Laaste poging misluk om Britse seun aan die lewe te hou

Archie Battersbee en sy ma, Holly Dance (Foto: Twitter)

Die lewensondersteuningmasjiene wat die jong Archie Battersbee in die Verenigde Koninkryk aan die lewe hou, word vanoggend afgeskakel.

Dié besluit is geneem nadat sy ouers alle wettige maniere ondersoek het om te verhoed dat dit gebeur.

Die masjiene wat die 12-jarige Archie die afgelope vier maande aan die lewe hou, sou al Maandag in die Royal London-hospitaal afgeskakel word nadat sy ouers ʼn hofaansoek verloor het om dit te verhoed.

Archie se ouers het hulle intussen in ’n laaste poging tot die Europese menseregtehof gewend om te verhoed dat die masjiene afgeskakel word.

Die hof het egter gesê hy gaan nie ingryp nie. Die ouerpaar kon ook nie daarin slaag om teen dié besluit te appelleer nie. Die hoogste hof het hul ook nie toegelaat om Archie in ’n hospies te laat sterf eerder as in die hospitaal nie.

Die jong seun se lewensondersteuningmasjiene word vanoggend om 10:00 in die Royal London-hospitaal afgeskakel.

Archie is vroeër breindood verklaar nadat sy ma, Hollie Dance, hom in April vanjaar vermoedelik ná ʼn aanlyn versmoringsuitdaging bewusteloos in sy ouerhuis aangetref het.

Dance het Vrydag gesê die gesin is gebroke, “maar ons gaan aan, want ons is lief vir Archie en weier om op te gee”.

Archie wat tans aan die lewe gehou word deur verskeie mediese ingrypings, waaronder ʼn ventilator en medikasie, se saak is een van verskeie hoëprofiel sake rakende mediese etiek in Brittanje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.