Leeu sonder tande, naels aan eienaar terugbesorg

Hima Foto:  Lanh Visal via die Kambodjaanse ministerie van inligting/Facebook

ʼn Leeu wat se tande en naels verwyder is en na ʼn welgestelde voorstad van die Kambodjaanse hoofstad gesmokkel is, is Maandag aan sy eienaar terugbesorg ná eerste minister Hun Sen se onverwagse ingryping.

Die 18 maande oue welpie genaamd Hima, wat 70 kg weeg, is van oorsee af ingevoer, het beamptes gesê. Hy is deur sy eienaar, ʼn man van China, grootgemaak.

Owerhede het van die onwaarskynlike troeteldier te hore gekom deur video’s wat op TikTok gedeel is waar Hima in ʼn villa in Phnom Penh speel. Die leeu is op 27 Junie gekonfiskeer en na ʼn wildbewaringsentrum geneem.

Wildlife Alliance, ʼn dierewelsynsorganisasie wat verlede week aan die reddingspoging deelgeneem het, het gesê ʼn privaat woning is “nie geskik” vir ʼn wilde dier nie en dat die eienaar die leeu se slagtande en naels verwyder het.

ʼn Paar dae later het ʼn video waar die leeu se eienaar, Qi Xiao, by die bewaringsentrum met hom speel, wyd begin versprei. Hima en Qi was speels met mekaar terwyl hy vleis gevoer word – ʼn liefderyke gebaar wat tot versoeke op sosiale media gelei het dat die twee herenig moet word.

Hima (Foto: Qi Xiao/Facebook)

Hun Sen het Sondagaand op sy amptelike Facebook-blad aangekondig dat Qi sy leeu kan terugkry op voorwaarde dat hy “ʼn behoorlike hok bou om die veiligheid van die mense in sy huis en hul bure te verseker”. Hy het owerhede ook opdrag gegee om Qi te vergoed vir enige boete wat hy moes betaal.

Qi het die premier in ʼn kommentaar op die plasing bedank en ook Kambodjane bedank dat hulle Hima gehelp en ondersteun het. “Ek hoop dat Kambodja en China vir ewig vriende sal bly,” het hy bygevoeg.

Die leeu is Maandagmiddag na Qi se villa geneem.

“Ek is baie gelukkig, ek is geraak hierdeur. Ek het nie verwag om hom terug te kry nie,” het Qi aan verslaggewers gesê terwyl die leeu en sy hond in die erf rondgewandel het.

Nie almal is egter tevrede oor die uitslag nie. “Dit ondermyn wetgewing wat eienaarskap en handel dryf met bedreigde spesies wil voorkom,” het die ambassadeur van die Verenigde Koninkryk in Kambodja, Tina Redshaw, in ʼn plasing op Twitter gesê.

Kambodjaanse owerhede wou nie kommentaar lewer oor die boete wat Qi moes betaal het nie.

Hun Sen is ʼn groot ondersteuner van Beijing en Kambodja ontvang miljarde dollar in lenings en beleggings van China.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

LANA is ELANè ·

Hoe jammer voel ek vir hierdie arme leeu, hoe kan enige mens ‘n dier wat floreer in sy natuurlike habitat vat, hom mishandel deur al sy naels en tande te verwyder, en dan van hom ‘n troeteldier maak? Wreed is nie die woord nie, en ongelukkig sal die dier nooit weer vrygelaat kan word om te wees dit waarvoor hy geskep is nie. Hartseer verby, mense is so eenvoudig.

Danie ·

Wat wil n mens met so n dier maak in n stad?
Dit lyk my chinese het geen gewete nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.