Lewenslank vir Lucy Letby

Lucy Letby (Foto: Facebook)

ʼn Britse verpleegster is Maandag lewenslange tronkstraf opgelê, sonder die vooruitsig van vrylating, vir die moord op sewe pasgebore babas en poging tot moord op ses ander terwyl hulle onder haar sorg was.

Lucy Letby (33) is skuldig bevind aan die moord op vyf babaseuntjies en twee babadogtertjies, wat haar die Verenigde Koninkryk se ergste kinderreeksmoordenaar in moderne geskiedenis maak.

Sy is in hegtenis geneem ná ʼn reeks babasterftes by die neonatale eenheid van die Countess of Chester-hospitaal in die noordweste van Engeland tussen Junie 2015 en Junie 2016.

Die staat het gesê Letby het haar weerlose vroeggebore slagoffers aangeval, dikwels tydens nagdiens, deur doelbewus lug in die bloedstroom te spuit, hulle met melk te oorvoed of met insulien vergiftig het.

Ná die verhoor wat in Oktober begin het, het ʼn jurie by die Manchester Crown-hof Vrydag meer as 100 uur van beraadslaging afgehandel.

Letby was in die hof toe die jurie die eerste skuldigbevindings vroeër in Augustus gelewer het. Sy was egter nie in die hof vir die finale uitsprake nie en het Maandag geweier om uit die selle te kom vir haar vonnisoplegging.

“Jy het op ʼn manier opgetree wat heeltemal teenstrydig is met die normale menslike instinkte van versorging en sorg vir babas,” het regter James Goss gesê terwyl hy Letby in haar afwesigheid aangespreek het. Hy het gesê daar was “voorbedagtheid, berekening en sluheid” in haar optrede, met ‘n “diepe boosheid wat grens aan sadisme”.

“Jy het geen berou nie,” het die regter gesê, en haar gelas om ‘n geskrewe afskrif van die vonnisopmerkings en die gesinne se slagofferimpakverslae te ontvang.

“Daar is geen versagtende omstandighede nie.”

Goss het bygevoeg “omdat die erns van jou misdade uitsonderlik hoog is, las ek dat die vroeë vrylatingsbepalings nie van toepassing is nie”.

“Die bevel van die hof is dus ʼn lewenslange bevel vir elke enkele oortreding en jy sal die res van jou lewe in die tronk deurbring,” het die regter gesê.

“Lafhartig”

Lucy Letby (Foto: Twitter)

Nadat Letby geweier het om die vonnisoplegging by te woon, het eerste minister Rishi Sunak gesê dit was “lafhartig dat mense wat sulke afgryslike misdade pleeg, nie hul slagoffers in die oë kyk nie”.

Die leier van die vernaamste opposisie Arbeidersparty, voormalige hoofaanklaer Keir Starmer, het belowe om die “skandelik uitgebuite skuiwergat” te sluit as hy tot die regering verkies word.

Letby se afwesigheid Maandag het beteken dat sy nie die slagoffers se impakverslae oor hoe haar misdade hulle geraak het nie, gehoor het nie. Dit is voor die vonnisoplegging in die hof aangehoor.

“Jy het gedink dit was jou reg om God te speel met ons kinders se lewens,” het die ma van ‘n tweelingseuntjie en dogtertjie, wat in Junie 2015 aangeval is, in ʼn verklaring wat aan die hof voorgelees is, gesê.

Die babaseuntjie is vermoor terwyl sy ouer sussie die aanval oorleef het.

Die pa van twee boeties wat deur die verpleegster vermoor is, wat deel was van ʼn drieling, het gesê: “Lucy Letby het ons lewens vernietig.”

“Die woede en haat wat ek teenoor haar het, sal nooit verdwyn nie,” het hy gesê in ‘n videoverklaring wat vooraf opgeneem en aan die hof vertoon is.

Ná die dood van die twee drielingbroers in Junie 2016 is Letby uit die neonatale eenheid verwyder en op administratiewe pligte geplaas.

Twee jaar later, in Julie 2018, is sy vir die eerste keer in hegtenis geneem. Met haar derde inhegtenisneming in November 2020, is Letby formeel aangekla en in aanhouding geplaas.

Motief onbekend

Die vangwa waarin Lucy Letby vervoer is. (Oktober 2022) (Foto: Oli Scarff / AFP)

Letby se motiewe bly onbekend. Gedurende die verhoor het die staat aangevoer Letby het haar kollegas laat glo dat die toename in babasterftes “net slegte geluk” is.

Die hof het gehoor dat Letby ‘n ongewone belangstelling in die families van haar slagoffers gehad het, deur soektogte na hulle op sosiale media te doen.

Sy het ook ʼn simpatiekaartjie aan die bedroefde ouers van ‘n kind gestuur waarvan sy later aan die moord skuldig bevind is.

Handgeskrewe notas wat tydens die polisie se soektog by Letby se huis gevind is, was onder die bewyse wat aan die hof voorgehou is. Een daarvan lui: “Ek is boos, ek het dit gedoen” in hoofletters.

Die jurie het Letby op twee aanklagte van poging tot moord vrygespreek en kon nie ʼn besluit neem oor ses ander aanklagte nie.

Letby het herhaaldelik ontken dat sy die babas leed aangedoen het.

Die Britse regering het ‘n onafhanklike ondersoek na die saak aangekondig en sal ondersoek instel hoe die bekommernisse van dokters deur hospitaalbestuur hanteer is.

Die hospitaal se bestuur het onder skoot gekom omdat hulle nie vroeër op bekommernisse oor Letby gereageer het nie, wat na bewering deur senior dokters reeds in 2015 geopper is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Niklaas ·

Sy was in ‘n beroep wat liefde en versorging voorskryf , so wat sou haar besiel het ?

Bre ·

As jy die berigte gevolg het sou jy sien dat sy bang was dat sy nooit sou trou of kinders he nie. Hoe siek kan iemand wees om so te dink en ander ouers se babatjies te vermoor.

Danie ·

Daar is nie ‘n verskil tussen wat sy gedoen het en die war aborsie pleeg nie. Beide is moord. Tog moet die een groep beloon en geprys vir hulle dapper daad.

Zoey ·

Daar is ‘n helse verskil. Ek hou ook nie van die aborsie idee nie, maar ken mense waar die man moes kies tussen sy ongebore kind en sy vrou – so wat dan. Sommige mense het hulle moordenaars genoem. Om ‘n aborsie te hê net omdat jy op die verkeerde tyd swanger geraak het, is nie reg nie. Maar daar is ‘n verskil. Buitendien, hierdie vrou het gekies om kinders te vermoor, dit was nie ‘n geval waar die ouers enige sê gehad het nie.

ES ·

Die hospitaal moet ook verantwoordelik gehou word. Ek het net gister ‘n nuusberig gesien waarin een van die dokters by die hopsitaal vertel het dat hy Lucy menigte kere aangegee het by die bestuur en dat hulle TWEE JAAR LATER eers iets daaromtrent gedoen het. Dis skandelik!

Bre ·

Ek stem ES. As hulle werk gemaak het vanaf die eerste oorlede babatjie kon alles anders gewees het maar nou is daar sewe kindertjies oorlede en ses amper oorlede. Slegs haar naam was gekoppel aan almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.