Kleuter deur babahondjies verskeur

Felicity Peden (Foto: GoFundMe)

ʼn Tweejarige dogtertjie van Kalifornië in die VSA is ernstig beseer nadat vier Labrador-kruising-babahondjies haar sowat twee weke gelede aangeval het.

Daily Mail berig die blondekop dogtertjie, Felicity, was byna onherkenbaar vermink ná die hondjies haar beetgekry en verskeur het. ’n Stuk van haar oor is afgeskeur en sy het diep skrape oor haar gesig opgedoen. Haar bolyf en nek was ook vermink.

Boonop het haar niere in die hospitaal begin ingee weens die trauma op haar liggaam en moes sy dialise ondergaan. Haar liggaam het ʼn paar dae later gestabiliseer.

Felicity is sewe dae ná die voorval uit die hospitaal ontslaan (Foto: GoFundMe)

Die kleuter is ’n week ná die voorval uit die hospitaal ontslaan. Sy het ’n rekonstruktiewe operasie aan haar oor ondergaan, maar die dokters kon nie veel van haar oor red nie – behalwe vir haar oorlel en binneoor.

Felicity het ook skade aan die spiere in haar gesig, arms en bene opgedoen. Volgens die dokters sal sy in die nabye toekoms baie operasies moet ondergaan.

Die honde is ná die voorval na ’n skuiling gestuur vir hervestiging.

Die voorval het op 3 Junie by die Peden-gesin se huis plaasgevind. Felicity se ma, Michele Peden (30), het die huis verlaat om inkopies te gaan doen terwyl haar man by die huis gebly het met die kinders.

Binne tien minute nadat Peden die huis verlaat het, het sy die oproep gekry wat elke ouer vrees – haar dogter is deur die honde aangeval.

Die familie het die vier babahondjies in Mei op drie weke oud aangeneem. Die honde, genaamd Amarah, Negan, Gideon en Keerah, het volgens Peden geen tekens van aggressie getoon nie.

Twee van die babahondjies (Foto: GoFundMe)

Daar word vermoed dat die diere aan werpselmaat-sindroom gely het, wat gedragsprobleme kan veroorsaak wanneer twee of meer babahondjies saam grootgemaak word – buite die tydperk wat professionele telers aanbeveel (normaalweg tien weke).

Dit kan tot ʼn hele reeks gedragskwessies aanleiding gee.

Met Felicity nou op die herstelpad, het Peden besluit om oor die voorval te praat om te verhoed dat ander ouers dieselfde oorkom.

“Ek moes nie vir Felicity alleen by die honde gelaat het nie en aanvaar ten volle verantwoordelikheid vir wat gebeur het. Ek voel ook skuldig dat ek nie die tekens vroegtydig gesien het nie,” het Peden aan Daily Mail gesê.

Peden is bekommerd dat die voorval ’n ewige emosionele letsel op Felicity sal laat en dat sy nie meer die “vreugdevolle dogtertjie” sal wees wat sy altyd was nie.

Felicity sal oor vyf jaar verdere plastiese chirurgie aan haar gesig kan ondergaan. Dokters gaan dan ook ’n deel van haar rib laat verwyder om ’n nuwe oor te bou.

Die familie het ook ’n GoFundMe begin om geld in te samel vir Felicity se stygende hospitaalrekeninge. Die fonds staan tans $9 000 (R144 000) en die familie beoog om in totaal $25 000 (R400 000) in te samel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mandie ·

So jammer dat dit met hierdie pragtige dogtertjie moes gebeur het, ek wil net sê dat daardie hondjies beslis eerder Pitbull kruisings is (nie dat dit ñ verskil maak nie) hulle is baie meer pitbull as labrador.

Ann ·

Daai honde is nie Labrador kruisings nie!!! Dit lyk vir my meer na pitbul. Ek lees nie gewoonlik sulke berigte nie want dit upset my net, maar ek moes kyk of dit wel Labradors is.
Labradors is van die sagste honde wat ek ken! Hulle is nie aggressief as hulle klein is nie – beslis nie!

Ek hoop die dogtertjie herstel.

Elize ·

Labrador? Kruising lyk eerder na Pitbulls. Nog nooit gehoor Labradors doen dit nie. Mense moet ophou om enige honde te kruis. Jy kan monsters uitbroei

Dries ·

Labrador gekruis met Pitbull. Kan dit duidelik sien. Labrador sal dit NOOIT doen nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.