Kwadrupleeg met implantaat speel aanlyn skaak

(Foto: CFOTO / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Neuralink het ’n video vrygestel wat wys hoe sy eerste menslike breinimplantaat-pasiënt aanlyn skaak speel.

Noland Arbaugh (29), wat agt jaar gelede van sy skouers af verlam gelaat is na ’n duikongeluk, vertel in die video hoe hy skaak sowel as die videospeletjie “Civilization” speel. Hy vertel verder hoe hy Japannese en Franse lesse neem deur ’n rekenaarskermwyser met sy brein te beheer.

“Dit is mal, dit is regtig. Dit is so cool,” sê Arbaugh en skerts dat hy telepaties is danksy Elon Musk se Neuralink-implantaat. Hy het die implantaat in Januarie ontvang.

Arbaugh het gesê hy is uit die hospitaal ontslaan ’n dag nadat die toestel in sy brein ingeplant is, en dat hy as gevolg daarvan geen kognitiewe inkorting gehad het nie.

“Daar is baie werk om te doen, maar dit het reeds my lewe verander,” het hy gesê. “Ek wil nie hê mense moet dink dit is die einde van die reis nie.”

Volgens Arbaugh het hy begin deur te dink oor die beweging van die wyser en uiteindelik het die implantaat sy bedoeling weerspieël.

“Die rede hoekom ek daarin beland het, was omdat ek deel wou wees van iets wat ek voel die wêreld gaan verander,” het hy gesê.

Neuralink se tegnologie werk deur ’n toestel wat omtrent die grootte van vyf gestapelde munte is en wat deur indringende chirurgie in die menslike brein geplaas word.

Die maatskappy, wat in 2016 deur Musk gestig is, wil direkte kommunikasiekanale tussen die brein en rekenaars daarstel.

Hul ambisie is om menslike vermoëns te versterk, neurologiese afwykings soos motorneuronsiekte of Parkinson se siekte te behandel, en miskien eendag ’n simbiotiese verhouding tussen mense en kunsmatige intelligensie te bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.