Komediant verloor stryd teen Parkinson se siekte

Richard Lewis. (Foto: Jason Kempin/AFP)

Die Amerikaanse akteur en komediant Richard Lewis is Dinsdagaand in die ouderdom van 76 na ʼn stryd teen Parkinson se siekte oorlede.

Jeff Abraham, Lewis se publisiteitsbestuurder, het Woensdag dié nuus in ʼn verklaring aan Amerikaanse nuuspublikasies bekend gemaak.

Luidens die verklaring is Lewis rustig in sy slaap dood kort nadat hy ʼn hartaanval gehad het.

Lewis het in April verlede jaar aangekondig dat Parkinson se siekte by hom gediagnoseer is en dat hy uit die kollig tree.

As skerpsketser en bekend vir sy selfveragtende humor was Lewis te sien in reekse soos Anything but Love teenoor Jamie Lee Curtis en in Curb Your Enthusiasm.

Curtis het Woensdag ʼn reeks foto’s van haar Lewis op Instagram gedeel en geskryf dat hy haar op haar pad na soberheid gehelp het.

“Hy was ʼn wonderlike akteur. Diep en so vrek snaaks. Hy is ook die rede waarom ek sober is. Hy het my gehelp. Ek is hom ewig dankbaar vir daardie daad van genade alleen. Ek huil terwyl ek hier skryf – wat ʼn vreemde manier om dankie te sê vir ʼn lieflike en snaakse man. Rus sag, Richard.”

Lewis word oorleef deur sy vrou van 19 jaar, Joyce Lapinsky. Die egpaar het nie kinders gehad nie.

Bronne: BBC, CNN.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.