Kyk: Die trane loop toe Roger groet

Roger Federer het professionele tennis in Londen gegroet. Foto: Twitter.

Sportliefhebbers kon vir oulaas tennis se grootste kunstenaar, Roger Federer, in aksie sien toe hy saam met Rafael Nadal in ʼn Laverbeker-dubbelspelwedstryd gespeel het.

Ja, “Fedal” het weliswaar met 4-6, 7-6 en 11-9 teen die Wêreldspan se Jack Sock en Frances Tiafoe vasgeval, maar die aand het ongetwyfeld aan die Switserse meester behoort.

Vir meer as twee uur het die 41-jarige speler die horlosie teruggedraai – daar was sy majestueuse (want dit is inderdaad wat dit is) rughandhoue, toorkuns en die selfvertroue van ouds.

In ʼn neutedop is Roger Federer ʼn tennisspeler wat die sport net beter as enigiemand anders laat lyk.

Maar toe die gordyn uiteindelik op sy merkwaardige loopbaan sak, het die trane maar baie vlak in Londen se O2-arena gelê.

Met een laaste swaai van die raket was alles in ʼn oogwink verby. ʼn Emosionele Federer het vir Nadal omhels, na die skare gewaai en na sy stoel gestap; alles onder dawerende applous.

Federer en Rafael Nadal. Foto: Twitter.

“Ons sal probeer om hierdeur te kom, nè?” het hy in sy onderhoud ná die afloop van die wedstryd gesê.

“Eintlik is ek bly en nie hartseer nie. Dit is wonderlik om hier te wees en ek het dit geniet om my tennisskoene vir oulaas aan te trek – dit voel asof ek alles vir ʼn laaste keer gedoen het. Dit was ʼn goeie wedstryd en ek kan nie gelukkiger wees nie.”

Sy vrou, Mirka, en hul vier kinders het ook by hom op die baan kom staan.

“Ek wou net nie alleen voel nie,” het Federer geskerts.

“Ek het vir ʼn oomblik alleen gevoel, maar om te groet terwyl ek vir ʼn span speel is baie spesiaal. Om saam met ouens soos Andy (Murray), Novak (Djokovic), Matteo (Berrettini), Cam (Norrie), Stefanos (Tsitsipas), Rafa en Casper (Ruud) in ʼn span te wees is ʼn reusevoorreg –  julle is ongelooflik.”

Die Basel-boorling, wie se ma ʼn Suid-Afrikaner is, is ongetwyfeld ʼn tennislegende.

Hy het in 24 jaar meer as 1 500 wedstryde gespeel, 20 Grand Slam-titels ingeoes en vir 310 weke die septer as die wêreld se voorste speler geswaai.

Tog wou sy lyf net nie meer saamspeel nie en die een knieoperasie na die ander het die uurglas vinniger laat leegloop as wat hy dit wou hê.

“Hierdie voel soos ʼn feesviering vir my en ek wou juis só met my laaste wedstryd gevoel het. Julle het my drome waar gemaak; baie dankie.”

En die tennismeester het sy wedstrydverfkwas vir oulaas weggepak.

  • Federer se loopbaanstatistieke:

Wenrekord: Hy 1 251 wedstryde gewen en 275 verloor.

Prysgeld: $130 594 339

Grand Slam-titels: 20

Meester 1 000-titels: 28

ATP-eindtoernooi-titels: 6

Olimpiese goue medaljes: 0

Hoeveel keer het hy die jaar as die wêreldno. 1-speler afgesluit: 5

Weke boaan die wêreldranglys: 310.

Foto: Twitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wiesalweet ·

Hy is en sal altyd ‘n “legend” bly. Hy was die rede hoekom ek tennis gekyk het. Gaan hom regtig baie mis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.