Koronavirus: Eerste sterfte buite China aangemeld

(Argieffoto: Chinatopix/AP)

Die Filippyne het Sondag die eerste sterfte buite China weens die nuwe koronavirus aangemeld.

In die provinsie in dié land wat die swaarste deur die virus getref is, word slegs een lid van ʼn familie toegelaat om die huis te verlaat om inkopies te gaan doen en kwarantynmaatreëls is reeds beduidend verskerp.

Die Filippynse departement van gesondheid het gesê die 44-jarige Chinese man van Wuhan is op 25 Januarie in ʼn hospitaal opgeneem weens koors, hoes en ʼn seer keel. Hy het ernstige longontsteking ontwikkel en in sy laaste paar dae was “die pasiënt in ʼn bestendige toestand en het hy tekens van verbetering getoon. Sy toestand het egter oor die afgelope 24 uur versleg en tot sy dood gelei”.

Die man se 38-jarige metgesel, ook van Wuhan, het ook positief vir die virus getoets en word steeds in ʼn isolasiesaal in Manila behandel.

Pres. Rodrigo Duterte het ʼn tydelike verbod geplaas op alle reisigers, buiten Filippyne, wat uit China en sy outonome streke kom, om die land binne te kom. Die VSA, Japan, Singapoer en Australië het reeds soortgelyke beperkings ingestel, ondanks kritiek van China en ʼn assessering van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) dat dit handel en reis onnodig skade berokken.

Die dodetal in China staan nou op 304 en die getal voorvalle wat aangemeld is, staan op 14 380.

Intussen is ses amptenare in die stad Huanggang, naby Wuhan in die Hubei-provinsie, afgedank weens hul “swak prestasie” in die hantering van die uitbreking, het die Xinhua News Agency berig.

Volgens die burgemeester is die stad se “vermoë om pasiënte te behandel steeds nie voldoende nie en is daar ʼn ernstige tekort aan mediese voorraad soos beskermende oorpakke en mediese maskers”.

Met weinig aanduidings dat die uitbreking spoed verloor, het die owerhede in Hubei en elders nou die Nuwejaarsvakansie tot die einde van die week verleng. Dis die land se besigste reistyd en miljoene mense keer van hul tuisdorpe na die stede terug. Dit hou ʼn ernstige gevaar vir sekondêre besmettings in op ʼn tydperk wat die owerhede mense aanraai om weg te bly van openbare samekoste.

Alle skole in Hubei open nou eers later.

Aan China se suidooskus het Wenzhou die opening van staatskantore opgeskort tot 9 Februarie, private ondernemings gaan eers op 17 Februarie heropen en skole eers op 1 Maart.

Wenzhou het nagenoeg 10 miljoen inwoners en daar was reeds 241 bevestigde voorvalle van die virus, die hoogste syfer buite Hubei. Soortgelyke maatreëls is in verskeie ander stede getref. Inwoners van Sjanghai en Beijing is op onbepaalde verlof hangende verdere verwikkelinge.

China het op tuisbodem streng reismaatreëls afgekondig, maar is vies oor die maatreëls wat ander regerings ingestel het. Washington verbied toegang vir enige buitelander wat China die afgelope twee weke besoek het.

Suid-Korea en Indië het die afgelope naweek honderde van hul burgers uit Wuhan verwyder en hulle word vir twee weke in kwarantyn gehou. In Suid-Korea is 15 voorvalle van die virus aangemeld. In Indië is twee voorvalle aangemeld. Suid-Korea het ook buitelanders wat na Hubei gereis het, verbied om die land binne te kom.

Indonesië het 241 van sy burgers uit Wuhan gebring en hulle word ook twee weke lank in kwarantyn gehou.

Die WGO het Donderdag die virus tot ʼn internasionale noodtoestand verklaar.

Die sterftesyfer in China verlangsaam, maar die getal bevestigde voorvalle gaan aanhou styg omdat duisende monsters nog getoets moet word.

Hoewel navorsers ʼn beperkte oordrag van die virus tussen mense verwag het, is hulle bekommerd oor gevalle waar die virus tussen mense versprei het wat nié baie blootstelling daaraan gehad het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.