Mallemeule-ongeluk: ‘Seun was te swaar’

Tyre Sampson (Foto: Twitter)

’n Voorlopige verslag oor die mallemeule-ongeluk by ʼn pretpark in Orlando, VSA, wat die lewe van die 14-jarige Tyre Sampson geëis het, dui daarop dat dié tiener dalk té swaar vir die rit was. Tyre het Donderdag van die bewegende FreeFall-valtoringrit by die ICON-pretpark na sy dood geval.

NBC News berig Tyre – wat sowat 154 kg weeg – was volgens die ongeluksverslag sowat 24 kg swaarder as die gewigslimiet van die rit. Hy was ʼn ywerige voetbalspeler.

Dit het tydens ondersoeke aan die lig gekom dat hy ook dieselfde aand by twee ander mallemeulens weggewys is weens sy gewig. Sy familie vra nou waarom die personeellede hom op die FreeFall-mallemeule toegelaat het.

Shay Johnson, ’n familielid van Tyre, het aan die media vertel dat Tyre haar die Donderdag gebel en vertel het “dat hy graag op twee mallemeules wou gaan, maar hulle het hom belet omdat hy te swaar is”.

Dié FreeFall-valtoringrit is in Desember geopen en is beskou as die hoogste valtoringrit ter wêreld. Die rit neem besoekers tot ’n hoogte van 131 m en kantel vir ʼn oomblik of twee voordat dit teen ʼn spoed van ongeveer 121 km/h na benede sak.

Daily Mail berig dié mallemeule se bedryf- en instandhoudingshandleiding dui daarop dat die maksimum gewigsbeperking van die rit ongeveer 130 kg is.

Die handleiding sê uitdruklik dat personeel uiters versigtig moet wees met “groot gaste” om seker te maak hulle pas in hul sitplekke. Personeellede moet seker maak gaste is behoorlik in die raamwerk van die sitplek vasgemaak en dat die harnas wat oor die liggaam vasmaak, behoorlik pas.

In hierdie stadium is dit nie bekend of Tyre in die staalraamwerk van die sitplek gepas en of die harnas behoorlik vasgemaak was nie.

Maroela Media het vroeë berig Tyre se ouers het prokureurs aangestel om moontlike nalatigheid aan die pretpark se kant te ondersoek, wat moontlik daartoe kon bydra dat Tyre uit die mallemeule se stoel geval het.

Volgens NBC News het familielede Dinsdag by die park byeengekom om kerse aan te steek en ballonne in die lug vry te laat as hulde aan die tiener.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Renier ·

En ongelukkig is die wereld nou so dat as jy vir iemand se nee jy is te swaar,is dit ook verkeerd. RIV

Jean ·

Ek het nog nooit by Gold Reef gesien dat hulle die mense weeg nie, so die mense kan seker jok oor hulle gewig om te kan ry.

Kirst ·

Ek is 1,98m en is weggewys by ‘n rit daar omdat die stang wat oor jou bobene afsak om te keer dat jy uitval nie wou toegaan nie.

Gerhard ·

Hier is vir my baie goed wat onduidelik is en te min om te weet wat gebeur het.

Klink vir my amper na n geval van dat daar aanhou probeer is dat hy op iets kan ry. Iewers is hy toegelaat, het ongelukkig gesterf en nou dagvaar sy ouers die park vir nalatigheid?

Klink vir my baie na amerikaanse gedrag. Verander niks aan feit dat hy gesterf het nie. Steeds baie hartseer.

Maritza ·

Dis baie hartseer dat so ‘n jong lewe weg geneem is maar dit laat my wonder oor sy ouers se verantwoordelikheid. So oorgewig kan ander dood ook veroorsaak soos hartversaking ens.

Harley Davidson ·

Miskien moet hulle mense soos tyres waarsku as hulle te swaar weeg.

E ·

Maklik – pretparke weeg mense by die hek en as hulle bo dit weeg word hulle weggewys. Ek het al gesien by Gold reef city dat die kopkussing te hoog is vir die kort persone, want hulle pas volgens die lengte vereiste maar die kussing is te hoog vasgesit.

Swerwer ·

Genade, sal nooit kan dink hy is net 14 jaar oud nie, moes beslis mediese probleme
gehad het met die verskriklike gewig.

KatjieDeKat ·

Dis n baie hartseer tragedie. Op 14, al is hulle groter as gemiddeld, wil kinders nog pret he met hul maats. Dis net baie hartseer. Ek het op n Amerikaanse forum hiervan gelees, hy was blykbaar n goeie seun, ordentlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.