Lula beskryf amok as ʼn ‘fascistiese aanval’

(Foto: EVARISTO SA/AFP)

Brasiliaanse veiligheidsmagte het Maandag die gebied rondom dié land se kongresgebou, die president se woning en die hooggeregshof in Brasilia, die hoofstad, afgesper nadat ondersteuners van oudpres. Jair Bolsonaro die vorige dag daar amok gemaak het.

Die betogers het die geboue bestorm en gevandaliseer. Lede van die veiligheidsmagte het traangas, skokgranate en waterkanonne gebruik om die oproeriges uiteen te probeer jaag. Minstens 300 mense is reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Luiz Inacio Lula da Silva wat pas as president ingehuldig is nadat hy ʼn verdelende verkiesing in Oktober naelskraap gewen het, het die voorval as ʼn “fascistiese aanval” veroordeel. “Ons sal uitvind wie hierdie vandale is, en hulle sal met die volle mag van die wet tot ʼn val gebring word.”

Bolsonaro het ook die voorval veroordeel en Lula se bewering verwerp dat hy die aanvalle aangehits het.

(Foto: Ton MOLINA/AFP)

Die kantoor van die prokureur-generaal het intussen gevra dat ondersoeke onmiddellik geopen word om “die aanspreeklikheid van die betrokkenes” te verseker.

ʼn See van betogers geklee in militêre styl kamoefleerdrag en die groen en geel van die Brasiliaanse vlag het deure en vensters gebreek om die kongresgebou binne te dring. Kantore is geplunder en kunswerke, geskiedkundige voorwerpe en meubels is beskadig.

Lula het die onlangse verkiesing naelskraap gewen met 50,9% van die stemme. Bolsonaro, wat intussen na die Amerikaanse deelstaat Florida vertrek het, beweer hy is die slagoffer van ʼn sameswering teen hom deur Brasilië se howe en verkiesingsowerhede.

Daar was vinnig internasionale veroordeling van die gebeure wat volgens talle herinner aan die inval van die Amerikaanse kongresgebou twee jaar gelede deur ondersteuners van oudpres. Donald Trump.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.