Kyk: Klimaataktiviste ontwrig reeks om As

‘n Skermskoot uit die video

Engeland se paaltjiewagter Jonny Bairstow het ʼn betoger van die veld af gedra toe klimaataktiviste spel op die eerste dag van die tweede toets in die reeks om die As kortstondig onderbreek het.

Net voor Stuart Broad die tweede boulbeurt geboul het, het twee betogers van Just Stop Oil op die veld gehardloop en die groep se kenmerkende oranje poeier gestrooi. Bairstow het een van die betogers gegryp en van die speeloppervlak af gedra, terwyl die ander een deur baanbeamptes aangekeer is.

ʼn Derde betoger is platgetrek voordat hy op die buiteveld gekom het. Toeskouers het die betogers uitgejou terwyl hulle deur die baanbeamptes weggelei is.

Die polisie het bevestig drie mense is in hegtenis geneem. Ná ʼn oponthoud van etlike minute terwyl die poeier van die veld verwyder is, is spel hervat. Australië het teen middagete op 73/1 gestaan.

Marylebone Krieketklub se uitvoerende hoof, Guy Lavender, het gesê hy “veroordeel die betogers se optrede ten sterkste”.

Just Stop Oil, wat ʼn einde wil hê aan nuwe olie- en gasontginning in die Noordsee, het al verskeie sportbyeenkomste ontwrig, waaronder die Britse Formule Een Grand Prix en die Engelse Premierliga-eindstryd.

Betogers het hulself tydens Premierliga-sokkerwedstryde aan doelpale vasgebind en oranje poeier op die groen gestrooi by die Wêreldsnoekerkampioenskapsreeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Haal hoed af aan die Engelse wat se instink dit was om eers die Aussies te beskerm voor hul geweet het wat die is. En aan Biarstow wat hom afdrae soos n handsak hahah

JohanR ·

Moes hom eers ‘n paar maal geneuk het, en toe van die veld af gedra het! Almal sou hande geklap het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.