Koningshuis ‘oorweeg opsies’ ná skokonthulling

(Foto: The Royal Family/X)

Buckinghampaleis oorweeg sy opsies nadat die Britse televisiepersoonlikheid Piers Morgan Donderdagoggend op sy regstreekse oggendprogram op TalkTV die name onthul het van die koninklikes wat glo destyds rassistiese opmerkings gemaak het oor prins Harry en Meghan Markle se (toe ongebore) seun, Archie.

Daar was heelwat bespiegeling nadat Harry en sy vrou, Meghan, die bewering in ʼn omstrede TV-onderhoud in Maart 2021 oor hul ervarings as deel van die koninklike familie gemaak het.

Harry se ouma, wyle koningin Elizabeth II, het later gesê mense se herinnering aan wat gesê is, kan moontlik verskil.

Sy ouer broer, prins William – troonopvolger van hul pa koning Charles III – het ook deurlopend volgehou die koninklikes is “beslis nie ʼn rassistiese familie” nie.

Harry en Meghan, wat die koninklike familie vroeg in 2020 vaarwel toegeroep het en hulle in die VSA gaan vestig het, het sedertdien ontken dat hulle die familie van rassisme beskuldig het en daarop gesinspeel dat daar eerder “onbewustelike vooroordeel” is.

Die bewerings is terug in die nuus omdat die Nederlandse weergawe van ʼn nuwe boek deur die koninklike kommentator Omid Scobie die name van die twee koninklikes noem – wat beteken het die weergawes wat dié inligting bevat, moes vernietig word.

Morgan, ʼn voormalige poniekoerantredakteur wat Harry en Meghan in die verlede al fel gekritiseer het, het daarna die koninklikes se name openlik bekend gemaak om wat hy noem “oop debat” daaroor aan te wakker.

Hy het kykers van TalkTV op sy program Uncensored Woensdagaand meegedeel dat hy nie glo dat enige rassistiese opmerkings ooit deur ʼn lid van die Britse koninklike familie gemaak is nie.

“En tot daar werklike bewyse is dat die opmerkings gemaak is, sal ek dit nooit glo nie.”

Harry saam met klein Archie. (Foto: Instagram)

Meghan, in die egpaar se onderhoud met kletskoningin Oprah Winfrey, het beweer een persoon het die opmerking oor Archie gemaak en nie twee mense soos Scobie in sy boek beweer nie.

Op ʼn versoek om kommentaar het ʼn bron in die koningshuis gesê hulle “oorweeg alle opsies”.

Die Britse Daily Telegraph berig dat dit regstappe kan insluit.

Scobie, wat die medeskrywer van ʼn beeldpoetsbiografie oor Harry en Meghan was, sê dat hy op regsaanbeveling nie die koninklikes in die Engelse weergawe van die boek, Endgame, geïdentifiseer het nie.

Die Nederlandse vertaler van die boek, Saskia Peeters, sê die name was in die manuskrip wat aan haar gestuur is, luidens die Daily Mail-webwerf.

“As ʼn vertaler vertaal ek wat voor my is,” het sy aan MailOnline gesê.

“Die name van die koninklikes was daar, in swart en wit. Ek het dit nie bygevoeg nie. Ek het net gedoen wat ek betaal is om te doen en dit was om die boek van Engels na Nederlands te vertaal.”

Die Britse mediahandelstydskrif Press Gazette sê Morgan loop die gevaar van ʼn lastersaak teen hom omdat hy die bewering herhaal het.

Regskenners sê egter die kans dat dit sal gebeur is geweldig skraal, veral omdat dit die name van diegene wat glo die opmerkings gemaak het, in die openbare domein plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pannies ·

Harry en Meghan lieg kort-kort iets by om publisiteit te kry. Aanvaar nou dat julle nie koningshuis materiaal is nie, en gaan aan met jul Jan Allemans lewe.

kommentaar ·

Mense moet onthou dat Piers Morgan net gesê het wat Megan aan Scobie gesê het, en wat Megan sê weet ons mos almal is gewoonlik gebaseer op feetjies in wonderland stories……

Minnie ·

Beste besluit van Harry om sy gesin uit die kloue van die vals koningshuis te neem. Koning en kie dra niks by tot die vooruitgang van Engeland nie. Harry het net gedoen wat sy ma sou verwag het. Hy en William het bewyse dat hul ma vermoor was, maar geld en aansien is meer belangrik vir William as sy gesin. Hy volg al klaar in sy pa se voetspore tov ander vroue……

JohanR ·

Hoe weet die koonlike huis watter kleur Archie is? Het hom nog net in fotos gesien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.