Man wat 18 jaar in lughawe woon, sterf

Mehran Karimi Nasseri by die plakkaat van die fliek ‘The Terminal’, wat deur sy lewensverhaal geïnspireer is. Die foto is op 12 Augustus 2004 geneem. (Foto: Stephane de Sakutin/AFP)

Mehran Karimi Nasseri, die man wat 18 jaar lank in die Charles de Gaulle-lughawe in Parys, Frankryk, gewoon het, is Saterdag in dieselfde lughawe oorlede.

Nasseri is deur die lughawe se mediese span dood verklaar. Volgens CNN het hy aan natuurlike oorsake gesterf. Hy was 78 jaar oud.

Die Irannese vlugteling het die Steven Spielberg-rolprent, The Terminal, geïnspireer. Tom Hanks en Catherine Zeta-Jones vertolk die hoofrolle in die fliek wat in 2004 uitgereik is.

Nasseri was in 1988 op pad na Brittanje via België en Frankryk toe hy van sy dokumente verloor het. Hy kon gevolglik nie ʼn vlug haal nie en kon ook nie die lughawe verlaat nie en het tot 2006 in limbo op die lughawe geleef.

Mehran Karimi Nasseri skeer vroeg op die oggend van 12 Augustus 2004 sy baard in een van die terminale van die Charles de Gaulle-lughawe in Parys, Frankryk. (Foto: Stephane de Sakutin/AFP)

ʼn Woordvoerder van die lughawe het gesê Nasseri is na ʼn versorgingseenheid verskuif, maar hy het self in September vanjaar na die lughawe teruggekeer om as ʼn hawelose persoon in die lughawe se openbare gedeelte te woon.

“Hy was ʼn ikoniese figuur by die lughawe en die hele lughawe-gemeenskap was geheg aan hom. Ons werknemers het soveel moontlik na hom omgesien, selfs al sou ons verkies het om eerder vir hom regte beskutting te kry.”

Die Franse owerhede het in ʼn stadium aangebied om Nasseri toe te laat om in Frankryk te woon, maar hy het dié aanbod van die hand gewys, glo omdat hy sy oorspronklike bestemming – Brittanje – wou bereik.

Nasseri is in 1945 in die Irannese provinsie van Khuzestan gebore. Hy het oorspronklik van Iran na Europa gevlieg om na sy ma te soek.

Die plakkaat van die fliek ‘The Terminal’ met Tom Hanks, wat deur Nasseri se lewensverhaal geïnspireer is. (Foto: IMDb)

Bykomende bronne: CNN, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandra ·

Nou wie dink die Britte is hulle dat hulle nie die man ooit in hulle land toegelaat het oor sy papiere nie? Wie is hulle om hom minder te ag as ander erger mense wat die land betree.

JohanR ·

Kan nie dink om 18 jaar in 0R rond te wandel nie. Miskien Lanseria want daar kan jy lekker eet by Wiesenhof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.