Kurwes keer nie dié Nepalese skoonheidskoningin

Jane Dipika Garrett is Mej. Heelal Nepal 2023. (Foto: Facebook/Miss Universe Nepal)

Jane Dipika Garrett, ʼn verpleegstudent van Katmandu, Nepal, het die naweek dubbele geskiedenis gemaak as dié land se eerste plusgrootte nasionale skoonheidskoningin én die eerste plusgrootte vrou wat aan die gesogte Mej. Heelal-skoonheidskompetisie in November vanjaar gaan deelneem.

Garrett, wat ook deels Amerikaans is, is volgens haar sosialemediaprofiel ʼn voorstander vir geestesgesondheid, liggaamspositiwiteit en hormonale gesondheid vir vroue in Nepal.

Die Nepalese skoonheid is ook onbeskaamd oor haar stryd met polisistiese ovariële sindroom (PCOS) – ʼn hormoonversteuring wat vroue se voorkoms en vrugbaarheid aantas omdat dit ʼn wanbalans van voortplantingshormone veroorsaak en dikwels tot insulienweerstandigheid lei.

Hoewel dié siekte een uit elke tien vroue wêreldwyd raak, word dit weens onkunde steeds gereeld nie gediagnoseer nie of ondoeltreffend behandel.

“As ʼn vrou met kurwes wat nie aan sekere skoonheidstandaarde voldoen nie, is ek hier om vroue te verteenwoordig wat soos ek gebou is, wat sukkel met gewigstoename en wat sukkel met hormonale probleme. Ek glo dat daar nie net een tipe skoonheid is nie. Elke enkele vrou is pragtig net soos sy is,” het Garrett oor haar oorwinning gesê.

Jane is ʼn voorstander vir liggaamspositiwiteit. (Foto: Instagram/@jadedipika)

Garrett se oorwinning is ook nog ʼn groot mylpaal vir die Mej. Heelal-kompetisie, wat nou in sy 72ste jaar is.

Maroela Media het vroeër berig dat dié kompetisie in 2022 hul reëls “ter wille van inklusiwiteit” vir die eerste keer verander het om ook moeders en getroude vroue toe te laat om vir die titel in aanmerking te kom.

Die reëlverandering het gesorg vir een van die grootste opskuddings in die geskiedenis van die kompetisie wat voorheen net enkellopende vroue tussen 18 en 28 jaar oud, wat nog nooit getroud was of kinders gehad het nie, toegelaat het.

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie het gevolglik ook veranderinge aangebring om in ooreenstemming met die Mej. Heelal-kompetisie te wees, aangesien Mej. SA-wenners die afgelope vyf jaar uiters goed in dié kompetisie vaar.

Verlede maand het Michelle Cohn ook die eerste Mej. Heelal Guatemala-deelnemer én wenner geword wat ʼn ma van twee is. Cohn (28) is ʼn model en entrepreneur en het ʼn seun en dogter saam met haar man, Andres Matheu.

Bronne: The National News, Missuniversenepal.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Sandra ·

Uiteindelik word daar besef vroue met kurwes het ook ‘n plek in die skoonheidswereld. Yeah!

Karoo ·

Hulle se… dis die fyn houtjies wat die vuur aan die brand kry, maar die “dik” houte wat die vuur aan die gang hou. Dames, ek bedoel dit nie disrespekvol nie, dit is ‘n kompliment vir ons Dames wat mooi gerond is.

Bolandse Nooi ·

“Met kurwes” … @ 126,4 kg het ek dan beslis BAIE kurwes … Man, ‘kurves’ is kurwes … vet is vet. En ek is vet, finish en klaar – te duiwel met “kurwes”!!! Dié vrou weeg seker so 70 kg, nie ‘n gram meer nie, en dis baie beslis nie vet nie. As jy nog ‘n middellyn het, is jy beslis nie vet nie.

Vonkprop ·

Daar is niks so lekker as om ‘n vrou met kurwes of ‘n bietjie lyf ‘n druk te gee nie. Jy moet darem iets hê om te druk. Al hierdie plankdun modelle gee jou net splinters as jy hulle druk. En terloops, daar is absoluut niks fout met hierdie dame nie. Waar kom die plusgrootte etiket vandaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.