Meer as R1,7 miljard vir ʼn skildery betaal

Gustav Klimt – Dame mit Fächer (Afskrif uit ʼn kunsboek, openbare domein via Wikimedia Commons)

Die laaste skildery wat Gustav Klimt geskilder het, is Dinsdag in Londen verkoop vir £74 miljoen (meer as R1,7 miljard) – ʼn nuwe rekord vir Europese kunsveilings.

Die Oostenrykse kunstenaar se Dame mit Fächer (Vrou met ʼn waaier) is deur Sotheby’s-afslaers verkoop. Die vorige rekord vir ʼn kunswerk in Europa was Alberto Giacometti se Walking Man I wat in Februarie 2010 vir £65 miljoen verkoop is.

Dame mit Fächer word beskryf as ʼn “mooi, ryk en aantreklike portret van ʼn onbekende vrou”. Dit is op Klimt se esel in sy ateljee gevind toe hy in Februarie 1918 in die ouderdom van 55 skielik oorlede is.

Helena Newman, van Sotheby’s, het vroeër gesê dit is tydens Klimt se artistieke hoogtepunt geverf, toe hy van sy mees bekende en eksperimentele werke vervaardig het.

“Baie van dié werke, en beslis die skilderye waarvoor hy bekend is, is in opdrag voltooi,” het Newman gesê. Sy staan aan die hoof van Sotheby’s Europa en is die internasionale hoof van impressionistiese en moderne kuns.

“Hierdie is egter iets heeltemal anders. Dit is ʼn tegniese prestasie, vol grensverskuiwende eksperimentering en ʼn hartlike ode aan ʼn absolute skoonheid.”

Ander skilderye wat rekords behaal het, was Claude Monet se Le bassin aux nympheas wat in Junie 2008 in Londen vir £40,9 miljoen verkoop is. Rene Magritte se L’empire des lumieres is in Maart vir £59,4 miljoen deur Sotheby’s verkoop.

Klimt se skilderye is selde vir die publiek beskikbaar om te koop.

Twee skilderye is na bewering privaat vir meer as $100 miljoen elk verkoop.

Portrait of Adele Bloch-Bauer II, wat die vrou van ʼn Joodse suikermagnaat uitbeeld, was een daarvan. Oprah Winfrey het dit in 2016 vir $150 miljoen aan ʼn onbekende Chinese koper verkoop.

Die ander, Portrait of Adele Bloch-Bauer I, is in 2006 vir $135 miljoen verkoop aan die eienaar van die Neue Galerie in New York.

Alhoewel die hamer Dinsdag op £74 miljoen geval het, sal die onbekende koper £85,3 miljoen moet opdok wanneer die koper se premie (die standaardfooi wat afslaers eis) bygereken word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Danie ·

Dalk weet die koper nie wat om met sy berg geld te doen nie?N skildery ag asseblief ek koop eerder n ford.

marius ·

En terwyl hulle leef sny hul eie ore af en vergaan gaan van honger. Hoe ironies .

Michael ·

Die pryse vir die kunswerke is werklik absurd-seker maar kenmerkend van ‘n vervalle samelwing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.