Luister: Kommer oor gewelddadige vervolging van Christene in Afrika

‘n Groep weduwees in Nigerië lees Bybelverse oor vergifnis. (Foto: Geopende Deure)

Geweld teenoor Christene in Afrika suid van die Sahara het kommerwekkende nuwe vlakke bereik, met gewelddadige Islamitiese militante wat die gebied destabiliseer deur uiterste geweld te gebruik.

Dit is een van die bevindinge uit Geopende Deure Internasionaal se Wêreldwaarnemingslys (WWL) wat vroeër in Januarie bekendgestel is.

Hierdie soort geweld is die ergste in Nigerië, tans in die sesde plek op die WWL, waar militante van Fulani, Boko Haram, Islamitiese Staat Wes-Afrika Provinsie (ISWAP) en ander strooptogte op Christen-gemeenskappe uitvoer, asook moorde, verminkings, verkragtings en ontvoerings vir ʼn losprys of seksuele slawerny.

Sub-Sahara Afrika staar ʼn enorme humanitêre katastrofe in die gesig, soos wat die vlaag godsdienstig gemotiveerde geweld vanaf Nigerië oor die res van die streek versprei, met Christen-bevolkings wat teen ʼn kommerwekkende tempo in lande soos Mali (17), Burkina Faso (23), Niger (28) en Kameroen (45) geteiken word. Tekens van jihadistiese uitbreiding is ook duidelik sigbaar in Mosambiek (32), die Demokratiese Republiek van die Kongo (37) en ander lande.

“Godsdienstig gemotiveerde moorde in Nigerië het toegeneem vanaf 4 650 verlede jaar tot 5 014 – ʼn verbysterende 89% van die internasionale totaal,” het Elizabeth Botha, mediabeampte vir Geopende Deure Suider-Afrika gesê.

Volgens die verslag is honderdduisende meer Christene tot interne ontworteling gedwing of het vlugtelinge geword. Vanjaar het die geweld ook oorgespoel na die suide van die land, wat ʼn Christen-meerderheid het.

“Geweld is slegs ʼn deel van die prentjie, met die steeds toenemende Islamisering wat druk op talle Christene in hul alledaagse lewens plaas. Nigerië se regering hou aan om te ontken dat dit godsdienstige vervolging is, so die skending van Christene se regte gaan ongestraf voort.

“Jihadistiese geweld word ʼn alledaagse verskynsel regoor sub-Sahara Afrika, met 26 lande in die streek wat beduidende vlakke van vervolging toon. Die Islamitiese terreurveldtog in die streek word aangevuur deur ʼn dodelike mengsel van mensehandel, veranderinge aan die politieke klimaat en ʼn instroming van huursoldate vanaf die skaduagtige Kremlin-ondersteunde Wagner Groep.”

ʼn Gekombineerde totale telling vir geweld vir al 26 sub-Sahara Afrikalande wat minstens 41 totale punte op die Geopende Deure WWL behaal het, het met 8% toegeneem. Die helfte van hierdie lande het geweldtellings in die uiters hoë reikwydte.

Dié jaarlikse lys, wat nou in sy 30ste jaar is, wys die top 50 lande waar Christene die ergste vervolging weens hul geloof ervaar en skep bewustheid oor die swaarkry wat vervolgde Christene elke dag in die gesig staar.

In hierdie wêreldwye opname, wat monitor hoe moeilik dit is om as ʼn Christen te leef, wys die algehele tendens dat die vervolging van Christene teen ʼn kommerwekkende tempo regoor die wêreld toeneem, ongelukkig ook veral in Afrika.

Vanjaar is die hoogste vlakke van vervolging aangeteken sedert die eerste lys 30 jaar gelede gepubliseer is, en dit het die afgelope paar jaar ʼn bestendige toename getoon. Vandag word meer Christene weens hul geloof vermoor as enige ander tyd die afgelope 30 jaar.

Die WWL het bevind dat meer as 360 miljoen Christene uiterste of baie hoë vlakke van vervolging en diskriminasie weens hul geloof ervaar – ʼn styging van 20 miljoen sedert twee jaar gelede. In die top 50 lande alleen staar 312 miljoen Christene nou baie hoë of uiterste vlakke van vervolging in die gesig. Dié syfer verteenwoordige een uit elke sewe Christene wêreldwyd, op vanaf een uit agt twee jaar gelede – met een uit vyf in Afrika, twee uit vyf in Asië en een uit 15 in Latyns-Amerika.

Oor die 30 jaar van Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys-rapportering, het die aantal lande waar Christene hoë tot uiterste vlakke van vervolging ervaar amper verdubbel vanaf 40 lande in 1993 tot 76 lande in 2023.

Nog iets wat die organisasie bekommer is die toenemende vervolging en digitale beheer in China wat die kerk bedreig, die verslegtende omstandighede vir die kerk in Latyns-Amerika en die voortgesette druk op die kerk in die Midde-Ooste.

Behalwe vir die top 50, is daar nog vyf lande wat baie hoë tellings aangeteken het. Altesaam 76 lande wys uiterste, baie hoë of hoë vlakke van vervolging en diskriminasie.

Top 5 lande

(Foto: Geopende Deure)

Noord-Korea (1) is terug in die topposisie nadat dit verlede jaar deur Afganistan onttroon is weens die Taliban-oorname van hierdie land in 2021. Voor dit was Noord-Korea egter vir die vorige 20 jaar (van 2002 tot 2021) in die eerste plek.

Noord-Korea het vanjaar die hoogste vervolgingstelling ooit. Dit reflekteer ʼn toename in die arrestasie van Christene en meer ondergrondse huiskerke wat ontdek en gesluit word. Arrestasie lei tot teregstelling, of ʼn lewe in een van die land se gruwelike onmenslike kampe vir politieke gevangenes, waar gevangenes verhongering, marteling en seksuele geweld ervaar. Die nuwe toename kom saam met die afdwinging van die nuwe “anti-reaksionêre denkewet”, wat enige gepubliseerde materiaal van vreemde oorsprong in Noord-Korea kriminaliseer, saam met die Bybel.

Ondanks die feit dat Afganistan (9) vanaf die topposisie in 2022 tot die negende posisie vanjaar afbeweeg het, bring die skerp daling min vreugde en bly vervolging in hierdie land op ʼn uiterste vlak. Die groot daling in sy ranglysposisie word daaraan toegeskryf dat bekeerlinge nou nog dieper ondergronds as tevore leef – wat ʼn groter uitdaging skep om geverifieerde data oor geweld te bekom.

Ná die brutale Taliban-oorname in 2021 is baie Christene tereggestel, aangesien die Taliban van deur tot deur gegaan het om gelowiges uit te roei. Talle Christene het dieper weggekruip of oorsee gevlug. In 2022 het die Taliban se fokus om dié wat met die ou regime verbind kan word nog meer verskerp, meer as om die baie klein aantal oorblywende Christene te ontwortel.

Somalië, wat in 2022 in die derde plek was, het vanjaar op beweeg na die tweede posisie. Dit word gevolg deur Jemen in die derde plek, Eritrea in die vierde plek en Libië in die vyfde plek.

China en verder: Die dood van universele menseregte

(Foto: Geopende Deure)

  • China (16) dryf ʼn internasionale veldtog om menseregte weg van die tradisionele universele begrippe te herdefinieer na meer subjektiewe “regte” soos bestaansreg, ontwikkeling en veiligheid.
  • China smee ʼn netwerk van nasies saam wat op soek is na die herdefiniëring van menseregte – weg van die universele standaarde en godsdiensvryheid. Andersdenkende stemme soos dié van Christene ervaar vervolging as “moeilikheidmakers” of selfs “terroriste”.
  • China verstewig hul greep op Christene met die bekendstelling van ingrypende nuwe reëls oor kerke se gebruik van die internet.
  • Lande soos Rusland (61) en Indië (11) volg hul voorbeeld, asook Sri Lanka (62), Mianmar (14), Maleisië (43) en verskeie Sentraal-Asiatiese state.
  • Christen-minderhede wat teenkanting teen die nuwe “regte” toon deur te weier om die regerende party te ondersteun, kan gebrandmerk word as “versteurders van die vrede” of selfs “terroriste”. Hulle staar arrestasie, sloping van hul kerkgeboue en die deregistrasie van hul kerke in die gesig.
  • In China het die ingrypende nuwe reëls oor kerke se gebruik van die internet die vryheid van die nasie se amper 100 miljoen Christene verder beperk. Intussen het Beijing nog meer sensorskap, disinformasie en uiterste monitering ingestel om sy beheer van Christene en ander godsdienstige groepe te versterk.
  • Opsporingstoepassings wat bekendgestel is en data wat oor Covid-19 ingesamel is, word weer opnuut benut. China en Rusland het gewys dat hulle meer as gewillig is om die nodige tegnologie uit te voer, asook ʼn aantal Westerse maatskappye wat bereid is om hulle blind te hou vir die impak van hul handeldrywery.

Ander belangrike tendense:

  • Die Christelike kerk hou aan om in die Midde-Ooste te kwyn. Dit is nie in staat om te herstel na die oplewing van die Islamitiese Staat nie, ondanks ʼn vermindering in die aantal Christene wat die afgelope jare doodgemaak is. Een uitsondering is Sirië (12), wat in die WWL 2023-rapporteringstydperk ʼn vlaag gewelddadige insidente ervaar het.
  • Nog ʼn Latyns-Amerikaanse land het die lys betree (Nicaragua op 50). Direkte regeringsonderdrukking teen Christene wat as opposisiestemme gesien word, is volop in Nicaragua, Venezuela (64) en Kuba (27), waar Christen-leiers sonder ʼn verhoor in die tronk gegooi is vir hul aandeel in verlede jaar se demonstrasies. In baie Latyns-Amerikaanse lande het georganiseerde misdaad posgevat, met kriminele groepe wat die drywers van vervolging word omdat Christene hulle teen die kartelle se aktiwiteite uitspreek, veral in landelike gebiede.
  • Die totale aantal Christene wat weens hul geloof doodgemaak is, het effens afgeneem vanaf 5 898 aangetekende gevalle (WWL 2022) tot 5 621 (WWL 2023) – met sub-Sahara Afrika as die duidelike uitsondering, soos hierbo uiteengesit. In sub-Sahara Afrika het die totale aantal Christene wat weens geloofsverwante redes ontvoer is, toegeneem vanaf 3 829 aangetekende gevalle (WWL 2022) tot 5 259 (WWL 2023).
  • Groter verdraagsaamheid word in verskeie Midde-Oosterse lande aangemoedig, insluitende Bahrain (66) en die Verenigde Arabiese Emirate (54), en ook in Egipte (35). Ongelukkig het die staatsvervolging van bekeerlinge vanaf Islam na Christenskap in Egipte onverpoosd voortgegaan. Katar (34) het ook vanjaar ʼn laer vervolgingstelling. Dit is veroorsaak deur die feit dat geen addisionele kerke gedwing is om te sluit in die WWL 2023-rapporteringstydperk nie. Baie kerke wat in die vorige rapporteringstydperk gesluit is, het egter gesluit gebly.

Ontheemdes in Yola in die Adamawa-staat, wat hoofsaaklik vir Boko Haram-geweld in die noordooste van Nigerië gevlug het. (Foto: Geopende Deure)

“Dit laat ʼn mens nederig voel om te besef dat vanjaar se 30-jarige herdenking miljoene gesinne, vroue, mans, jeugdiges en kinders verteenwoordig wat spesifiek geteiken word om ʼn hoë tot uiterste prys vir hul geloof in Jesus en hulle Christelike identiteit te betaal.

“Dit is ʼn donker prentjie – maar steeds beklemtoon dit die dringendheid en geleentheid om die plaaslike kerk in hierdie lande te vind, met hulle in verbinding te tree en by hulle te staan om te verseker dat ons broers en susters moedige ligdraers in die donkerte kan wees. Die bevindings vereis optrede,” het Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, gesê.

Besoek www.opendoors.org.za om die volledige 2023 Wêreldwaarnemingslys, die top 50 landprofiele en vervolgingstatistieke te besigtig en af te laai.

  • Luister ook na die volledige gesprek met Elizabeth Botha, mediabeampte van Geopende Deure Suider-Afrika, waar sy meer vertel oor vanjaar se Wêreldwaarnemingslys, hoe dit saamgestel is en van die tendense uitlig. Elizabeth verduidelik ook hoe jy vervolgde Christene kan ondersteun.

(Grafika verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gideon ·

Hoekom voel hulle bedreig deur die Christen geloof? Slegs die Christenne word aangeval….Dit is n bewys dat hulle weet dat JESUS die weg en die waarheid is, “elke knie sal buig en elke tong sal getuig dat Jesus God is” eendag…Wees ons genadig Here en mag U vinnig terug keer

Jackie ·

Godsdiens-vryheid as n reg word alhoemeer wêreldwyd bedreig. Het onlangs n berig gesien dat private sekuriteits personeel in Kanada n man aangesê het om n winkelsentrum te verlaat omdat sy t-hemp met die woorde ‘JESUS SAVES’daarop mense aanstoot gee. Die wederkoms van Christus om ongelowiges te oordeel en gelowiges van die tydelike aardse bestaan te bevry is naby. Is jy gereed?

Faraway ·

Dis kommerwekkend maar ook n besliste teken vir JESUS CHRISTUS se bruid dat die wegraping nader is as wat ons dink!

Harley Davidson ·

Afrika in die geheel is ‘n humanitêre krisis vir die wêreld met sy bevolkings aanwas en onvermoë om iets positief bytedra.

Elize ·

Dit is so hartseer. Al hierdie afgode wat die vyand so aanbid gaan seker sorg vir hulle siele. Broers en susters in Christus hou vas aan ons Verlosser en julle sal die krone ontvang wanneer Jesus terugkeer wat ek glo nie meer lank gaan wees nie.

Pieter9 ·

En ons brei handel met China uit – wat ‘n aanklag teen ons. Alhoewel dit nie heeltemal moontlik is nie probeer ek bewustelik nie Chinees-vervaardigde produkte koop nie. Vervolging van Christene neem toe – kyk wat besig is om in Amerika te gebeur; mense verloor hulle werk as hulle opstaan vir hulle geloof. Dit is reeds aan die gebeur in S.A waar jy o.a. nie meer ‘n diens kan weier aan persone wat goed wil doen wat nie strook met die Christelike geloof nie – bv. waar selfde geslag ‘n ‘troue’ by jou fasiliteite wil hou.

Truman Burbank ·

In westerse lande, veral suid afrika, is die meeste vervolging deur christene teenoor nie-gelowiges.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.