Man erken hy begrawe joernalis in Amasone

Dom Phillips (Foto: Twitter)

Een van die mans wat in hegtenis geneem is ná die verdwyning van die Britse joernalis Dom Phillips  en spesialis Bruno Pereira in die Amasone-oerwoud in Suid-Amerika, het nou erken dat hy dié twee mans in die oerwoud begrawe het.

Eduardo Alexandre Fontes, hoof van die federale polisie in Brasilië se Amazonas-staat, sê die verdagte, Amarildo da Costa de Oliveira, het verklap dat die twee mans noodlottig geskiet is.

Fontes het nie bekend gemaak of De Oliveira – ’n visserman – erken het dat hy die twee mans vermoor het nie. Volgens die polisie het De Oliveira wel “in fyn besonderhede vertel van die misdaad wat gepleeg is en die plek aangedui waar hy die liggame begawe het”.

Phillips en Pereira het vroeër in die Amasone vermis geraak toe hulle per boot in die Javari-vallei in Brasilië, naby die grens met Peru, gereis het om inligting vir ’n boek na te vors. Die boek handel oor volhoubare maniere om die wêreld se grootste reënwoud te beskerm.

Menslike oorskot is vroeër reeds gevind.

Die plek waar die oorskot gevind is, was “baie moeilik bereikbaar”, het ’n polisiebeampte in Manaus, die grootste stad in die Amasone, intussen gesê.

“Opgrawings is op die terrein gedoen. Die opgrawings sal voortgaan, maar menslike oorskot is reeds gevind.

“Sodra ons met behulp van kundiges kon verifieer dat dit wel die oorskot van Dom Phillips en Bruno Pereira is, sal hulle aan die families terugbesorg word.”

Phillips se Brasiliaanse vrou, Alessandra Sampaio, het Woensdag in ’n verklaring haar dankbaarheid uitgespreek teenoor al die spanne wat die soektog uitgevoer het, veral die inheemse vrywilligers.

“Hoewel ons nog wag op finale bevestiging, bring hierdie tragiese einde ook ’n einde aan die angs, vertwyfeling en onsekerheid oor waar Dom en Bruno was.”

Volgens Fontes ondersoek die polisie intussen ook die moontlike rol van ’n derde verdagte.

Vuilspel is onmiddellik ná Phillips en Pereira se verdwyning vermoed, aangesien die twee mans die week tevore dreigemente ontvang het rakende hul werk in die afgeleë streek.

Phillips doen al die afgelope 15 jaar vryskutwerk in Brasilië. Hy het Pereira in 2018 na die Javari-vallei vergesel, om ’n berig vir die Britse koerant The Guardian, vir wie hy gereeld skryf, te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.