Jongste Everest-klimseisoen eis reeds talle lewens

Everest (Foto: Lakpa SHERPA/AFP)

Nog twee klimmers is op Everest dood en die dodetal staan reeds op nege met die jongste klimseisoen wat eers volgende maand tot ʼn einde kom.

Daar sterf gemiddeld vyf klimmers elke lente op die wêreld se hoogste piek van 8 849 meter. Die gebied bo 8 000 meter staan bekend as die “doodsone” weens die dun lug en lae suurstofvlakke wat die risiko van hoogtesiekte verhoog.

’n Maleisiese en ’n Chinese burger is die jongste slagoffers. “’n 55-jarige Maleisiese klimmer is vandag bo kamp vier dood terwyl hy besig was om af te klim sonder om die kruin te bereik,” het Nivesh Karki van Pioneer Adventure aan AFP gesê. Die Chinese bergklimmer is Donderdag dood.

Nepal het hierdie seisoen 478 permitte vir Everest aan buitelandse klimmers uitgereik. Aangesien die meeste ’n gids sal nodig hê, sal meer as 900 mense in totaal probeer om die piek te bereik.

Volgens Nepal se toerismedepartement het meer as 400 klimmers reeds die piek bereik sedert die jongste klimseisoen begin het.

’n 58-jarige vrou van Indië is Donderdag in ’n hospitaal dood nadat sy by ʼn basiskamp siek geword het. ’n Moldawiese klimmer is Woensdag by kamp vier dood op pad na die piek en nog ’n Nepalese lid van ’n span wat vullis van die berg verwyder het, is dood toe hy van die kruin teruggekeer het.

Drie Nepalese klimmers het verlede maand omgekom toe ’n blok gletserys geval het. ’n 69-jarige Amerikaanse bergklimmer is ook vroeër die maand dood.

In 2019 is 11 mense op Everest dood, met vier van die sterftes wat toegeskryf is aan te veel mense op die berg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Dis nie die moeite werd nie , glo ek. Dis gevaarlik , dis duur , dis baie tydrowend , daar is ontsettende opofferings en ontberinge . In heelwat gevalle is dit net ‘n ego-ding. Iets om mee te spog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.