Langste boom ooit in Amasone gevind

Argieffoto van ʼn Dinizia excelsa (Foto: Fedaro, eie werk via Wikimedia Commons)

Wetenskaplikes het ná drie jaar se beplanning, vyf ekspedisies en ʼn twee weke lange tog deur die digte woud, uiteindelik by die langste boom ooit in die Amasone-reënwoud afgekom.

Die boom is so lank soos ʼn 25 verdieping hoë gebou.

Die reusagtige boom troon uit bo die res van die bome in die Iratapururivier-natuurreservaat in die noorde van Brasilië. Die Dinizia excelsa is 88,5 meter lank en 9,9 meter in die omtrek – die grootste boom ooit in die Amasone.

Navorsers het al in 2019 die enorme boom op satellietfoto’s opgemerk as deel van ʼn 3D-karteringsprojek.

ʼn Span akademici, omgewingskenners en plaaslike gidse het later daardie jaar ʼn ekspedisie aangepak om by die boom uit te kom. Ná ʼn 10 dag lange tog deur die moeilike terrein was hulle pootuit, hul voorraad was byna uitgeput, en met ʼn spanlid wat siek was, het hulle omgedraai.

Nóg drie ekspedisies na die reservaat se afgeleë Jarivallei-streek, op die grens tussen Amapa en Para, het verskeie reusebome opgelewer, insluitend die langste Brasiliaanse neutboom ooit in die Amasone op 66 meter.

Die enorme Dinizia excelsa het hulle egter bly ontwyk tot ʼn ekspedisie in September vanjaar. Navorsers het 250 km ver per boot op riviere gevaar deur gevaarlike stroomversnellings. Daarna het hulle 20 km te voet oor die bergagtige woud aangepak om uiteindelik by die boom uit te kom.

Een persoon uit die span van 19 is vermoedelik deur ʼn giftige spinnekop gebyt.

“Dit was egter die moeite werd,” sê bosbou-ingenieur Diego Armando Silva van die Amapo Federale Universiteit, wat gehelp het om die ekspedisie te organiseer. “Dit was die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het. Absoluut verruklik,” het die 33-jarige Silva aan AFP gesê. “Mens is in die middel van hierdie woud waar daar nog nooit mense was nie, met absoluut oorvloedige natuur.”

Ná hulle onder die massiewe boom gekamp het, het die groep blare, grond en ander monsters geneem. Dit sal nou geanaliseer word om vrae te beantwoord oor hoe oud die boom is – minstens 400 tot 600 jaar, beraam Silva. Hulle sal ook probeer bepaal hoekom dié streek so baie reusagtige bome het, en hoeveel koolstof hulle opgaar.

Sowat die helfte van die gewig van die streek se reusebome is koolstof wat uit die atmosfeer opgegaar is – dit is baie belangrik om klimaatsverandering te help beperk, voeg Silva by.

Ondanks die feit dat die bome so afgeleë is, bly die streek se reuse onder bedreiging.

Die bome se hout is baie gesog vir houtkappers en die Iratapuru-reservaat word deur onwettige goudmyners geteister. “Hulle is berug vir hul ekologiese verwoesting,” sê Jakeline Pereira van die omgewingsgroep Imazon, wat deel was van die organisasie vir die ekspedisie.

“Ons is absoluut verheug oor die vonds,” sê Pereira. “Dit is uiters belangrik in ʼn tyd waar die Amasone gevaarlike vlakke van ontbossing beleef.”

Die gemiddelde jaarlikse ontbossing het die afgelope drie jaar in die Brasiliaanse Amasone met 75% toegeneem in vergelyking met die vorige dekade.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jywilwat ·

Langste boom? Moet dit nie die “hoogste” boom wees nie?

Oljetter ·

Die onbeholpe vertaler van die berig verstaan nie die verskil tussen lank en hoog nie.

Janee ·

Wat n wonderlike voorreg om dit te kon aanskou!…Hoop dat dit die vure in die amazone sal vryspring…so ook dit wat alles vernietig….die mens

SomeOne ·

dalk is die boom eerder 9.9 meter in deursnit, en nie omtrek nie

philippus ·

Chinese sny daai boom net volgende week. Soos hulle maak in Mosambiek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.