

Mense wat na die kos gehaas het, het verdrink of is in ʼn stormloop dood tot lugpakkies vandeesweek in die see geval het – ʼn teken van die gevare en desperaatheid.

Gesondheidstelsel stort ineen

Die VN sê Gaza se gesondheidsorgstelsel stort ineen “weens voortgesette vyandighede en beperkte toegang”.

Die Israelse weermag beskuldig Hamas en nog ʼn militante groep, die Islamitiese Djihad, dat hulle binne hospitale wegkruip en pasiënte, personeel en ontheemde persone vir dekking gebruik. Die militante ontken dié aanklagte.

Die weermag het Vrydag gesê hy “gaan voort met presisie aktiwiteit in Shifa-hospitaal” waar ʼn inval vroeg verlede week plaasgevind het.

Soldate het in November ʼn inval op Al-Shifa uitgevoer, voor Israel in Januarie aangekondig het dat hy Hamas se bevelstruktuur in noordelike Gaza “heeltemal ontbind het”.

Palestynse militante en bevelvoerders het intussen na Al-Shifa teruggekeer, het die weermag gesê met die aanvang van sy jongste inval. Sowat 200 militante is tydens die huidige operasie dood.

Dodetal

Sedert die Gaza-oorlog begin het, het Israel sy aanvalle in Sirië verhoog. Weermagposisies en Iran-gesteunde magte, insluitend Libanon se Hezbollah-beweging, ʼn vennoot van Damaskus en Hamas, word geteiken.

ʼn Brits-gebaseerde oorlogmonitor het gesê Israelse lugaanvalle Vrydag in Sirië se noorde het minstens 42 mense se lewens geëis, insluitend ses van Hezbollah en 36 Siriese soldate.

Israel se weermag het gesê Ali Abdel Hassan Naim, adjunkbevelvoerder van Hezbollah se vuurpyleenheid, is Vrydag dood in ʼn lugaanval op ʼn motor in die suide van Libanon.

Bemiddellaars van die VSA, Egipte en Katar het probeer om ʼn skietstilstand in Gaza te verseker, maar dié gesprekke het vasgeval meer as halfpad deur die Moslem se heilige maand van Ramadan.

Spanning het begin toeneem tussen Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu en Washington, wat miljarde dollar in militêre hulp verskaf, maar al hoe meer uitsprake begin maak het oor die oorlog se impak op siviele burgers.

Die VSA het ook die kwessie aangeroer oor Gaza se naoorlogse reël. ʼn Toekomstige rol vir die Palestynse owerheid, wat gedeeltelike administratiewe beheer in die Israeli-besette Wesbank het, is voorgestel.

Mahmud Abbas, president van Palestina, het Donderdag die nuwe regering van eerste minister Mohammed Mustafa goedgekeur. Sy kabinet sal werk aan “visies om die instansies te herenig, insluitend om aanspreeklikheid vir Gaza te aanvaar”.

Hamas het in 2007 Abbas se regering in die Gaza-strook met geweld oorgeneem.

Netanyahu sê Israel moet “veiligheidsverantwoordelikheid in Gaza hê” en het die VSA se versoeke vir ʼn Palestynse staat verwerp. Sy regerende koalisie, wat ultra-Ortodokse lede insluit, is in gevaar oor ʼn hervorming deur die ministerie van verdediging wat daartoe kan lei dat ultra-Ortodokse Jode opgeroep word vir weermagdiens. Netanyahu het die hoogste hof vir uitstel gevra om dié maatreël verder te bespreek.

Hy is ook onder druk oor sy versuim om alle persone, wat deur militante op 7 Oktober gyselaar geneem is, huis toe te bring. Israel sê sowat 130 gyselaars is steeds in Gaza, insluitend 34 wat vermoedelik oorlede is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.