Klimaataktiviste gom hulself vas aan skildery

Lazarus en Hunt het met wit T-hemde met die slagspreuk “Just Stop Oil”, elkeen ʼn hand op die raam van die skildery geplaas (Foto: JustStopOil, Twitter)

Klimaataktiviste het Maandagmiddag hul hande aan ’n skildery van John Constable, bekende Engelse skilder, in die National Gallery in Londen vasgegom.

Dit is glo om hul eie “apokaliptiese visie van die toekoms” en wat “die klimaatsineenstorting aan hierdie landskap sal doen” uit te beeld.

BBC berig twee aktiviste van die Just Stop Oil (JSO)-veldtog, geïdentifiseer as musiekstudent Eben Lazarus (22) en sielkundestudent Hannah Hunt (23), is teen 16:40 in hegtenis geneem. Dit is twee uur nadat hulle hul hande aan die raam van die skildery, The Hay Wain, geskilder in 1821, vasgegom het. Albei studente is van Brighton.

Lazarus en Hunt het met wit T-hemde met die slagspreuk “Just Stop Oil”, elkeen ʼn hand op die raam van die skildery geplaas. Hulle het onder die skildery gekniel voordat hulle luidkeels geëis het dat die uitreik van nuwe olie- en gaslisensies in die Noordsee beëindig moet word.

The Hay Wain is een van die bekendste skilderye in die National Gallery. In die skildery verbeeld Constable ’n plattelandse Suffolk-plaas uit. Bo-oor die doek waarop die skildery geverf is, het die twee hul eie voorstelling aangebring met ʼn ou voertuig voor ʼn meule en ʼn wasmasjien op ʼn wa. Daar is ook twee vliegtuie in dié voorstelling.

Kunsliefhebbers, toeriste en skoolkinders het inderhaas die galery verlaat tydens dié voorval.

Sky News berig Lazarus, wat homself as ʼn kunsliefhebber beskryf, het gesê dat kuns belangrik is en dat dit vir toekomstige geslagte bewaar moet word. “Maar wanneer daar nie kos is nie, watter nut het kuns dan?” het hy gevra.

“Wanneer daar nie water is nie, watter nut het kuns dan? Wanneer miljarde mense in pyn en lyding verkeer, watter nut het kuns dan? Ons het ʼn herverbeelde weergawe van The Hay Wain vasgeplak wat ons pad na ʼn ramp aandui.”

Die skildery is ná die voorval van die muur verwyder en deur die galery se bewaringspan ondersoek wat bevind het dat geringe skade aan die raam en oppervlak van die vernislaag op die skildery aangerig is.

Aktiviste van JSO het na bewering verlede week ook ʼn Skotse kunsgalery geteiken en Sondag se Britse Grand Prix bestorm.

’n 19de-eeuse landskap van Horatio McCulloch, My Heart’s In The Highlands, was die teiken van vyf JSO-aktiviste wat ook na bewering die groep se logo op die mure en vloer van Glasgow se Kelvingrove-kunsgalery en -museum gespuit het.

Vyf aktiviste – vyf mans, tussen 21 en 46 jaar oud – is by die Grand Prix in hegtenis geneem toe hulle die openingsronde van dié wedren ontwrig het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pieter9 ·

Hoe meer ‘links, hoe meer’ groen’ hoe meer woke, hoe groter die dwaling!

Andre ·

Ek hoop hulle het al die boosters gekry voor die vrylating.

Robert ·

Geklee in klere gemaak uit olie en steenkool… en die gom ook.

VaalDonkie ·

Wanneer die Here weer kom gaan Hy baie kwaad wees vir ons.

Johannes_64 ·

Vreemd hoe mense wat blootstelling het aan alles wat in die moderne tyd tot hulle beskikbaar is so maklik met propaganda omgegooi kan word. Die klimaat verander verseker, die versteende woude in die woestyne in Patagonia, en in Noord Amerika bewys dit. Maar wat veroorsaak dit dat mens nou nodig het om gom so te mors?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.