Libië-vloede: Dodetal bly styg, tienduisend nog vermis

(Foto: AFP)

Die dodetal van die verwoestende oorstromings in Libië se kusstad Derna kan volgens plaaslike amptenare tot ʼn geraamde 6 000 styg. Die syfer sal na verwagting bly styg namate hersteloperasies in die stad voortgaan.

Die oorstromings wat deur getuies met ʼn tsoenami vergelyk word, is deur oorvloedige reën van storm Daniel veroorsaak wat Libië Sondag getref het nadat die storm vroeër deur Griekeland, Bulgarye en Turkye beweeg het.

Maroela Media het vroeër berig minstens 2 300 mense is dood en duisende word nog vermis. Sommige woonbuurte is in geheel verwoes.

Talle lewelose liggame wat in komberse toegedraai is, het in die vervalle strate van Derna gelê. Volgens internasionale humanitêre werkers word ongeveer 10 000 mense steeds vermis.

Verskeie lande het reeds hulp aangebied en het reddingspanne na die oorloggeteisterde land gestuur. Turkye, Egipte en die Verenigde Arabiese Emirate is van die eerste lande wat hulp aan Libië gebied het.

Beeldmateriaal wat op Al Masar uitgesaai is en op sosiale media gedeel is, wys dele van die stad in puin, met beskadigde paaie en ineengestorte geboue.

Satellietbeelde van die stad wys hoe woonbuurte naby die kus byna heeltemal onder water was.

Die oorstromings het geboue, voertuie en mense daarin weggesleur, waarvan baie in die see beland het. Talle liggame het later op strande – wat besaai is met puin van verbrokkelde geboue en motorwrakke – uitgespoel.

Getraumatiseerde oorlewendes het deur die modderbedekte puin gegrawe om slagoffers se liggame te vind, waarvan talle in komberse op die strate gelê het voordat hulle in massagrafte begrawe is.

“Die dodetal kan nog met duisende styg,” het Tamer Ramadan van die internasionale Rooi Kruis- en Rooi Sekelmaanvereniging Dinsdag gesê.

Die Verenigde Nasies het $10 miljoen ter ondersteuning vir oorlewendes belowe, insluitend die meer as 30 000 mense wat dakloos gelaat is.

(Foto: AFP/ HO/AL -MASAR TV)

Pres. Cyril Ramaphosa het namens die regering en die mense van Suid-Afrika sy hartseer oor die twee natuurrampe in die noorde van Afrika, wat gesamentlik die lewe van byna 8 000 mense geëis het, uitgespreek.

“Meer as 5 000 mense is reeds weens die oorstromings wat verband hou met storm Daniel in die ooste van Libië dood, terwyl meer as 2 000 mense verlede naweek in ʼn aardbewing in die Atlasgebergte in Marokko gesterf het,” sê Ramaphosa.

“Suid-Afrika deel die pyn en verlies wat die mense van die ooste van Libië en Marokko ervaar. Hierdie rampe beklemtoon weer eens die broosheid van lewe wanneer dit deur natuurkragte gekonfronteer word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kerrie ·

Julle veroorsaak die vloede met Chemtrails om die Climate Change hoax te bevorder…

Miskruier ·

Ek sou jou nie geglo het as dit nie was dat ek op familie se plaas sekuriteits kamera dit gesien het nie. Australia

annie ·

Hierdie gebeure lyk na ‘n tsoenami en nie net ‘n reënstorm nie. Dalk was daar nog ‘n onderseese aardbewing ná Morocco s’n wat redelik nabygeleë is. Reën kan nie alleen sulke skade doen nie. Die VSA of Brittanje het nie vir Libië gewaarsku nie weens hul swak verhoudinge. Die skade met baie sterftes kom baie ooreen met dié dekades gelede in die Ooste.

Miskruier ·

Natuurramp sterfte agv van duisende wat op een plek gelokeer is.

Jacobus ·

Gaan kyk op Google Earth hoe daar in die rivier se loop n hele stad gebou is. Daar is nie n riviermond nie net geboue.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.