Meer bekend oor dood van Betty White, Bob Saget

Betty White by die 70ste Emmy-toekennings by die Microsoft-teater in Los Angeles, Kalifornië (17 September 2018) (Foto: Robyn Beck/AFP)

Die oorsaak van die geliefde aktrise Betty White wat op 31 Desember verlede jaar in die ouderdom van 99 dood is, se dood is amptelik bekend gemaak. Die lykskouing van die komediant Bob Saget wat Sondag in sy hotelkamer aangetref is, is ook afgehandel.

White, wat net ʼn paar weke voor haar 100ste verjaardag dood is, het volgens owerhede en haar doodsertifikaat ʼn “serebrovaskulêre insident”, oftewel ʼn beroerte, gehad. Sy is ses dae later in haar huis oorlede.

White se vriend en agent, Jeff Witjas, het voorheen aan E! News gesê sy het “vreedsaam in haar slaap in haar huis gesterf” en het bewerings ontken dat haar dood met die Covid-19-inenting verband hou.

“Mense sê haar dood is verwant aan ʼn versterkende dosis (booster shot) van die inenting drie dae tevore, maar dit is onwaar. Sy is aan natuurlike oorsake dood,” het Witjas op 3 Januarie in ʼn verklaring gesê.

“Haar dood behoort nie verpolitiseer te word nie – dit is nie die lewe wat sy gelei het nie.” White is op 17 Januarie 1922 gebore.

Betty White tydens die 2015 TV Land-toekennings by die Saban-teater in Beverly Hills, Kalifornië (11 April 2015) (Foto: Joe Scarnici/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die aktrise het slegs ʼn paar weke voor haar dood aan People-tydskrif gesê sy is “gelukkig om so gesond te wees en só goed te voel op dié ouderdom. Dis wonderlik.”

Sy het haarself as ʼn ewige optimis beskryf en gesê dit was die sleutel tot haar opgeruimde geaardheid. “Ek het dit by my ma gekry en dit het nooit verander nie. Ek probeer altyd om die positiewe kant te sien.”

Die aktrise, komediant en Amerikaanse ikoon was ʼn toonaangewer en voorloper in die media en het tot en met haar dood die langste loopbaan vir enige vrou in televisie gehad.

Die veelbekroonde aktrise het die afgelope agt dekades, sedert 1939, in verskeie TV-programme verskyn en was veral bekend vir haar rol as Rose Nylund in die reeks The Golden Girls (1985-1992).

Bob Saget

Bob Saget in 2019. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Intussen het verskeie nuusbronne berig oor die dood van die akteur en komediant Bob Saget, wat Sondag dood in sy hotelkamer in Orlando, Florida, aangetref is.

Volgens berigte is die lykskouing op die akteur, wat 65 jaar oud was, Maandag deur ʼn mediese ondersoeker in Orange County afgehandel. Daar word in dié stadium geen vuilspel of dwelmmisbruik vermoed nie.

Joshua Stephany, die hoof mediese ondersoeker, het in ʼn verklaring aan CNN gesê die oorsaak van Saget se dood is nog hangende en verdere ondersoeke moet gedoen word wat tien tot 12 weke kan duur om af te handel.

Saget, wat onder meer bekend was vir sy rol as die patriarg Danny Tanner in die sitkom Full House, se liggaam is in ʼn kamer van die Ritz-Carlton-hotel in Orlando, Grande Lakes, aangetref.

Saget sou Sondag uitteken by die hotel en sy familielede het die hotel se sekuriteit gekontak toe hulle hom nie in die hande kon kry nie, lui ʼn verslag deur die Orange Country-sheriff se kantoor.

Volgens dié verslag was die kamer “netjies” toe sy liggaam gevind is en was daar geen tekens van trauma aan die akteur se liggaam nie en was daar “items wat aan mnr. Saget behoort het op die bedkassie, televisiekas, in die hangkas en in die badkamer”, berig ABC7.com.

Saget was in Florida as deel van sy komedietoer. Volgens sy toerdatums wat op Twitter geplaas is, het hy Saterdagaand by Ponte Vedra Beach, Florida, opgetree.

Bob Saget en sy vrou, Kelly Rizzo Saget, op 8 Desember 2021 die tapyt tydens die première van die komediereeks ‘MacGruber’ by die Kaliforniese wetenskapsentrum in Los Angeles. (Foto: Leon Bennett/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Kelly Rizzo Saget, die akteur se vrou, het in ʼn verklaring die publiek bedank vir hulle ondersteuning.

“My hele hart. Bob was my absolute alles. Ek is heeltemal verpletter en in ongeloof. Ek is so diep geraak deur die liefde en huldeblyke van vriende, familie, sy aanhangers en portuurgroep. Wanneer die tyd reg is en die nuus nie so rou is nie, sien ek uit daarna om meer van Bob met die wêreld te deel. Om te deel wat hy vir my en almal rondom hom, insluitend sy aanhangers en vriende, beteken het. Dankie dat julle my privaatheid respekteer gedurende hierdie tyd.”

John Stamos, Saget se jarelange vriend en mede-akteur in die reekse Full House en Fuller House, het ʼn roerende huldeblyk aan Saget op Twitter gelewer.

“Ek is stukkend. Ek is platgeslaan. Ek is in totale skok. Ek sal nooit weer ʼn vriend soos hy hê nie. Ek is baie lief vir jou, Bobby,” het Stamos geskryf.

Bykomende bronne: E! News, ABC7.com, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

madels ·

hmmm, interessant, nou hoekom sal mense sê dat Betty White n booster COVID inspuiting gehad het drie dae voor haar dood as dit nie so was nie? En een van COVID inspuiting se newe effekte is bloedklonte, en dis mos wat n beroerte is! Maar nee dit sal mos nou nie erken word nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.