Ivana Trump se dood was glo ʼn ongeluk

Ivana Trump in Januarie 2018. (Foto: Jewel SAMAD/AFP)

Ivana Trump, oudpres. Donald Trump se eerste vrou en die ma van sy drie oudste kinders, het per ongeluk van die trappe afgeval en weens onvermydelike beserings aan haar bolyf gesterf.

Só lui die New Yorkse hoof- mediese ondersoeker en die polisie se verslag.

Ivana is by haar huis in New York oorlede.

ʼn Woordvoerder van die New York-polisiedepartement het Donderdag in ʼn verklaring gesê beamptes is Donderdag na Trump se woning aan die Upper East Side ontbied en het gevind dat sy “bewusteloos is en nie reageer nie”.

Sy is op die toneel dood verklaar en die polisie het bevestig geen vuilspel word vermoed nie.

Ivana, ʼn model wat onder kommunistiese bewind in die voormalige Tsjeggo-Slowakye grootgeword het, het in 1977 met Donald Trump, toe ʼn ontluikende eiendomsontwikkelaar, getrou.

Hul eerste kind, Donald jr., is in dieselfde jaar gebore. Hul dogter, Ivanka, is in 1981 gebore en hul tweede seun, Eric, in 1984.

Regdeur die 1980’s was die Trumps een van New York se top-profielpaartjies, met hul buitensporige lewenstyl.

Hul mag en beroemdheid het toegeneem namate Trump se eiendomsonderneming die hoogte ingeskiet het, met Ivana wat verskeie sleutelrolle in die onderneming beklee het.

Hul hoëprofielskeiding, wat na bewering deels veroorsaak is deur Trump se verhouding met die aktrise, Marla Maples, het sappige inhoud vir New York se poniekoerante verskaf.

Trump en Ivana het in die vroeë 90’s geskei en in 1993 het die toekomstige president met Maples getrou.

Ivana het voortgegaan om ʼn suksesvolle sakeloopbaan van haar eie te vestig deur klere, juweliersware en skoonheidsprodukte te ontwikkel en ʼn aantal boeke te skryf.

Sy was vier keer getroud, een keer voor haar huwelik met Trump en twee keer daarna.

ʼn Amerikaanse justisiebeampte het Vrydag gesê die afsettings van Trump, Donald jr. en Ivanka in New York se siviele ondersoek na beweerde bedrog by sy familieonderneming is ná haar dood uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Tuistes met hoe trappe is nie geskik vir ou mense en klein kinders nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.