Meghan Markle se ‘boelie-verslag’ nie gepubliseer

Meghan Markle, die hertogin van Sussex. (Foto: Toby Melville/AFP)

Die besonderhede van die opspraakwekkende ondersoek na Meghan Markle, die hertogin van Sussex, se beweerde boeliegedrag teen Buckingham-paleis-personeel sal nie gepubliseer word nie.

AFP het berig dat Buckingham-paleis in Maart verlede jaar ’n ondersoek van stapel gestuur en getuienis van personeel ingesamel het oor hul werkservarings saam met die hertogin.

Dié ondersoek het gevolg ná ʼn koninklike assistente beweer het dat die hertogin haar geboelie het, twee persoonlike assistente uit die huishouding verdryf het en ʼn derde personeellid se gesag ondermyn het.

Meghan en Harry het enkele dae na die aankondiging van dié ondersoek die koninklike familie geskok toe hulle ongenoemde familielede van rassisme beskuldig het tydens ’n onderhoud met die Amerikaanse televisiepersoonlikheid Oprah Winfrey.

Markle het ook tydens dié onderhoud aantygings van afknouery ontken en via ʼn amptelike verklaring dit “’n berekende smeerveldtog” genoem. “Die hertogin is hartseer oor die jongste aanval op haar karakter, veral omdat sy dikwels self die teiken daarvan is en daartoe verbind is om diegene te ondersteun wat soortgelyke pyn en trauma al ervaar het,” lui ‘n deel van dié verklaring.

Daar is in die Britse media berig dat ʼn volledige verslag vrygestel sal word sodra die ondersoek afgehandel is, maar geen nuus oor dié ondersoek is al bekendgemaak nie, altans nie in die openbaar nie. Dit word egter beweer dat dié einste uitslag gelei het tot positiewe hervorming in die Britse koningshuis se administrasie.

Verskeie koninklike kenners, ook koninklike verslaggewer Katie Nicholl, beweer dat koningin Elizabeth II self besluit het om die gevolgtrekkinge van dié verslag te “begrawe”.

“Alles wat ek op die oomblik uit die paleis hoor, is dat die koningin nie meer drama wil hê nie. Sy wil net nie hê dat nog vuil wasgoed in die openbaar gewas moet word nie,” het Nicholl aan Entertainment Tonight gesê.

Sy is ook van mening dat die 96-jarige monarg enige verdere skandes wat moontlik aan dié verslag gekoppel kan word, wil beperk en die personeellede se anonimiteit sowel as Markle se reputasie wil beskerm.

Prins Harry en Markle– wat in 2019 finaal van hul koninklike pligte afstand gedoen het – het vroeër vandeesmaand hul kinders, Lilibet en driejarige Archie, saamgeneem Brittanje toe om vieringe vir die koningin se 70ste jaar op die troon by te woon.

Dit was hul eerste openbare verskyning in Brittanje in twee jaar en die eerste keer dat Lilibet haar oumagrootjie ontmoet het.

Betrekkinge tussen Harry en sy pa, prins Charles, was glo ook gespanne, maar ’n koninklike bron het gesê hy het vroeër vandeesmaand ’n “baie emosionele” eerste ontmoeting met sy kleindogter Lili gehad, aldus AFP.

Bronne: AFP/Entertainment Tonight

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

ES ·

Sy klink vir my na ‘n regte bedorwe brokkie. Niemand wat nou “iemand” is.

blia ·

Die manier hoe die “Royal family” opgehemel word grens vir my aan afgodery van mense. Dis vir my belaglik hoe hierdie mense opgehemel word. Of mens nou hou van Meghan se karakter of nie, ek dink “good for them” dat hulle weggestap het om ‘n meer normale lewe te he. Om heeltyd voorgese te word hoe om te loop, sit , eet, aan te trek ens. kan nie lekker wees nie. Dis onnatuurlik en klaar. Selfs die arme kinders word al van jongs af in hieride ‘boksies’ geplaas.

Vexed ·

Dit is ‘n klein prys om te betaal. Hulle word dubble en dwars vergoed vir baie min.

Boatsie ·

Stem 100% saam Blia.
Hierdie monargie is oertydse stelsel wat aan die lewe gehou word en ek kan nie glo dat die gewone belastingbetalende publiek nog kan aanhou om die klomp se gatte so vol geld te stop nie.

Miena ·

ai hoe meer dae hoe meer dinge… as niemand iets het om weg te steek nie dan kan die verslag mos maar uitgereik word. Indien daar wel vuilspel van die Queen & kie se kant af is – wel…se net sorry nooi almal vir n komkommer-toe-broodjie, skons met konfyt en room en Earl Grey tee; en beweeg aan. More – oormore is daar in elk geval n nuwe storie waaroor gepraat kan word dan is hierdie ene helemal vergete weer.

Niklaas ·

Ai, ek wens sy wil net verdwyn. Maar ongelukkig is sy soos ‘n daar verewig oral , saam met ou Harry wat mooi gehoorsaam volg .

Althes ·

Met rede sal ek die verslag publiseer nie. Orals is sensasie soekers wat soos honger aasvoëls op krummels neersak.
Amerika se deuntjie oor rassisme raak ook afgesaag al.

Mieke ·

Ek wens almal wil net vir Meghan Markle uitlos… Iemand kan nie net slegte eienskappe hê nie. Ek is seker sy het ook goeie eienskappe, maar daaroor maak niemand kommentaar nie!!

Boatsie ·

Wel Megan se beeld het reeds skade gekry omdat dit sy is wat geïmpliseer was.
Dink Harry se bewering dat ander familie dit ook doen het die kat in die duiwehok gegooi.
Deur nou te beweer sy wil nog skandes in die koningshuis voorkom, is ek oortuig die ou koei probeer ander familie s’n en dalk hare ook onder die mat invee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.