Meer as 45 000 gevalle van swaminfeksie in Indië

Mukormikose (Foto: Nephron, eie werk via Wikimedia Commons)

Indië het die afgelope twee maande reeds meer as 45 000 gevalle van ʼn dodelike swaminfeksie aangeteken, het die ministerie van gesondheid gesê. ʼn Landswye uitbreking teister Covid-19-pasiënte.

Bharati Pravin Pawar, junior gesondheidsminister, het Dinsdag aan die parlement gesê meer as 4 200 mense is reeds dood weens die swaminfeksie, mukormikose. Mukormikose is ʼn swaminfeksie deur een van allerlei swamme. Dit veroorsaak verspreidende nekrotiese letsels in die neusholte, verhemelte en lugweë. Metastatiese absesse elders is ernstige komplikasies in immuungekompromitteerde pasiënte.

Die infeksie is vroeër as baie seldsaam beskou, maar gevalle het skerp toegeneem tydens die Covid-19-pandemie en tref pasiënte gewoonlik net ná hulle van die koronavirus herstel het. Dit is ʼn hoogs aggressiewe siekte en dokters is gedwing om mense se oë, neus en kakebeen te verwyder om te voorkom dat dit na die brein versprei.

Die sterftekoers is meer as 50%.

Volgens regeringsdata is die hoogste getal gevalle in die westelike staat van Maharashtra (9 348 gevalle) aangemeld.

Indië het voor die pandemie gemiddeld sowat 20 gevalle per jaar hanteer en slegs onder mense wie se immuunstelsels gekompromitteer is – byvoorbeeld diegene met MIV, hoë suikervlakke of orgaanoorplantingsontvangers.

Kenners skryf die onlangse styging in gevalle toe aan die uitermatige gebruik van steroïde om Covid-19 te behandel. Die Indiese regering het die swaminfeksie in Mei tot ʼn epidemie verklaar tot gevalle begin toeneem het.

Daar is verskeie pleidooie op sosiale media vir medikasie wat die siekte kan behandel.

Die regeringsdata, wat Dinsdag vrygestel is, wys gevalle het in Mei en Junie ʼn hoogtepunt bereik, maar het intussen begin daal. Die Hindustan Times het egter Maandag berig daar is ʼn toename in gevalle onder kinders in die noordelike staat van Rajasthan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eend Bessinger ·

Virusse en swamme gaan gewoonlik saam. Ek is nie verbaas dat daar swaminfeksies na die COVID-19 Delta pandemie daar is nie.

Dirk Mostert ·

Is dit dieselfde swamme wat volgens berigte in covid-pasiente se longe waargeneem is na intensiewe sorg in hospitale?

VaalDonkie ·

Ek sou so aflei siende dat die berig praat van COVID-pasiente en steroides

Jack ·

Ek hoop nou nie hulle voer die swam in na ons land soos met delta nie. Ons het werklik geen beskerming teen die goed met ons regering wat oorval is en nie weet waarheen nie. Maak maar nog n wet wat indiers verbied om in te kom.

Rosie ·

Gaan kyk gerus “The insidious face of a pandemic of variants” deur Geert Vanden Bossche se video op YouTube. Hy verduidelik baie mooi waar kom die delta vandaan. Hy werk al jare vir die plek wat die spuite vervaardig. Ek hoop vir julle part dit is nog daar. Want alles wat waarheid is word verwyder.

Tanniepetoors ·

Fobnuus en blatante leuens word verwyder as dit bewys word as vals, anders nie. Jy kan glo wat jy wil. Goeie oordeel en wye verskeidenheid bronne is ‘n goeie beginpunt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.