Italië soek oudhede by Louvre terug

Die binnehof van die Louvre-museum. (Foto: Thibault Camus, AP)

Italië eis dat oudhede wat hy glo gebuit is voordat dit in die 1980’s en 1990’s aan die Louvre in Parys verkoop is, aan die land terugbesorg word.

ʼn Woordvoerder van die Louvre sê die museum het vir die eerste keer hiervan te hore gekom toe die Italiaanse minister van kultuur, Gennaro Sangiuliano, dit in ʼn brief bekendgemaak het wat hy in Februarie tydens ʼn besoek aan Frankryk oorhandig het.

Al sewe oudhede, wat ʼn antieke Griekse kruik, ʼn amfora genoem, insluit, asook antieke Griekse vase wat uit die 4de tot 6de eeu voor Christus dateer, is glo deur Italiaanse handelaars verkoop wat verdink word van die onwettige handel in antieke kunswerke.

“Ek dink dat oudhede van twyfelagtige herkoms ʼn klad op die versameling van die Louvre is,” het Laurence des Cars, president van die museum, aan die Franse koerant Le Monde gesê.

“Ons moet werk daarvan maak en die aangeleentheid noukeurig en deursigtig ondersoek.”

ʼn Ondersoek is reeds van stapel gestuur na die betwiste oudhede, en sou alles goed verloop, kan die items teen die einde van die jaar na Italië terugkeer.

Die Louvre, wat deur die Franse regering bestuur word, is die museum wat die meeste ter wêreld besoek word en is die tuiste van sommige van die Westerse beskawing se mees gevierde kulturele erfenisse.

ʼn Voormalige direkteur van die museum is verlede jaar daarvan aangekla dat hy saamgesweer het om die oorsprong te verdoesel van argeologiese skatte wat ondersoekers vermoed in die chaos van die Arabiese Lente uit Egipte gesmokkel is.

Jean-Luc Martinez, wat die Louvre van 2013 tot 2021 bestuur het, word daarvan beskuldig dat hy kastig nie agtergekom het die sertifikate wat die oorsprong van items bevestig, vervals is nie. Dié bedrog betrek vermoedelik verskeie ander kunskenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.