Jong renjaer sterf ná ongeluk in België

Dilano van ’t Hoff (Foto: Instagram)

Daar is hernude oproepe dat die ikoniese Spa-Francorchamps-renbaan in België se uitleg verander moet word nadat ʼn 18-jarige renjaer die naweek dood is toe hy aan ’n junior reeks deelgeneem het.

ʼn Botsing in die berugte Kemmel-pylvak het die lewe van Dilano van ’t Hoff geëis. Volgens berigte het Van ’t Hoff se motor ’n versperring teen meer as 200 km/h getref waarna ʼn ander motor teen Van ’t Hoff se motor gebots het.

Van ’t Hoff is die tweede junior bestuurder om in die afgelope vier jaar op die betrokke renbaan te sterf. Die Fransman Anthoine Hubert (22) is in September 2019 in ’n soortgelyke ongeluk dood.

Aston Martin se Lance Stroll meen die uitleg van die baan moet verander.

“Dit is ’n tragiese dag,” het hy gesê. “Ons het vandag ’n bestuurder verloor, so ek wil hê almal moet daaroor dink. Dit breek my hart. Dit is regtig gevaarlik. Ons sê dit elke jaar en dit is nie regverdig nie. Dit moet verander.”

Max Verstappen was versigtig om die baan te blameer vir Saterdag se ongeluk wat die lewe van ’n landgenoot geëis het.

Verstappen het gesê hy voel “ongelooflik hartseer” om te verneem van Van ’t Hoff se dood.

“Ek het hom nie persoonlik geken nie,” het hy gesê. “Hy was ’n Nederlandse renjaer, ’n opkomende jaer wat dieselfde drome gehad het as wat ons almal gehad het toe ons op daardie ouderdom was. Dit is ongelooflik hartseer vir die hele gesin en almal wat betrokke is.”

Hy het bygevoeg dat lesse uit die ongeluk geleer moet word, maar het gewaarsku die uitleg van die baan moet nie blameer word nie.

“Ons moet na hierdie soort situasies kyk. Dit is maklik om die baan te blameer, maar ek dink ook as ons kyk na hoe nat dit was en hierdie soort dinge, is daar beslis dinge waarna ons moet kyk vir die toekoms.

“Wat kan ons doen om die bestuurders beter te beskerm? Ek dink dit was regtig onnodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.