Leon oor Oscars se voorspellings, weglatings én verrassings

Leon van Nierop sê daar gaan nie veel verrassings by vanjaar se Oscars wees nie. (Foto: Facebook/Leon van Nierop)

Die name van akteurs en titels van rolprente wat jaarliks op Hollywood se Oscar-prysaand uitgelees word, sal sekerlik altyd bevraagteken word.

Hoewel die paneel wat op dié name besluit uit duisende verskillende akteurs, regisseurs en tegnici in die fliekbedryf bestaan, is daar duidelik gunstelinge wat dikwels danksy magspel, geld, politieke druk of selfs populariteit bo almal uitstyg.

Ondanks omstredenheid en vrae rondom die relevansie van dié soort toekenningsgeleenthede, bly die Oscars vir 96 jaar al die rolprentbedryf se grootste aand.

Die skrywer en fliekresensent Leon van Nierop het aan Maroela Media verduidelik wie presies die Oscar-beoordelaarspaneel is en hoe hulle besluit aan wie gesogte goue Oscars uitgedeel word.

Hy deel verder sy voorspellings, teleurstellings en gunstelinge oor vanjaar se benoemdes.

Wie stem vir Oscars?

(Foto: Mark Ralston/AFP)

Sedert Desember 2020 het die Academy of Motion Picture Arts and Sciences (AMPAS) nagenoeg 9 427 kwalifiserende Oscar-kiesers gehad.

Enigiemand met rolprentkrediete kan aansoek doen om ʼn AMPAS-lid te wees, maar elke kandidaat moet deur elke tak se uitvoerende komitee goedgekeur word en dan aan die direksie voorgelê word.

Die Academy kan mense ook nooi om beoordelaars te wees. Akteurs soos Austin Butler, wat verlede jaar benoem is vir sy rol in Elvis, is byvoorbeeld onlangs genooi om deel van vanjaar se beoordelaarspaneel te wees.

Elke beoordelaar behoort aan een van AMPAS se 17 takke en elke tak benoem individue of flieks vir sy eie kategorie, byvoorbeeld akteurs benoem vir die vier toneelspelkategorieë.

Al die takke stem egter vir die beste rolprent, wat volgens Leon verduidelik waarom dit dikwels moeilik is om te voorspel wie dié pryse huis toe sal neem.

Tog is daar jaarliks twee of drie flieks wat die benoemings oorheers.

“Daar word omtrent 200 tot 300 rolprente per jaar uitgereik, maar ons sien dikwels dat een fliek 11 tot 13 benoemings kry. Ek laat my nie vertel dat daar nie ander rolprente is wat nie ook ʼn kans verdien om benoem te word nie,” meen Leon.

Politiek kruip oral in

Nes baie ander bedrywe speel politiek dikwels volgens Leon ʼn rol in die vermaakbedryf en veral wanneer dit by pryse kom.

Hy verduidelik dat die sogenaamde “Oscar-veldtogte” veral na aan die toekenningseisoen gedryf word – dié dat ʼn mens nie die internet of sosiale media kan oopmaak sonder om die woorde “Barbie” of “Oppenheimer” raak te lees nie.

“Dit gaan oor klieks, wie jy ken en hoeveel geld jy het om jouself en jou rolprent te bemark. Die akteurs moet oral gesien en gehoor word sodat kritici én beoordelaars van hulle kennis neem.”

In party gevalle word honderde duisende, of selfs miljoene dollar daaraan bestee om Oscar-voorlopers by al wat ʼn rolprentfees, mediageleentheid en kletsprogram te kry.

Die eens bekroonde Amerikaanse rolprentvervaardiger Harvey Weinstein, nou berug vir sy seksmisdade, het destyds ʼn reputasie ontwikkel deur ʼn mengelmoes van groot geleenthede en sogenaamde “fluisterveldtogte” te bedryf om Oscar-benoemings te kry.

Tot op hede het sy rolprente nagenoeg 300 benoemings opgeraap en soms aanhangers én kenners laat kopkrap oor die egtheid van die Oscar-proses.

“Dink aan Gwyneth Paltrow toe sy destyds haar Oscar gewen het vir Weinstein se rolprent Shakespeare in Love. Hy het in daardie jare veral soveel kontakte en mag gehad om dit [haar oorwinning] te laat gebeur,” sê Leon.

“Sy was goed, maak geen fout nie, maar daar was daardie jaar baie beter aktrises as sy. Sy het hom selfs bedank in haar toespraak, toe het ons almal ons wenkbroue gelig en gedink ‘ja jy moet maar’, want jy kon omtrent nie die Bybel in 1999 oopslaan nie of haar naam was daarin nie’,” skerts hy.

Diversiteit is dikwels ook ʼn teer punt en die ou hutsmerk #OscarsSoWhite word steeds jaarliks rondgeswaai, met bewerings dat die AMPAS-keurpaneel steeds uit “te veel ou, wit mans bestaan”. Tog het die AMPAS sedert 2015 moeite gedoen om sy stemliggaam meer divers te maak en meer vroue, sowel as mense van onderverteenwoordigde rassegroepe, by die proses te betrek.

Die poppe gaan dans, maar geen onverwagse bomme ontplof

Die lokettreffers Barbie en Oppenheimer se oorheersing in vanjaar se benoemingslys was volgens Leon gʼn skok nie.

Die verhale van die vader van die atoombom en die wêreld se bekendste pop het selfs tot die sogenaamde #BarbieHeimer-tendens gelei en fliekteatersitplekke wêreldwyd weer vol gekry.

Barbie het volgens die fliek-ghoeroe ook ʼn vars, pienk bries in die Oscars se donker gange gewaai.

“Die dood is maklik, maar komedie is moeilik. Romantiese flieks of komedies word omtrent nooit vir Oscars benoem nie, so in daardie opsig is ʼn mens bly dat ʼn rolprent soos Barbie vir ʼn slag die nodige erkenning kry.”

Veral Ryan Gosling, wat lewe aan Barbie se kêrel, Ken, gegee het, verdien sy beste manlike byspeler benoeming meen hy.

Ryan Gosling as ‘Ken’. (Foto: Twitter/Barbie The Movie)

“Om ʼn pop manlik en snaaks te maak, én hom boonop nog te laat goed sing en dans wil gedoen wees. Die manier waarop hy met homself gespot het deur sy karakter se reis na man-wees was merkwaardig en beslis nie maklik nie. Ek het daarvan gehou.”

Volgens Leon het regisseur Greta Gerwig ook ʼn plek op die beste regisseurslys verdien, waar America Ferrera se spel in Barbie nie noodwendig met dié van ander vrouebyspelers vergelyk kan word nie.

“Hoewel haar Barbie-monoloog uiters treffend was, het rolprente soos Air, met ongelooflike spel en meer treffende monoloë, agterweë gebly.”

Die aktrise Margot Robbie in Seoul. (Foto: Jung Yeon-Je/AFP)

Air gaan oor die stryd om die basketbalspeler Michael Jordan te oortuig om deur die Nike-maatskappy geborg te word.

Leon voorspel dat Oppenheimer, nes baie ander flieks wat oor ware verhale handel, met die louere sal wegstap in van die aand se grootste kategorieë.

“Dit is maar so dat as jy jou voorkoms heeltemal of drasties verander om ʼn ware persoon te vertolk, is jou kanse groter om ʼn beeldjie te verower.”

Daarom meen hy sal dit merkwaardig wees om te hoor hoe Emma Stone of Sandra Hüller, wat onderskeidelik benoem is vir hul hoofrolle in Poor Things en The Anatomy of a Fall, se name by die Oscars vanjaar uitgelees word.

Stone en Hüller is die enigste twee uit die vyf aktrises wat benoem vir beste hoofrol wie se karakters nie op regte mense geskoei is nie. Stone vertolk die rol van ʼn vrou wie se brein met dié van haar ongebore baba s’n vervang is, terwyl Hüller die rol van  ʼn vrou speel wat verdink word van die moord op haar man, met haar siggestremde seun as die enigste getuie.

“Ek sou Sandra Hüller die beeldjie gegee het. Sy vertolk die rol van ʼn vrou wat haar onskuld moet bewys absoluut perfek – jy weet tot op die einde nie of sy dit gedoen het nie.”

Dié flieks, akteurs het meer erkenning verdien

Die weglating van Society of the Snow, wat handel oor ʼn Uruguaanse rugbyspan wat tot kannibalisme gedryf is weens ʼn tragiese vliegtuigongeluk, word deur Leon as “kommerwekkend” bestempel.

“Die Spaanse rolprent se puik tegniese vervaardiging en geweldige realisme het veel meer erkenning verdien. Nog nooit in my lewe het ek ʼn rolprent gesien wat oorlewing so ernstig en met soveel realisme vasvang nie.”

Hoewel hy dit as ʼn “stiefbenoeming” beskryf, verdien dié rolprent egter volgens hom sy benoeming vir beste grimering.

“Ek sou dit ook bo Barbie gekies het vir beste kostuums, want Barbie se uitrustings is vreeslik mooi en fraai, maar hulle het miljoene dollar gehad om dit te skep. Society of the Snow is baie meer realisties en die karakters, wat in die fliek 71 dae lank in ysige berge gestrand was, se klere en voorkoms moes geleidelik ouer gelyk het.”

Ook Society of the Snow se klank, of eerder sy gebrek daaraan, het volgens Leon bekoor.

“Die regisseur het gesorg dat daar totaal en absolute stilte moet wees. Om stilte te kan hoor is byna onmoontlik en ʼn kuns om vas te vang. Die karakters se desperaatheid vir die geluide van soekgeselskappe het my naderhand so geterroriseer.”

Leon beskryf die spel van die rolprent Past Lives, ʼn romantiese dramafliek oor twee vriende wat deur die loop van 24 jaar die aard van hul verhouding nadink, se hoofakteurs, Greta Lee en Teo Yoo, as “manjifiek”.

Tog het Past Lives slegs ʼn benoeming vir beste rolprent losgeslaan.

Nes Lily Gladstone, wat die rol van die inheems Amerikaanse vrou Molly Burkhart in Martin Scorsese se Oscar-gunsteling Killers of the Flower Moon vertolk, het Lee volgens Leon die kuns van “onderspeel” bemeester en ʼn benoeming vir beste aktrise verdien.

“Daardie stil, ingehoue, tragiese hartseer van ʼn vrou wat verlief is en dit nie kan sê nie, het my intens geraak en word dikwels onderskat. Lily Gladstone het daardie selfde styl perfek raakgespeel in Killers of the Flower Moon.”

Die resensent voeg by dat flieks soos All of Us Stangers, Ferrari, Saltburn en May December ook meer van die Oscars se kollig verdien het.

Sy antwoord op hoekom daar ook geen Suid-Afrikaanse flieks die afgelope paar jaar die Oscars-kortlyste kon haal nie is eenvoudig: “politiek.”

(Grafiek: Maroela Media)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Society of The Snow was bitter goed gewees, selfs beter as die oorspronklike.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.