Menslike oorskot gevind in Amasone tydens soektog na joernalis

Dom Phillips (Foto: Twitter)

Twee liggame is in die Amasone in Suid-Amerika gevind tydens die soektog na die joernalis, Dom Phillips (57), en spesialis, Bruno Pereira (41).

Dié twee het verlede Sondag in die Amasone vermis geraak toe hulle per boot in die Javari-vallei in Brasilië, naby die grens met Peru, gereis het om inligting vir ’n boek na te vors. Die boek handel oor volhoubare maniere om die wêreld se grootste reënwoud te beskerm.

Volgens inligting is die liggame aan ’n boom vasgebind en menslike binnegoed – wat in die rivier dryf – is gevind.

Dít volg nadat daar Sondag persoonlike items gevind is wat aan die twee behoort, waaronder Pereira se gesondheidskaart, broek en stewels, asook Phillips se rugsak en klere.

DNS-toetse gaan nou op die liggame uitgevoer word om te bepaal of dit wel dié van Phillips en Pereira is.

Maroela Media het vroeër berig ongeveer 48 uur nadat die twee vermis geraak het, het die vermoede ontstaan dat hulle dalk iets oorgekom het, hetsy weens ’n ongeluk of vermoedelike vuilspel.

Vuilspel word vermoed nadat die twee mans die week tevore dreigemente ontvang het rakende hul werk in die afgeleë streek.

Die polisie het sedert die mans se verdwyning ook ’n verdagte in die saak, die 41-jarige Amarildo Costa de Oliveira, met die bynaam “Pelado”, in hegtenis geneem.

Volgens ooggetuies het hulle gesien hoe Costa de Oliveira vir Phillips en Pereira dreig voor hul verdwyning, en hulle toe ook in sy boot agternagesit het net voor hulle verdwyn het.

Die Brasiliaanse president, Jair Bolsonaro, sê die bewyse laat hom glo dat iets slegs met dié twee mans gebeur het.

Hy meen ook die hoop vervaag algaande weens die tydsverloop.

“Ná agt dae sedert hulle vermis is, gaan dit baie moeilik wees om hulle lewend te vind,” het Bolsonaro aan plaaslike media gesê.

Phillips, wat in die stad Salvador gevestig is, het Pereira in 2018 na die Javari-vallei vergesel, om ’n berig vir die Britse koerant Guardian, vir wie hy gereeld skryf, te doen.

Die reservaat van 85 000 vierkante kilometer is die tuiste van ongeveer 6 300 inheemse mense wat in 26 groepe verdeel is. Altesaam 19 van hierdie groepe het feitlik geen kontak met die buitewêreld nie.

Brasilië se agentskap vir inheemse sake, Funai, se basis is in dié vallei geleë, wat opgerig is om inheemse inwoners te beskerm. Hierdie basis het die afgelope paar jaar verskeie kere onder aanvalle deurgeloop.

In 2019 is ’n Funai-beampte daar doodgeskiet.

Die streek het die afgelope paar jaar ’n oplewing van onwettige mynbou, houtkappery en stropery beleef, en die afgeleë ligging daarvan maak dit ’n toevlugsoord vir dwelmsmokkelaars, het Fiona Watson, navorsingsdirekteur by die inheemseregte-groep Survival International, gesê.

Geen hoop

Phillips se skoonma het Sondag gesê die gesin het hoop verloor om die twee lewend te vind.

“Hulle is nie meer met ons nie. Moeder Natuur het hulle weggeraap met ’n dankbare omhelsing,” het sy op sosiale media geplaas.

“Hul siele het by dié van soveel ander aangesluit wat hul lewe gegee het ter verdediging van die reënwoud en inheemse volke.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

annie ·

Nie orals op die planeet het mense respek vir jou as jy die taal van die Britse kroon besig nie… Nie soos in SA nie. Joernaliste maak groot geld met die verfilming van verre plekke. Met dankbare omhelsing… Sjoe!

miche ·

“Moeder Natuur het hul weggeraap in ‘n dankbare omhelsing…” ?
Party mense raak op die vreemdste tye poëties.

Janee ·

Sou dit miskien wees oor die navorsing wat gedoen is oor behoud van die reënwoud?…Bolsonaro is juis een wat toestemming gegee het aan boere vir die begin van die vernietiging….

Marcello ·

Ek neem aan die plaaslike mense sien hulle as bedreiging.

Niklaas ·

Vreemdelinge van die buiteland is gewoonlik nie vreeslik welkom in sulke gebiede nie. Die gevoel is gewoonlik dat die buitelanders kom ondersoek instel na bedrywighede in die oerwoud , wat eerder verswyg moet wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.