Jacinda Ardern bedank as premier

Jacinda Ardern (Foto: by Marty MELVILLE / AFP)

Nieu-Seelanders was Donderdag geskok om te hoor dat hul eerste minister, Jacinda Ardern, beplan om binne die volgende paar weke uit haar amp te bedank.

Dít omdat sy bloot nie meer “genoeg in die tenk” oor het om as eerste minister van Nieu-Seeland te dien nie.

“Ek is mens. Ons gee soveel as wat ons kan vir so lank as wat ons kan en dan is dit tyd. En die tyd het vir my aangebreek,” het Ardern Donderdag tydens ʼn vergadering aan lede van haar Arbeidersparty gesê.

“Ek glo dat om ʼn land te lei die mees bevoorregte werk is wat iemand ooit kan hê, maar ook een van die mees uitdagendste. Jy kan en moet dit nie doen tensy jy ʼn vol tenk plus ʼn bietjie in reserwe vir daardie onverwagte uitdagings het nie.”

Ardern beplan om niks later as 7 Februarie te bedank nie. Nieu-Seeland sal in Oktober sy volgende eerste minister tydens ʼn algemene verkiesing verkies.

Die 42-jarige Ardern het tydens haar termyn van ses jaar wêreldwyd lof verwerf vir haar empatiese hantering van die 2019 Christchurch-moskee-slagting waartydens 51 aanbidders doodgeskiet en 40 gewond is.

Sy is ook geloof vir haar beslissende leierskap tydens die noodlottige Witeiland-vulkaanuitbarsting later daardie jaar.

Peilings toon egter nou steun vir Ardern se regering het die afgelope jaar geleidelik begin afneem. Dit kan toegeskryf word aan stygende inflasie, ʼn dreigende resessie en ʼn herlewing in die konserwatiewe opposisie.

Jacinda Ardern saam met haar lewensmaat, Clarke Gayford, en hul dogter in 2018. (Foto: MICHAEL BRADLEY / AFP)

“Ek bedank nie omdat ek glo ons kan nie die volgende verkiesing wen nie, maar omdat ek glo ons kan en sal,” het Ardern dit Donderdag duidelik gestel. “Ek gaan weg, want met só ʼn bevoorregte werk kom groot verantwoordelikheid. Die verantwoordelikheid om te weet wanneer jy die regte persoon is om te lei – en ook wanneer jy nie is nie.”

Die Australiese premier Anthony Albanese het in reaksie op die nuus gesê Ardern “het die wêreld gewys hoe om met intellek en krag te lei”.

“Sy het getoon dat empatie en insig kragtige leierseienskappe is.”

Die Nieu-Seelander Christina Sayer het op haar beurt gesê Ardern is “die beste premier wat ons al ooit gehad het”.

“Ek hou van die tipe mens wat sy is en sy gee om vir mense. Ek is jammer om haar te sien gaan.”

Ander meen egter Ardern se bedanking is verblydende nuus.

“Dit is tyd,” sê die Nieu-Seelander Esther Hedges. “Sy het die ekonomie verwoes en kospryse het die hoogte ingeskiet. Ek is nie gelukkig met haar nie en ek ken niemand wat is nie.”

Ardern was die tweede eerste minister ter wêreld om geboorte te skenk terwyl sy in haar amp was, ná Pakistan se Benazir Bhutto in 1990.

Ardern het Donderdag gesê sy sien daarna uit om meer tyd saam met haar dogter Neve, wat later vanjaar skool toe gaan, deur te bring en uiteindelik met haar lewensmaat, die TV-persoonlikheid Clarke Gayford, te trou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die gevolge van haar heerskappy gaan nog vir baie jare by die Kiwis spook.

Katinka ·

Beste nuus ooit, NZ is beter af sonder haar, kom ons sien wat die eleksie in October doen, dalk kom die nationals in, maar labour is uit.

miraclealigner ·

‘Eleksie’ is ‘n baie slegte anglesisme en is nie ‘n woord nie. ‘Verkiesing’ is die regte woord waarna jy moes soek…

Truman Burbank ·

As jy daai prezzie al sien loop het, sou eleksie dalk gepas wees. hehe

JD ·

Dankie tog, die WEF marionet het magsbehep geraak.
Hopelik is Kanada volgende.
SA is in my opinie onherstelbaar, danksy ons lieflike ANC

RomeoTangoGolf ·

Nieu-Seelander geskok???Nee, wat. Verlig is eerder die woord.

Barend ·

Sy al van ‘n jaar terug al haar hand begin oorspeel met ongewilde wette wat sy probeer deurdruk het. Selfs Sky News Australia was daaroor geskok.

Samuel ·

Waarom haar so afkraak?? Enige tyd beter as Ramaphosa en kie. Ek het vriende in NZ wat tevrede is met haar en met wie dit goed gaan. Hulle woon al 25 jaar daar.

Witbaard ·

Hier is baie mense in SA wat tevrede is met Ramaposa ook en dit gaan goed met hulle ook. Dis nie te sê dit gaan goed met almal nie.

Hennie Biebouw ·

Ramaphosa en kie. is kwalik ‘n benchmark om enigeiets aan te meet. Die DA beheer die Wes Kaap nou al jare lank met “enigeiets is beter as die ANC” as hul enigste verkiesings credo…as jy mooi ingaan op wat hul doen, dan sal jy sien hul is maar bloot ANC Lite, wat geen inspirasies toon om meer as net ‘n provinsiale party te wees. Ardern het NZ baie skade aangedoen, daarom dat haar gewildheid op rekord laagtes is. Laas toe ek gekyk het was dit rondom 32%.

JD ·

n Premier wat openlik erken en lag daaroor om ‘n wig in die gemeenskap te skep agv mense se v-status, verdien wat sy/haar toekom.

Yolandie ·

New Zeeland vier seker fees met die nuus dat hulle ontslae is van Jacinda, diktator en New World order troep nes Justin Tredeau. Hopelik is hy volgende op die lys.

Janice ·

Vra die meerderheid Nieu-Seelanders hoekom sy en haar party eweskielik so ongewild geword het.

Ettienne ·

Sovêr ek dink ek weet beteken demokrasie dat ‘n party ingestem word deur die meerdeheid. Nou, vir ses jaar het die meerderheid haar in die kussings gehou…sê die hele proses nie meer van die New Zealand kiesers nie …?

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat wel bekommer is dat Ardern ‘n hogere pos kan kry by die VN. En daai plek wemel van linkse politici wat die wêreld omkrap met skewe besluite.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.