Liggame van vermiste bergklimmers gevind

Reddingspanne het die liggame per helikopter gaan haal. (Foto: Kailash Helicopter Services/AFP)

Die liggame van drie Franse bergklimmers wat verlede maand in die Himalajas vermis geraak het, is Maandag op ʼn gedeelte van die sneeubedekte bergreeks deur plaaslike gidse aangetref.

Reddingspanne het kort daarna die liggame per helikopter gaan haal.

“Die oorledenes is na ʼn klein dorp genaamd Lukla in Nepal geneem waar hulle later as Thomas Arfi, Louis Pachoud en Gabriel Miloche geïdentifiseer is,” sê plaaslike owerhede.

Soek-en-reddingspanne soek reeds geruime tyd na dié groep bergklimmers nadat hulle tydens ʼn sneeustorting vermis geraak het. Owerhede was egter nie hoopvol dat hierdie drie lewend gevind sou word nie.

Die mans was in die proses om die 6 000 meter hoë Mingbo Eiger-piek naby berg Everest in Nepal uit te klim ten tyde van hul verdwyning. Hulle het glo die poging na dié piek laat vaar en was reeds op pad berg af toe die storting hulle onkant gevang het.

Die jong klimmers was glo deel van ʼn groep van agt mense wat in twee groepe verdeel is om verskeie pieke in die gebied aan te durf.

Daar is egter op 26 Oktober per satellietfoon laas van hulle gehoor.

Reddingspogings is verlede week vir ʼn paar dae gestaak nadat slegte weer die soektog belemmer het.

Plaaslike berggidse het egter dae later die soektog hervat waarna die mans opgespoor is.

Bergklimmers het onlangs in die honderde na Nepal toe gestroom nadat die Covid-19-pandemie die bergklimbedryf maande lank tot stilstand gedwing het en die kwarantynvereistes vir ingeënte buitelanders eindelik laat vaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.