Italiaanse filmlegende Gina Lollobrigida sterf

Gina Lollobrigida in 2012. (Foto: Tiziana FABI / AFP)

Die Italiaanse aktrise Gina Lollobrigida, een van die laaste ikone van die Goue Era van Hollywood, is Maandag in die ouderdom van 95 in ’n kliniek in Rome dood.

“Vaarwel aan ’n diva van die silwerdoek en protagonis van meer as ’n halfeeu lange Italiaanse rolprentgeskiedenis. Haar sjarme sal ewig duur,” het die Italiaanse minister van kultuur, Gennaro Sangiuliano, Maandag in reaksie op die nuus gesê.

Lollobrigida is veral bekend vir haar rolle in Luigi Comencini se Bread, Love and Dreams in 1953 en Jean Delannoy se The Hunchback of Notre Dame in 1956 en het destyds teenoor daardie tyd se voorste akteurs soos Errol Flynn, Burt Lancaster en Humphrey Bogart gespeel.

‘n Jong Gina Lollobrigida in 1965. (Foto: AFP)

Die Italiaanse eerste minister, Giorgia Meloni, onthou Lollobrigida as “’n groot talent, passievol, intens en boeiend.

“Sy was een van die belangrikste kunstenaars van haar generasie, wat bygedra het tot die verspreiding van die Italiaanse beeld in die wêreld.”

Lollobrigida was as jong aktrise in ’n vete met die Italiaanse aktrise Sophia Loren gewikkel. Die twee vroue is destyds beskou as van die mooiste internasionale sterre van die jare ná die Tweede Wêreldoorlog. Hulle het ook dikwels vir soortgelyke rolle in rolprente meegeding.

Loren het Maandag gesê sy is “baie geskok en hartseer” oor die dood van haar eertydse mededinger.

‘n Jong Gina Lollobrigida in 1954. (Foto: AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.