Kapt. Tom Moore sterf weens Covid-19

Kapt. sir Tom Moore (Foto: Justin TALLIS / AFP)

Kapt. sir Tom Moore wat in April verlede jaar net voor sy 100ste verjaardag harte regoor die wêreld laat vermurwe het toe hy £39 miljoen (sowat R840 miljoen) vir liefdadigheid in Brittanje ingesamel het deur in sy agterplaas met sy loopraam te stap, is dood weens Covid-19.

Moore was 100 jaar oud.

Volgens sy familie is Moore Dinsdagoggend in ʼn hospitaal in die suide van Engeland dood nadat hy verlede maand positief getoets het vir die koronavirus. Hy is voor sy dood vir longontsteking behandel en was dus nié nie teen Covid-19 ingeënt nie.

Sy dogters, Hannah Ingram-Moore en Lucy Teixeira, het in ’n verklaring gesê die laaste jaar van hul pa lewe was “niks anders as merkwaardig” nie.

“Hy was weer lewenslustig en het dinge beleef waaroor hy nog nooit gedroom het nie.”

Koningin Elizabeth II, wat Moore verlede jaar tot ridder geslaan het, het ná sy dood ʼn private boodskap aan sy familie gestuur om haar medelye te betuig.

Die Britse Premier Boris Johnson het op sy beurt gesê Moore is “nie net ‘n nasionale inspirasie nie, maar ook ʼn baken van hoop vir die wêreld en ʼn held in die ware sin van die woord.”

“In die donker dae van die Tweede Wêreldoorlog het hy vir vryheid geveg en in die aangesig van die land se diepste na-oorlogse krisis het hy ons almal verenig, ons almal opgevrolik en die triomf van die menslike gees beliggaam,” het die premier gesê.

Die London Eye, Wembley-stadion en die Blackpool-toring in Engeland was Dinsdagaand verlig om hulde te bring aan Moore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MakersMark ·

Hy was ‘n held. Kon gesit en kla het maar het opgestaan en geveg toe dit van hom gevra is. Salueer……vorentoe salueer…..SALUUT!!

Aikie ·

Daar was nou ‘n man wat met klein aksies groot dinge vermag het. Ons leedwese gaan uit na sy familie.

Stephen ·

Net tragies dat sulke goeie werk verlore moet gaan. Mens kan maar net wonder wie die voordeel trek daaruit.

Willem ·

Salute Captain Sir Tom Moore. May you rest in peace. Your life was an example of the durability of the human spirit and an example to us all.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.