Meer as 90 dood toe boot aan Mosambiekse kus sink

Mosambiek-eiland (Foto: GUIZIOU Franck/hemis.fr/Hemis via AFP)

Meer as 90 mense is dood nadat ʼn oorlaaide tydelike veerboot aan die noordkus van Mosambiek gesink het.

Die omgeboude vissersboot, met sowat 130 mense aan boord, het in die moeilikheid beland onderweg na ʼn eiland langs die Nampula-provinsie, het amptenare gesê.

“Omdat die boot oorlaai was en nie geskik was om passasiers te vervoer nie, het dit uiteindelik gesink. Daar is 91 mense wat hul lewe verloor het,” het Nampula se minister van buitelandse sake, Jaime Neto, gesê. Talle van die slagoffers was kinders, het hy bygevoeg.

Reddingswerkers het vyf oorlewendes gevind, maar seetoestande het die reddingsoperasie bemoeilik.

Die meeste passasiers het glo op die boot geklim in ʼn poging om van die vasteland weg te kom weens vrese wat veroorsaak is deur waninligting oor cholera, het Neto gesê. Daar is sedert Oktober byna 15 000 gevalle en 32 sterftes aangeteken.

Nampula is die streek wat die ergste geraak word. Die provinsie het die afgelope maande ook ʼn groot toestroming van mense beleef wat weens ʼn vlaag djihadiste-aanvalle uit Cabo Delgado vlug.

Neto het gesê ʼn ondersoekspan werk daaraan om die presiese oorsaak van die bootramp vas te stel.

Die boot was op pad na Mosambiek-eiland, ʼn klein koraaleiland en nou ʼn wêrelderfenisgebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

N eeu gelede het mense gesterf oor besoedelde water, is ons nou weer op daardie punt?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.