Massaskieter neem sy eie lewe

Die skieter het sy eie lewe in die paneelwa geneem (Foto: Robyn Beck/AFP)

Die motief vir ʼn skietery wat 10 mense se lewens in Kalifornië geëis het, is nog steeds onbekend. Die skieter het sy eie lewe geneem toe die polisie hom in hegtenis wou neem.

Maroela Media het vroeër berig ʼn grootskaalse soektog is laat Saterdag van stapel gestuur ná ʼn man blindelings op ʼn dansplek in Monterey Park aan die suide van Kalifornië losgebrand het. Inwoners van die gebied het die Chinese nuwe maanjaar gevier toe daar op hulle geskiet is.

Vyf mans en vyf vroue, meeste in hul 50s of 60s, is dood, het die polisie gesê. Minstens 10 mense is beseer.

Die verdagte, later deur die polisie geïdentifiseer as die 72-jarige Huu Can Tran, het daarna na nóg ʼn dansplek daar naby gegaan. Mense by die klub het hom egter getakel en hom ontwapen voor hy gevlug het.

Robert Luna, sheriff van Los Angeles, sê oor die volgende paar uur was die polisie op die uitkyk vir ʼn paneelwa. Dit is later opgemerk in Torrance, ʼn paar kilometer suid van die toneel.

Toe beamptes die voertuig genader het, het hulle ʼn enkele skoot in die voertuig gehoor.

“Die verdagte het ʼn selftoegediende skietwond opgedoen. Hy is op die toneel dood verklaar. Ek kan bevestig dat daar nie enige verdere verdagtes gesoek word nie.”

Luna sê die rede vir die grusame aanval bly ʼn raaisel.

“Die ondersoek duur voort. Speurders werk onverpoosd om bykomende inligting te versamel en die motief te bepaal.”

Hy het twee mense by die tweede toneel, waar daar ook ʼn poging tot ʼn aanval was, geloof. “Die verdagte het daar ingestap met die doel om nog mense dood te maak. Twee dapper lede van die gemeenskap het besluit om na aksie oor te gaan en hom te ontwapen. Hulle het die wapen by hom afgeneem en die verdagte het weggehardloop.”

Luna sê die vuurwapen was nie ʼn aanvalsgeweer nie. “Dit was ʼn semi-outomatiese aanvalspistool. Dit het ʼn vergrote magasyn gehad.”

“Ons weet nie of dit ʼn haatmisdaad was nie. Maar wie loop by ʼn danssaal in en skiet 20 mense?” het Luna vroeër gesê.

Polisiebeamptes was Sondag nog op die toneel waar versierings opgerig is om die nuwe Chinese maanjaar te vier. ʼn Banier oor die straat lui: “Happy Year of the Rabbit”.

Tienduisende mense het Saterdag bymekaargekom vir die twee dae lange Chinese nuwemaanjaarfees, een van die grootste feeste in die suide van Kalifornië. Die tweede dag van die fees is egter ná die aanval gekanselleer.

Die Amerikaanse departement van justisie het gesê meer as 7 000 haatmisdade is in 2021 in die VSA aangemeld, waarvan twee derdes rasverwant is. Die voorval in Monterey Park is die land se dodelikste aanval sedert ʼn skieter verlede jaar in Mei by ʼn laerskool in Uvalde, Texas, losgebrand en 21 mense se lewens geëis het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.