Kipchoge in klas van sy eie

Eliud Kipchoge in aksie in Berlyn. Foto: Tobias Schwarz/AFP.

In langafstandkringe moet Eliud Kipchoge ongetwyfeld as die Red Bull-renmotor van marathons bekendstaan.

Die 37-jarige langasem van Kenia het vandag die Berlyn-marathon in 2:01:09 kafgedraf om sy eie wêreldrekord met 30 sekondes te verbeter.

Kipchoge het die eerste helfte van die 42,2 km-roete in minder as ʼn uur afgeblits en baie het gewonder of hy ook die eerste atleet sal word om die tweeuurkerf by ʼn amptelike wedloop te breek.

“Ek is baie tevrede met my voorbereiding en ek moet my span vir die vinnige wedloop bedank. Spanwerk speel immers ʼn beduidende rol in ʼn atleet se sukses,” het Kipchoge gesê.

Hy het in 2019 in Oostenryk die eerste persoon geword om ʼn marathon in minder as twee uur af te jaag, maar dit word nie as ʼn amptelike wêreldrekord erken nie.

Kipchoge, wat in Wene met ʼn merkwaardige tyd van 1:59:40 gespog het, is destyds deur 36 pasaangeërs in afwisselende groepe vergesel en dit is een van die redes waarom die internasionale atletiekbeheerliggaam dit nie as ʼn wêreldrekord beskou nie.

Volgens die merkwaardige atleet – wat ook met twee goue Olimpiese medaljes spog – word hy nie net deur sy gesin gemotiveer nie, maar ook deur die strewe om jong mense tot hoër hoogtes te inspireer.

  • Vorige marathonrekords:

2:06:05 – Ronald da Costa in 1998

2:05:42 – Khalid Khannouchi in 1999

2:05:38 – Khalid Khannouchi in 2002

2:04:55 – Paul Tergat in 2003

2:04:26 – Haile Gebrselassie in 2007

2:03:59 – Haile Gebrselassie in 2008

2:03:23 – Patrick Makou in 2011

2:03:23 – Wilson Kipsang in 2013

2:02:57 – Dennis Kimetto in 2014

2:01:39 – Eliud Kipchoge in 2018

2:01:09 – Eliud Kipchoge in 2022.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

As ek dit binne 2 ure doen en met my eie bene hardloop, sal ek dit as ‘n rekord wil aanvaar hê!!! Al het ek 1000 pas aangeers!!! Waar trek jy die verskil tussen 3 en 36? Dink hy het die naweek 3 gehad.

Daantjie ·

Ander sportsoorte met ouens soos Federer, Hamilton, Tom Brady, Christiano Ronaldo ens wat die kollig kry as die bestes ooit, dink ek nie Eliud Kipchoge kry naastenby die erkenning wat hy verdien nie – hoofsaaklik omdat hy ‘n stil en nederige man uit Kenya is. Sy rekords en amper BO-MENSLIKE tye wat hy hardloop in die maraton, is WERKLIK iets uit ‘n ander wêreld. Sy prestasies is letterlik so na aan die top punt van wat die menslike liggaam kan doen itv langafstand hardloop. Mag hy al die eer ontvang wat hom beskore is.

TRP ·

Ek stem saam met jou, hy verdien baie meer krediet en erkenning as wat hy kry. Ek kan nie eens dink teen die spoed wat hy hardloop. Ek self hardloop en kan nie eens droom om ‘n marathon in 4 ure klaar te maak laat staan 2.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.