Marokko-aardbewing: Dodetal steek 2 000 verby

Reddingswerkers soek deur die puin na moontlike oorlewendes (9 September 2023) (Foto: Fadel Senna/AFP)

Marokkane treur Sondag oor die slagoffers van ʼn verwoestende aardbewing wat reeds die lewens van meer as 2 000 mense geëis het. Reddingspanne spook om oorlewendes te vind wat moontlik onder die puin vasgekeer is.

Minstens 2 012 mense is dood in die sterkste aardbewing tot dusver wat die land getref het. Meer as 2 059 mense is beseer, waarvan talle kritieke beserings opgedoen het, aldus die jongste amptelike syfers.

Vrydag se aardbewing van 6,8 het 72 km suidwes van die toeristebestemming Marrakesj plaasgevind. Sommige dorpies in landelike gebiede is in geheel verwoes.

“Ek het alles verloor,” het Lahcen, ʼn inwoner van Moulay Brahim, gesê. Sy vrou en vier kinders is oorlede.

Reddingswerkers het die liggame van Lahcen se drie dogters uit die puin van dit wat eens hul huis was, gehaal. Die liggame van sy vrou en seun is nog nie gevind nie.

“Ek kan nou niks daaraan doen nie. Ek wil net wegkom van die wêreld en treur.”

Soldate en nooddienste het na afgeleë gebiede gehaas waar slagoffers vermoedelik steeds onder die puin vasgekeer is.

Al-Haouz-provinsie, waar die episentrum van die aardbewing geleë is, het die meeste sterftes aangemeld – altesaam 1 293, gevolg deur Taroudant met 452.

Fatema Satir, ʼn inwoner van Marrakesj, het aan AFP gesê talle inwoners slaap nog in die straat uit vrees dat hul huise inmekaar kan stort.

“Kyk waar slaap hierdie mense. Daar is geen hulp vir ons nie. Ons huise is gekraak. Dit is chaos.”

Owerhede het drie dae van rou aangekondig.

Verskeie lande, insluitend Israel, Frankryk, Spanje, Italië en die VSA, het hulp aangebied.

Naburige Algerië, wat onstuimige bande met Marokko het, het sy lugruim oopgestel wat al vir twee jaar gesluit was, om seker te maak humanitêre hulp en beseerdes kan per vliegtuig vervoer word.

Die Rooi Kruis het gewaarsku dat dit moontlik jare lank kan neem om die skade te herstel.

“Dit sal nie ʼn week of twee wees nie, ons kyk na ʼn reaksie wat maande lank sal duur, indien nie jare nie,” het Hossam Elsharkawi, Rooi Kruis-direkteur vir die Midde-Ooste en Noord-Afrika, in ʼn verklaring gesê.

Die dorp Tafeghaghte, 60 km suidwes van Marrakesj, is byna heeltemal in die aardbewing verwoes.

“Drie van my kleinkinders en hul ma is dood,” het die 72-jarige Omar Benhanna gesê. “Hulle is steeds onder die puin. Hulle het onlangs nog saam gespeel.”

Inwoners het sowat 70 slagoffers Saterdag in ʼn nabygeleë begraafplaas begrawe.

Die skudding is ook gevoel in die kusstede Rabat, Casablanca, Agadir en Essaouira.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.