Legendariese akteur (91) sterf

Asner was ook die stem vir die wewenaar Carl Fredericksen in die animasierolprent Up (Foto: Valerie Macon, AFP)

Die legendariese Amerikaanse akteur, Edward Asner, wenner van ʼn rekord van sewe Emmy-toekennings, is Sondagaand in die ouderdom van 91 jaar oorlede.

Asner is glo aan natuurlike oorsake oorlede.

Edward Asner is op 15 November 1929 in Kansas City, Missouri, gebore. Hy was die jongste van vyf kinders.

Asner het naam gemaak deur die hoofkarakter, Lou Grant, as hoof van die nuuskantoor in die TV-komedie The Mary Tyler Moore Show te vertolk. Hierdie ikoniese sitkom het van 1970 tot 1977 op die kassie verskyn.

Hy het drie van sy sewe Emmys gewen vir die vertolking van hierdie karakter, en is een van slegs twee akteurs wat ʼn Emmy vir komedie en drama vir dieselfde rol gewen het.

Asner was ook die stem vir die wewenaar Carl Fredericksen in die animasierolprent Up. Hierdie rolprent is in 2009 vir die Oscar vir beste rolprent genomineer.

In die rolprent vertolk Asner die rol van ʼn geharde bejaarde man wat duisende ballonne aan sy huis bind en dit na Suid-Amerika laat vlieg om die avontuur wat hy en sy oorlede vrou nooit gedoen het nie, te voltooi.

Asner het in ʼn reeks toneelstukke en televisieprogramme verskyn voordat hy sy groot deurbraak in The Mary Tyler Moore Show gekry het.

Asner was ʼn liberale aktivis en het deelgeneem aan protesoptredes ter ondersteuning van vakbonde en in teenstand teen die doodstraf. Hy dien ook twee termyne as president van die Screen Actors Guild.

Asner se kinders het op Twitter geskryf: “Ons is jammer om te sê dat ons geliefde pa vanoggend vreedsaam oorlede is. Woorde kan nie die hartseer wat ons voel, beskryf nie.

“Met ʼn soen op jou kop – goeienag, pa. Ons is lief vir jou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Legendaries is n groot woord om vir elke Jan Rap en sy maat toe te dig. Marilyn Monroe is legendaries.
Seaon Connery is legendaries. Weet nie wie is die Edward Asner nie. Nog nooit van hom gehoor nie.

Johan ·

Ek kyk tans weer na die ou TV reeks “The Mary Tyler Moore Show”. Ek moet sê hy was uiters talentvol. Ten spyte van sy links gesindheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.