Kompromie oor klimaat, Oekraïne by G20-beraad

ʼn G20-installasie by die internasionale mediasentrum op die vooraand van die G20-beraad in Nieu-Delhi (8 September 2023) (Foto: Ludovic Marin/AFP)

Narendra Modi, eerste minister van Indië, het Sondag die G20-beraad afgesluit waar verdeeldheid oor die oorlog in Oekraïne en klimaatsverandering onderspeel is, maar hom ʼn oomblik in die diplomatieke kollig gegee het.

G20-leiers het ʼn groot verdeeldheid oor die oorlog in Oekraïne sedert Moskou se besetting verlede jaar, met Russiese president Wladimir Poetin wat die beraad heeltemal vermy het om ʼn politieke skandaal te voorkom.

Leiers van die groep van 20, wat Rusland en China saambring, asook sommige van Oekraïne se grootste ondersteuners, het gesukkel om oor talle dinge saam te stem, veral die inval in Oekraïne.

Indië het lidstate gedruk om Saterdag ooreen te kom oor ʼn algemene verklaring wat die gebruik van mag vir terreinwins veroordeel, maar weg te skram van direkte veroordeling van Rusland.

Kiëf het gesê die G20 het “niks om oor trots te wees nie” maar Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lawrof, wat namens Poetin die beraad bygewoon het, het Sondag ʼn diplomatieke oorwinning gevier. “Ons was in staat om die Weste se pogings, om die beraad se agenda te ‘verOekraïniseer’ voorkom,” het die veteraan diplomaat gesê. Hy beskryf die twee dag lange byeenkoms as ʼn sukses.

Modi het Sondag die beraad formeel afgesluit en ʼn seremoniële voorsittershamer aan Brasilië se president Luiz Inacio Lula de Silva oorhandig, wie se land in Desember die groep se presidentskap oorneem.

Indië se eerste minister Narendra Modi (middel) spreek die G20-beraad toe by Bharat Mandapam in Nieu-Delhi (9 September 2023) (Foto: Ludovic Marin/Pool/AFP)

“Ons kan nie toelaat dat geopolitieke kwessies die G20-agenda in beslag neem nie,” het Lula gesê – ʼn stilswyende verwysing na die twis oor die oorlog in Oekraïne. “Ons het geen belang in ʼn verdeelde G20 nie. Ons het vrede en samewerking nodig in plaas van konflik.”

Amitabh Kant, staatsdiensamptenaar in Indië, het op X (Twitter) gesê die teks oor Oekraïne is saamgestel ná “meer as 200 uur van onophoudelike onderhandelings, 300 bilaterale vergaderings en 15 konsepdokumente”.

Ten spyte daarvan dat die vergadering plaasvind in waarskynlik die warmste jaar in mensegeskiedenis (aldus die EU se klimaatsmonitor), kon die leiers nie ooreenkom oor ʼn uitfasering van fossielbrandstof nie, ondanks ʼn VN-verslag die dag tevore dat dit “onontbeerlik” is om net-zero-uitlatings te bereik.

Hulle het wel ʼn teiken ondersteun om hernubare kapasiteit teen 2030 te verdriedubbel, terwyl daar slegs ooreengekom is oor die laer verbruik van steenkool “in lyn met nasionale omstandighede”.

G20-lede Rusland en Saoedi-Arabië is groot olie-uitvoerders en steenkoolverbruik neem toe in China en Indië – reeds die wêreld se grootste verbruikers van vuil brandstof.

Modi het die beraad beskryf as Indië se diplomatieke mondigwording en is gretig om ʼn permanente sitplek te bekom in die VN-veiligheidsraad. Hy het ook die insluiting van die 55-lid-Afrika-Unie tot die G20 gevier.

As die G20, ʼn groep van 19 lande en die Europese Unie wat 85% van die wêreld se BBP verteenwoordig, is Suid-Afrika die enigste lidstaat van die Afrika-vasteland.

Modi wou Nieu-Delhi posisioneer as ʼn stem vir die globale suide en die skuif het die groepering verander in ʼn “volks-G20”.

Hy het ʼn digitale G20-leiersberaad voorgestel in November, wat die moontlikheid oopstel vir Poetin om die beraad by te woon saam met China se Xi Jinping, wat ook hierdie naweek se beraad misgeloop het terwyl Asiese reuse koppe stamp oor gebied- en ander kwessies.

Lula het gesê Poetin sal volgende jaar se byeenkoms in Rio de Janeiro kan bywoon, selfs al is Brasilië deel van die Internasionale Strafhof wat ʼn lasbrief vir die Russiese leiers se inhegtenisneming uitgereik het oor oorlogsmisdade.

“As ek die president van Brasilië is en as hy na Brasilië toe kom, is daar geen manier dat hy in hegtenis geneem sal word nie,” het hy Saterdag aan die Indiese nuusnetwerk Firstpost gesê.

Ander wêreldleiers het op die kantlyn van die beraad vergader, waaronder Turkse president Recep Tayyip Erdogan wat Sondag vir die eerste keer in 10 jaar van aangesig tot aangesig vergader het met sy Egiptiese eweknie Abdel Fattah al-Sisi.

Wêreldleiers het vroeër by Modi aangesluit om hul resep te toon aan die Indiese onafhanklikheidsheld Mahatma Gandhi. Hulle het hul skoene uitgetrek op die perseel waar hy veras is, waar tradisionele skoene verbied word as ʼn teken van respek.

Net soos Modi het talle kaalvoet op die natgereënde perseel rondgeloop, insluitend Britse eerste minister Rishi Sunak en Franse president Emmanuel Macron. Ander, soos Amerikaanse president Joe Biden het pantoffels verkies.

Ná ʼn Hindoe- geestelike lied het die wêreldleiers vir ʼn oomblik stil gestaan voor hulle kranse op die marmersteen gelê het waar ʼn ewigheidsvlam Gandhi se nalatenskap gedenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.