Meeste Christene nóg wêreldwyd vervolg

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Meer as 360 miljoen – een uit sewe – Christene wêreldwyd word tans vervolg weens hul geloof. Dit is die hoogste vlakke van vervolging nóg sedert Geopende Deure Internasionaal sy eerste Wêreldwaarnemingslys byna drie dekades gelede uitgereik het.

Luidens dié organisasie se jongste lys van 50 lande waar Christene vervolg word, word 20 miljoen meer Christene die afgelope jaar vervolg vergeleke met die vorige jaar, toe een uit agt Christene wêreldwyd hoë vlakke van godsdienstige vervolging beleef het.

Afghanistan is nou die gevaarlikste plek in die wêreld om ʼn Christen te wees nadat die Taliban in Augustus verlede jaar aan bewind gekom het.

Dié land vervang Noord-Korea nadat dit vir die afgelope 20 jaar as die land met die meeste vervolgings van Christene aangewys is. Vervolging in Noord-Korea het ten spyte hiervan steeds rekordhoogtes bereik en plaas Noord-Korea in die tweede plek.

Somalië is tans die derde gevaarlikste plek om die Christengeloof uit te leef, terwyl Nigerië weer as die gewelddadigste land vir Christene aangewys is. Drie van die topvyf gewelddadigste lande is op die Afrika-kontinent geleë.

Geweld teenoor Christene

Die aantal Christene wat weens hul geloof doodgemaak is, het vanaf 4 761 geregistreerde gevalle tot 5 898 gestyg. Altesame 4 650 (79%) van dié Christene is in Nigerië doodgemaak.

Die getal aanvalle op kerke het ook toegeneem – vanaf 4 488 tot 5 110 – terwyl die getal aanhoudings en inhegtenisnemings met 44% tot 6 175 gestyg het. Altesame 1 315 van dié voorvalle het in Indië plaasgevind.

Die belangrikste veranderinge op die mees onlangse lys:

  • Katar het vanaf nr. 29 na nr. 18 geskuif. Ernstige fisieke, sielkundige en seksuele geweld teenoor Christenvroue word hiér aangemeld.
  • Indonesië het vanaf nr. 47 na nr. 28 geskuif. Twee aanvalle op Christene in Sentraal-Sulawesi asook ʼn bomaanval by ʼn katedraal in Makassar is hiér aangemeld.
  • Mianmar het vanaf nr. 18 na nr. 12 geskuif. Die land se weermag het Christelike dorpe en kerke aangeval en meer as 200 000 mense na interne ontwortelingskampe verdryf.
  • Bhoetan het vanaf nr. 43 na nr. 34 geskuif, nadat bekeerlinge veral gemeenskapsdruk en geweld ervaar het.
  • Geopende Deure se jongste verslag verwys spesifiek na Indië (nr. 10) waar die bevolking al hoe meer by die nasionalistiese Hindutva-ideologie ingetrek word, waarvolgens elke Indiër ʼn Hindoe moet wees. ʼn Vlaag van vigilante-geweld teenoor Christene en ander godsdienstige minderheidsgroepe word deur die owerhede oor die hoof gesien en selfs deur politieke leiers oor die hele bevolking heen aangemoedig.
  • ʼn Soortgelyke model van lojaliteit en homogeniteit word in nasies so uiteenlopend soos Mianmar, (nr. 12), Maleisië (nr. 50), Sri Lanka (nr. 52) en die sentrale Asiatiese state gesien. Al hierdie lande ervaar toenemende beperkings vir diegene wat van die opvatting “een land, een volk, een siening” afwyk.
  • Verskeie lande het ʼn afname in geweld ervaar: Irak (vanaf nr. 11 na nr. 14), Sirië (vanaf nr. 12 na nr. 15), Egipte (vanaf nr. 16 na nr. 20) en Turkye (vanaf nr. 25 na nr. 42). Dit is moontlik dat daar te midde van die Covid-19-pandemie minder geleenthede vir aktiewe vervolging was.

Lynette Leibach, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, sê vanjaar se Wêreldwaarnemingslys skets ʼn somber prentjie.

“Afghanistan se styging tot die topposisie is uiters kommerwekkend. Afgesien van die ontelbare gevalle van swaarkry wat dit verteenwoordig, stuur dit ook ʼn baie duidelike boodskap aan Islamitiese ekstremiste oor die hele wêreld dat hulle sonder enige vervolging kan voortgaan met hul brutale stryd vir invloed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Marius ·

Tyd om wakker te word. Daar is baie erger dinge as ‘n verkouetjie voor die deur.

Leeuwyfie ·

Dis vreeslik. Die land wat nog nie op hierdie lys is nie is Canada. Wetgewing soos C4 wat “conversion therapy” as misdaad verklaar het is gemik op ouers en kerke. Die wetgewing sê dat niemand(nie ouers of dominees of terapeute) ander mag help wat nie meer homoseksueel of trans wil wees, om weer heteroseksueel of hul oorspronklike geslag te word nie. Jy mag ook nie sê dat die natuurlike orde normaal of natuurlik is nie. Maar hierdie wet is glad nie van toepassing op diegene wat ander mense/kinders “conversion therapy” gee om trans of homoseksueel te word nie. Dus is hierdie ‘n klipharde klap teen ouers en kerke. ‘n Pa is juis onlangs aangekla van kindermishandeling oor hy weier om sy minderjarige dogter die regte voornaamwoorde (hy, hom) wat sy verkies(sy wil nou ‘n man wees), te noem. Dis hoe ver dit al gevorder het in westerse lande wat eens trots Christen-nasie was. Dit staan voor ons deur.

Jason ·

Watse klomp nonsens praat jy? “Conversion therapy” is bewys as sielkundig skadelik, so waar de hel val jy uit met die natuurlike orde? Kom by en hou op ignorant wees. Jy het duidelik geen idee wat dit is om vervolg te word vir jou geloof nie.

Grassie ·

Jason – ek dink nie dit is billik om beledigend te wees as jy nie met iemand saamstem nie.

Kobie ·

Kanada is ń demokratiese land waar daar ń streng divisie tussen kerk en staat is. Soos dit hoort.
Gaan doen jou huiswerk oor “conversion therapy” – dit is pseudowetenskap en is skadelik. Ons leef nie meer in die steentydperk nie!

Faraway ·

As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Joh 15 : 18-27

Grassie ·

Volgens die profesië in die Bybel gaan die vervolging en verdrukking van Christene in die eindtyd baie erg toeneem. Christus sê in Mattheus 24 die verdrukking van gelowiges sal so erg word dat die Skepper daardie dae sal verkort voordat almal uitgewis word. Daar lê vir ons moeilike tye voor.

annie ·

Hoeveel van ons geestelikes het gedurende die pandemie ons vermaan om te bid dat die Vader ons genadig moet wees en die siekte verdryf? Wat lyk of kerklikes nie (meer) werklik glo dat peste uit die hand van die Here kom as straf nie; bloot mites is. Gaan dit meer oor geld wat gemeentes in en sosiale verkeer en die status van predikers wat eerder eie boeke bemark, liberale toesprake afsteek en net op een knie aanbid ipv om die Woord te verkondig? Begrafnisse word mens-verheerliking/voorvader-aanbidding/New Age-getoi, terwyl Christene elders met hul lewens boet?

Jason ·

En dit is hoekom “separation of church and state so belangrik is…

Vicky ·

En net so word ander gelowe ook geteiken en vervolg. Christenskap is nie uitsondering nie.

Paul ·

Waar? Gee voorbeelde. Miskien die Moslems in China maar die Christelike geloof word nog erger in China vervolg. Besef jy dat die ergste vervolging soos hierbo genoem kom van Moslems teenoor Christene? Gee my ook voorbeelde waar Christene ander gelowe vervolg. Jy kannie.

Alfred E Neuman ·

Ook die Rohingya in Mianmar. Hulle is ook moslems.

Jannie van Niekerk ·

Dit bewys weereens daar is ‘n doelbewuste poging van Nie Christen Afrika lande om hulle volgelinge aan te moedig om Chritenlande te infiltreer. Suid Afrika , pasop vir die mag van duisternis uit Afrika.

Tienie ·

Wat verwag julle. Dit moet gebeur sodat die sagmoedige antichris gou alles moet kom regruk.

Die einde is nou baie naby. Dit wat in die Woord van God in Daniel en Openbaring voorspel word is besig om voor ons oë af te speel.

Die Vye boom het klaar gebod en die Jode is klaar terug in Israel.

Alfred E Neuman ·

Daar is 3 maal soveel Jode buite Israel, as binne Israel. Jou stelling is nie korrek nie.

Alfred E Neuman ·

Die Rhoyinga moslems van Mianmar word ook vervolg weens hulle geloof. Christene kan nie alleen vervolging opeis nie.

Charl ·

Tekens van die eindtyd mense, ons sal moet veg vir ons geloof as Christene !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.