Kameelperde weer in Angola-wildtuin hervestig

Die kameelperde word na die Iona-wildtuin vervoer (Foto: Casey Crafford via African Parks)

Veertien kameelperde het vandeesweek van Namibië in Angola aangekom. Dit vorm deel van ʼn natuurbewaringsorganisasie se poging om die spesie weer in die land te vestig ná dit tydens die dekades lange burgeroorlog hier uitgesterf het.

Die diere is van Namibië na die Iona-wildtuin, een van Angola se grootste parke, vervoer. Iona is naby aan die grens van die twee lande geleë.

African Parks het gesê dit is die eerste van “verskeie kameelperd-verplasings” as deel van ʼn “bewaringspoging om die park se biodiversiteit te herstel en te verryk”.

Die nieregeringsorganisasie staan onder leiding van prins Harry van Brittanje en bestuur 22 parke in Afrika wat 20 miljoen hektaar in 12 lande beslaan.

Volgens die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne (IUBN) is daar teen die laat 1990’s algemeen aanvaar dat kameelperde in Angola uitgesterf het.

ʼn Verslag in 2022 uit die wetenskaplike joernaal, Namibian Journal of Environment, het verduidelik die spesie, die Angolese kameelperd, “het plaaslik uitgesterf nog voor die 1980’s weens willekeurige stropery tydens die Angolese burgeroorlog”.

Stephanie Fennessy, uitvoerende direkteur en medestigter van die Namibiese Giraffe Conservation Foundation, het die oorplasing geloof in ʼn gesamentlike verklaring met African Parks.

Sy het gesê die hervestiging van die diere “in hul geskiedkundige ligging, verseker hul langtermyn oorlewing en dra by tot die herstel van die ekologiese balans in die streek”.

Angola se regering het die skuif as ʼn “merkwaardige mylpaal” beskryf.

Die diere het 36 uur padlangs gereis oor 1 300 km van ʼn privaat plaas in sentraal-Namibië.

Die kameelperde kom by Iona-wildtuin aan (Foto: Priya Tekriwal via Giraffe Conservation Foundation)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus W ·

Baie van ons soldate, wat vandag loop en spog met n pro patria of ander medalje, het van Angola en Namibie se wild vernietig – partykeer deur met masjiengewere uit helikopters op die diere te skiet. kolonel Jan Breytenbach [stigter van die recces en 32 bataljon] was so ontsteld daaroor, hy het n boek geskryf om dit te dokumenteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.