Macron seëvier, met kleiner voorsprong

Frankryk se president, Emmanuel Macron. (Foto: Thomas Coex/AFP)

Frankryk se president, Emmanuel Macron, het ʼn skrale oorwinning oor sy mededinger Marine Le Pen behaal toe hy Sondag herverkies is as president van dié land.

Dit was egter die naaste wat die nasionaliste nóg daaraan gekom het om aan bewind te kom.

Luidens die finale resultate van die verkiesing, wat deur die ministerie van binnelandse sake bekend gemaak is, het Macron met 58,54% van die stemme gewen, terwyl Le Pen 41,46% daarvan ingeoes het.

Macron is die eerste Franse president in twee dekades wat vir ʼn tweede termyn herverkies is.

Die Franse president het egter in sy oorwinningtoespraak erken dat sommige burgers slegs vir hom gestem het om die nasionalis Le Pen buite die greep van beheer te hou.

“Van nou af is ek nie net die kandidaat van een kamp nie, maar almal se president,” het hy gesê.

“Baie van ons medeburgers het vir my gestem, nie as gevolg van die idees wat ek verteenwoordig nie, maar om dié van die verregses af te weer.”

Macron se jongste oorwinning oor Le Pen is kleiner as in hul laaste stryd in 2017 toe hy meer as 66% van die stemme gewen het.

Leiers van regoor die wêreld het reeds hul gelukwense aan Macron oorgedra.

“Franse kiesers het vandag ʼn sterk stem van vertroue in Europa gemaak en ek is bly dat ons ons goeie verhouding sal voortsit,” het Olaf Scholz, kanselier van Duitsland, gesê.

Die eerste minister van Brittanje, Boris Johnson, het Frankryk as een van sy land se “naaste en belangrikste bondgenote” beskryf en gesê hy sien daarna uit om hul lande en die wêreld se probleme saam aan te pak.

‘Verdeelde’ land ʼn uitdaging

Macron het in sy oorwinningstoespraak onderneem om alle pogings aan te wend om die verdeelde nasie van Frankryk te verenig.

Tara Varma, senior beleidgenoot en hoof van Parys se Europese raad vir buitelandse betrekkinge, meen egter dat dié verdeeldheid Macron se grootste uitdaging sal wees.

“Macron se grootste uitdaging sal wees om ʼn gevoel van samehorigheid in ʼn uiters gefragmenteerde land te skep,” het Varma gesê.

Die 44-jarige president staan nou voor die uitdaging van die parlementêre verkiesings in Junie, waar die behoud van die meerderheid stemme van kritieke belang sal wees.

Twee meningspeilings wat Sondag gepubliseer is, wys boonop dat die meeste kiesers nie wil hê dat Macron ook die parlementêre stem moet dra nie.

Honderde betogers van verlinkse groepe het reeds Sondag die strate in sommige Franse stede ingevaar in protes teen die verkiesingsuitslag. Die polisie was genoop om traangas te gebruik om betogers in Parys en die westelike stad van Rennes uiteen te jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VaalDonkie ·

Macron het net soveel gewen as wat Joe Biden gewen het.

Jacques ·

“Franse kiesers het vandag ʼn sterk stem van vertroue in Europa gemaak en ek is bly dat ons ons goeie verhouding sal voortsit,” het Olaf Scholz, kanselier van Duitsland, gesê.”

Geluk aan die EU marionet…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.