Kletsbotwedloop: Gegons, geskarrel oor dié soort kunsmatige intelligensie

(Foto: iStock)

Daar’s ʼn gegons en ʼn geskarrel in die wêreld van tegnologie, want terwyl die Amerikaanse maatskappy OpenAI se kletsbot ChatGTP onlangs as die snelgroeiendste toepassing nóg aangewys is, skarrel China om blitsig ʼn teenvoeter te ontwikkel. Volgens Reuters het ChatGTP Beijing só aan die bewe, dat die wêreld se tweede grootste ekonomie vinnig sy sokkies sal moet optrek as hy in dié tegnologiewedloop wil byhou.

Verskeie Chinese tegnologiereuse, insluitende Baidu, Alibaba en Tencent, het die afgelope week aangekondig dat projekte soortgelyk aan ChatGTP tans in die ontwikkelings- en proeffase is. Baidu se interne proeflopies van sy Ernie Bot sal na verwagting in Maart vanjaar afgehandel wees en aan die publiek beskikbaar gestel word, berig Reuters.

Die felste stryd is egter tussen die tegnologiereuse Microsoft en Google. Dit kom nadat Microsoft sy vennootskap met OpenAI, die maatskappy agter ChatGPT, nóg verder versterk het. Ná ʼn aanvanklike belegging van $1 miljard (ongeveer R18 miljard), gaan Microsoft nóg minstens $10 miljard (sowat R180 miljard) in dié maatskappy pomp, berig Bloomberg. Dit kom op die rug van ʼn aankondiging in Januarie dat Microsoft 10 000 werknemers, of byna 5% van sy wêreldwye werknemers (dis nou vlees-en-bloed mense), gaan aflê.

Op 7 Februarie het Microsoft boonop aangekondig dat sy soekenjin, Bing, en webblaaier, Edge, getransformeer word met die bekendstelling van kunsmatige intelligensie (KI) op dié platforms. Microsoft het dié vernuwing heel vernuftig bemark as gebruikers se “medevlieënier vir die web” (oftewel “your co-pilot for the web”).

Volgens Satya Nadella, uitvoerende hoof van Microsoft, is die integrasie van OpenAI se nuwe ChatGPT-4-model deel van ʼn rewolusie wat nie net soekenjins gaan verbeter nie, maar byna elke sagtewarekategorie gaan hervorm.

(Foto: iStock)

Dié bekendstelling het Google, waarskynlik ietwat oorhaastig, genoop om ook sý kletsbot, Bard, bekend te stel. Selfs nog vóór die bekendstelling, het Bard Google se kleure van jaloesiegroen tot rooi van skaamte laat verander toe die advertensie van die Bard-bekendstelling foutiewe inligting bevat (of eerder kwytgeraak) het. Bard, wat nog slegs vir betagebruikers beskikbaar gestel is, het in dié advertensie appels vir vye probeer verkoop.

Die kletsbot-antwoord op ʼn vraag oor die nuwe James Webb-ruimteteleskoop was dat dié teleskoop die eerste foto van ʼn ekso-planeet geneem het. Die Europese VLT (Very Large Telescope) het dit egter reeds in 2004 gedoen. Dié feiteflater het sowat $100 miljard (9%) van Alphabet Inc., Google se moedermaatskappy, se markwaarde opgeslurp.

Vinnig veranderende landskap

Toe die internet nog woes en leeg was, was dit ʼn tydrowende en soms vrugtelose taak om aanlyn na inligting te soek. In 1990 kon jy met Archie soek na lêers wat op anonieme FTP-webwerwe (File Transfer Protocol) gestoor is, mits jy geweet het watter bevele om in te voer. Gopher het jou weer toegelaat om soektogte op bedieners reg oor die wêreld te doen.

Sedert die koms van die wêreldwye web in 1991 met sy grafiese interaksie (Graphic User Interface) het jy egter nie meer ʼn graad nodig om met ʼn blikbrein te werk nie. Yahoo! het in 1994 die era van die soekenjin ingelui, met ʼn gids van webwerwe wat jy net soos ʼn telefoongids moes gebruik.

Maar dit is Google wat sedert 1998 verreweg die oorheersende soekenjin is (én daarom ook ʼn werkwoord geword het), danksy die innoverende gebruik van algoritmes om resultate volgens relevansie te rangskik.

Soekenjins is deesdae ʼn onmisbare deel van ons daaglikse roetine. Dit is ons raakvlak met die res van die wêreld, waar jy onmiddellike antwoorde kan kry, ongeag hoe haastig of lastig jou vraag. En die integrasie van kletsbot en soekenjin is dus die logiese volgende tegnologietree.

Die OpenAI-maatskappy is in Desember 2015 met donasies op die been gebring. Aanvanklik was dit ʼn maatskappy sonder winsbejag wat ten doel gehad het om KI te ontwikkel “op ʼn manier wat vir die mensdom in geheel tot voordeel sal wees”. Benewens navorsing, het OpenAI ook DALL-E ontwikkel, ʼn platform waar gebruikers digitale foto’s of prente kan skep deur ʼn beskrywing van die eindproduk in te voer.

Waarom die gegons oor kletsbotte?

Die protagonis in die Hollywood-fliek Short Circuit, wat in 1986 vrygestel is, is een van ʼn reeks eksperimentele militêre robotte. Nadat ʼn weerligstraal hom tref, het Nommer Vyf skielik ʼn mensagtige intelligensie met ʼn reusehonger vir kennis (“Input! Input!”).

Nommer Vyf verander blitsvinnig van ʼn dodelike moordwapen na ʼn hippie grapmaker, danksy die vermoë om ontsaglike hoeveelhede data in te neem en dit te kommunikeer. Spoel die kasset 37 jaar vorentoe, en ontmoet die rakker wat jou nuwe raakvlak met die internet gaan word – die kletsbot.

Kletsbotte of geselsbotte (in Engels bekend as “chatbots”) is programme wat van KI gebruik maak om geskrewe of gesproke gesprekke met menslike gebruikers na te boots. Dié tegnologie het die afgelope paar jaar drasties verbeter sedert die eerste kletsbot, Eliza, in die sestigerjare geskep is.

(Foto: iStock)

Volgens ʼn 2020-artikel, gepubliseer in die vaktydskrif Machine Learning with Applications, het verskeie kletsbotte, insluitende Jabberwacky wat in 1988 die eerste kletsbot was om KI te gebruik, op Eliza gevolg. Die ontwikkeling van SmarterChild in 2001 word egter as een van dié belangrikste gebeure in kletsbotgeskiedenis geag, aangesien dit die eerste kletsbod was wat gebruikers met “praktiese daaglikse take” kon bystaan.

Sedertdien het kletsbotte begin migreer en hul snoesig op die slimfoon in jou broeksak kom tuismaak. Verskeie virtuele assistente soos Apple se Siri, Amazon se Alexa en Google Assistant is in onderskeidelik 2010, 2014 en 2016 bekendgestel, en hoewel sommige meen dat dié digitale helpers nie kletsbotte in die volle sin van die woord is nie, word dit oor die algemeen in dieselfde kamp geplaas.

Met die bekendstelling van ChatGPT (die GPT staan vir “Generative Pretrained Transformer”) in November verlede jaar, het dié kletsbot egter vir homself ʼn plek in die geskiedenisboeke ingeskryf (en seker nog die storie daaroor self gegenereer!). Dié model kan sonder veel moeite artikels, opstelle, liedjies, somme en selfs gedigte in reaksie op gebruikers se versoeke optower – selfs in (vrotterige) Afrikaans!

OpenAI se webblad beskryf dié kletsbot as ʼn model wat in gespreksformaat reageer. En net soos ʼn eggenoot met die geheue van ʼn olifant, onthou ChatGPT wat die gebruiker vroeër in die gesprek gesê het. Boonop raak dié een slimmer en slimmer by die dag, want met elke stukkie terugvoer wat die kletsbot ontvang, leer dit as’t ware om die inhoud wat dit genereer, te verbeter.

Met 100 miljoen maandelikse aktiewe gebruikers wat dié platform teen Januarie vanjaar gebruik het, leer dié kletsbot teen die spoed van wit lig. Die tydskrif Time het vroeër vandeesmaand berig dat dit Instagram twee en ʼn half jaar geneem het om die 100 miljoen-kerf te bereik, terwyl TikTok dit ná nege maande gehaal het. ChatGPT het dié mylpaal ná slegs twee maande oortref.

ChatGPT het vroeër vier regseksamens aan die Universiteit van Minnesota geslaag met ʼn baie gemiddelde C+. Met ʼn bestuurskursus aan die Universiteit van Pennsilvanië se Warton-sakeskool het die kletsbot ʼn bietjie beter gevaar deur ʼn B tot B- te verwerf. Uit vrees dat studente die model kan gebruik om eksamens en werkstukke te skryf, is dit reeds in verskeie skole en universiteite in Indië, Frankryk en die VSA verban.

As ʼn antwoord op hierdie vrees, het OpenAI die AI Text Classifier ontwikkel as ʼn manier om vas te stel of teks deur KI of ʼn mens geskryf is. In hierdie stadium is die AI Text Classifier egter nog effens besluiteloos wanneer dit by die beoordeling van mensgeskrewe teks kom. Nadat ʼn gedeelte van Shakespeare se Winter’s Tale in die AI Text Classifier-webwerf gevoer is, was die uitspraak dat dit “onduidelik” is of dit KI-geskrewe is.

Op eie bodem is daar eweneens gemengde reaksie oor die voordele én risiko’s wat KI-stelsels soos ChatGTP inhou.

KI nie meer só vreemd én hier om te bly

Prof. Alta van der Merwe, adjunkdekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, Bou-omgewing en Inligtingtegnologie aan die Universiteit van Pretoria, meen die gebruik van KI is relatief algemeen. Dit word reeds suksesvol in onder meer die sekuriteit- en vervoerbedryf toegepas. In die mediese bedryf word KI byvoorbeeld gebruik om kanker op skanderings te identifiseer wat nie met die blote oog gesien kan word nie.

Hoewel Van der Merwe reken dat ChatGTP sekere leemtes het, glo sy dat dié tegnologie die wêreld op sy kop gaan keer. “Ek glo dit het gekom om te bly en dit gaan net beter en beter word. ChatGPT is nog in sy kinderskoene, maar kan alreeds van hulp wees met roetinetake en om opsommende werk te doen. Ons gaan die gebruik daarvan nie kan keer nie, net soos mense nie ander vooruitgang soos die gebruik van die wiel of die gebruik van sakrekenaars kon keer nie.”

Wat die gebruik van dié tegnologie in onder meer die onderwys betref, meen Van der Merwe, sal krities te werk gegaan moet word. Sy waarsku: “Aan die einde van die dag kom die inligting van die web en is nie noodwendig alles waar wat geskryf word nie.” Tog bied hierdie tegnologie soveel opwindende moontlikhede, meen sy. “Ek dink die toekoms is opwindend. Ons beweeg nou in ʼn fase in waar as jy nie verskeie keer in jou loopbaan heropgelei gaan word nie, jy vervang gaan word.”

Kletsbotte vs. die kreatiewes

Twee KI-foto’s wat die grafiese ontwerper Linki Brand deur Midjourney geskep het. Haar voorskrif (instruksie) vir die grafika van die man met die duif was (in Engels): “Suid-Afrikaanse boer wat ʼn duif sagkuns vashou, melancholies, foto geneem met Bellows-kamera.” Bron: Linki Brand/Midjourney (Foto: Verskaf)

Linki Brand, ʼn Suid-Afrikaanse kinderboekillustreerder en beroepsopvoedkundige vir grafiese ontwerpers wat tans in Noorweë woon, het al verskeie kinderboeke vir veral Lapa Uitgewers, ʼn afdeling van Penguin Random House South Africa, geïllustreer. Boeke deur Afrikaanse topskrywers soos Fanie Viljoen, Wendy Maartens en Jaco Jacobs het reeds deur haar kleurvolle illustrasies lewe gekry.

Die koms van AI-tegnologie, soos Midjourney, wat hiperrealistiese grafika genereer, laat dié kunstenaar met gemengde gevoelens. As illustreerder bestempel sy hierdie tegnologie as “rampspoedig”, juis aangesien die KI-modelle boonop leer uit die style en voorbeelde van bestaande kunstenaars.

Die Society of Illustrators, die oudste organisasie sonder winsbejag wat hom toespits op die kuns van illustrasies in die VSA, het in Desember 2022 in ʼn verklaring aangekondig dat dit gekant is teen die kommersiële gebruik van KI-gegenereerde kuns. Voorts laat die vereniging geen KI-werk toe in enige jaarlikse toekennings nie.

As grafiese ontwerper meen Linki egter dat KI ʼn “ongelooflike instrument is”. Sy leer selfs haar studente om dié tegnologie te omarm en leer hulle die sogenaamde “art of the prompt”-konsep. Deur die “kuns van opdraggewing” te bemeester, meen sy, kan studente beter KI-grafiese ontwerpe skep. Dus: hoe beter die versoek aan die bot, hoe beter die resultaat.

“Daar is soveel om te ontdek en as grafiese ontwerper sien ek dit as ʼn bykomende hulpbron wat jy saam met jou sagteware kan gebruik,” verduidelik sy. Sy haal ʼn meme aan wat haar geraak het: “AI won’t take your job, but someone using AI will.”

Twee KI-foto’s wat die grafiese ontwerper Linki Brand deur Midjourney geskep het. Haar voorskrif (instruksie) vir die grafika van die man met die duif was (in Engels): “Suid-Afrikaanse boer wat ʼn duif sagkuns vashou, melancholies, foto geneem met Bellows-kamera.” Bron: Linki Brand/Midjourney (Foto: Verskaf)

Kletsbotte, KI en kwesbare beroepe

Daar is reeds die afgelope paar maande gegis oor beroepe wat vanweë die koms van kletsbotte soos ChatGPT deur uitwissing in die gesig gestaar word. In ʼn artikel deur Business Insider South Africa is programmeerders, sagteware-ingenieurs, finansiële adviseurs, regsassistente en verskeie beroepe in die media (insluitende joernaliste) beroepe wat moontlik in die toekoms oortollig kan word.

Marisa Engelbrecht, beroepsnetwerkspesialis by Solidariteit, is egter nie so sinies oor die toekoms van dié beroepe in ʼn kletsbot-era nie. “Nuwe tegnologie is opwindend en skep baie nuwe geleenthede, maar dit kan nie die mens vervang nie,” verduidelik sy. Sy moedig beroepslui aan om eerder kennis te maak met dié tegnologie en dit tot hul voordeel te gebruik. “Jy gaan inligting wat jy op dié manier bekom moet verifieer en besluit of jy dit wil gebruik,” sê sy.

Aan die etiese kant, waarsku Engelbrecht dat sekere kwessies deur die gebruik van kletsbotte kan opduik. In een bemarkingsdokument wat sy deur ChatGTP geskep het, het die platform byvoorbeeld fopfeite en aanhalings deur ʼn hoof van ʼn motorvervaardiger geskep. Die gebruik van inligting van dié aard sal dus geheel oneties wees, meen Engelbrecht. Die verantwoordelikheid berus by die gebruiker om verantwoordelik met tegnologie om te gaan én feite na te gaan.

Skrikwekkend goed

Die miljardêr Elon Musk en een van die stigters van OpenAI, meen ChatGPT is “skrikwekkend goed”. In ʼn antwoord op dié twiet van Twitter-baas Musk, het Sam Altman, uitvoerende hoof van OpenAI, beaam dat ChatGPT “gevaarlik sterk” is.

Van die gevare wat op die webwerf InfoSecurity genoem word, sluit in:

  • Sosiale ingenieurswese: Deur ChatGPT se realistiese taalgebruik kan slagoffers oorreed word om sensitiewe inligting te verskaf of skadelike sagteware af te laai. Die kletsbot se vermoë om kwaadwillige en massa-e-posboodskappe te outomatiseer, skep die gevaar vir grootskaalse kuberaanvalle.
  • Die vermoë van ChatGPT om individue se skryfstyl na te boots kan kuberaanvallers in staat stel om slagoffers te mislei omdat ʼn e-pos- of Facebook-boodskap net soos ʼn spesifieke persoon klink.
  • Die skeppingsvermoë van hierdie tegnologie stel ChatGPT in staat om advertensies, lyste of enige ander valse bemarkingsmateriaal te skep.

Wat hou die toekoms dan in? Gaan dit wees soos wat die Britse fisikus Stephen Hawking gewaarsku het, toe hy in 2014 aan die BBC gesê het “die ontwikkeling van volledige kunsmatige intelligensie kan die einde van die mensdom beteken”?

Soos televisie in die vorige eeu en ander tegnologiese uitvindings oor die eeue heen, is KI en hulpmiddels soos ChatGPT hier om te bly. Dit is onlosmaaklik deel van menslike ontwikkeling en moet volgens kenners eerder omarm as teengestaan word. OpenAI beloof met sy nuwe ChatGPT Plus-betaalopsie (teen $20 per maand) op die koop toe ʼn vinniger en verbeterde kletsbot-ervaring.

Hoewel kletsbotte en die integrasie met soekenjins sekere beroepe meer as ooit te vore kan uitdaag of selfs oorbodig kan maak, bring dit ook ʼn magdom moontlikhede. Geen masjien of robot sal egter ooit die mens se kreatiewe vermoë om inhoud “met ʼn hartklop” te skep, saam te voeg of te redigeer, volkome vervang nie.

Soos kenners op die JournalismAI-webwerf maan: “Wees gebalanseerd in jou benadering tot die ChatGPT. Verstaan die tegnologie en wees bewus van die beperkings wat dit bring. Wees versigtig en verantwoordelikheid indien jy kies om dit te gebruik en raak opgewonde oor die moontlikhede om jou werk beter, vinniger en makliker te maak.”

Die Amerikaanse Society of Illustrators maak in hul verklaring dit duidelik – KI-kuns is nie welkom nie. Bron: https://societyillustrators.org/statement/ (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magda ·

Moenie die inligting net vertrou nie. My dogter het al baie vals in half korrekte inligting ontvang. Bv lys boeke by ‘n instansie gesoek wat na 2017 uitgegee is oor ‘n onderwerp. Meeste van die bronne was foutief – datum van uitgawe, outeurs, of het glad nie bestaan nie…. :(

Retha ·

Het ChatGPT gister weer probeer, toe is website gesluit weens die hoë verkeer. Nou nog toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.