Koningin woon dankdiens nie by; Harry en Meghan bekoor

Meghan Markle en prins Harry buite die St. Paul-katedraal. (Foto: Daniel Leal/AFP)

Dit blyk dat koningin Elizabeth II se belaaide 70ste jubileum-feesvieringe, wat Donderdag met die vaandelparade (Trooping of the Colour) in Londen afgeskop het, reeds sy tol op haar gesondheid begin eis.

Die 96-jarige monarg het Vrydag die nasionale jubileum-dankseggingsdiens, wat by St. Paul-katedraal plaasgevind het, tot toeskouers en aanhangers se teleurstelling misgeloop.

Buckingham-paleis het Donderdagaand in ʼn verklaring gesê dat die koningin “ongemak” ná Donderdag se verrigtinge – wat die parade en ʼn aandfunksie by Windsor-kasteel ingesluit het – ervaar.

Haar onttrekking, wat die paleis gesê het sy met “groot onwilligheid” moes aanvaar, beteken dat sy moontlik ander feesvieringe dié naweek, soos die popkonsert buite Buckingham-paleis én die Epsom Derby-perdewedren, gaan misloop.

Dié dankseggingsdiens, wat die koningin se posisie as geestelike leier en hoof van die Kerk van Engeland kenmerk, is egter deur ander senior en voormalige werkende lede van die Britse koninklike familie bygewoon, onder wie prins Harry en sy vrou, Meghan Markle.

Dít was die hertog en hertogin van Sussex – wat in 2019 finaal van hul koninklike pligte afstand gedoen het – se eerste openbare verskyning in Brittanje in twee jaar.

Hul twee kinders, die driejarige Archie en 11 maande oue Lilibet, is tans saam met hulle in die Verenigde Koninkryk.

Prins William en Kate Middleton arriveer by St. Paul-katedraal. (Foto: Matt Dunham/AFP)

Die hertog, ʼn voormalige Britse weermagkaptein (37), was geklee in ʼn oggendpak, met militêre medaljes, terwyl Meghan (40) ʼn roomkleurige rok en bypassende hoed vir die geleentheid gekies het.

Die egpaar is volgens BBC hartlik deur aanhangers buite die katedraal gegroet en het daarna hul sitplek tussen die skare van 2 000 mense, wat die laaste vyf Britse eerste ministers ingesluit het, ingeneem.

Prins William en Kate Middleton, die hertog en hertogin van Cambridge, het kort daarna aangekom. Kate het gestraal in ʼn liggeel rok en oorbelle uit prinses Diana se juweelversameling.

Dié diens was die eerste keer dat die Cambridges en Sussexes saam as ʼn viertal gesien word sedert Statebondsdag in Maart 2020, wat Harry en Meghan se laaste koninklike verskyning was voordat hulle uitgetree het. Die twee paartjies het egter nie by mekaar gesit tydens die diens nie.

Die Britse premier, Boris Johnson, en sy vrou, Carrie Symonds (Foto: Matt Dunham/AFP)

Benewens die eregas moes nóg ʼn familielid ook die diens virtueel volg, naamlik prins Andrew, die hertog van York.

Die hertog sou hom by die groter koninklike familie aansluit by dié hoëprofielgeleentheid, maar het volgens berigte positief vir Covid-19 getoets.

Die koningin se seun het onlangs uit die openbare oog getree ná die woede oor sy vriendskap met die pedofiel-miljardêr Jeffrey Epstein, en het miljoene betaal om ʼn siviele seksuele aanrandingsaak te skik met ʼn vrou wat hy beweer het hy nooit ontmoet het nie.

Die aartsbiskop van Canterbury is ook weens Covid-19 gedwing om hom aan die diens te onttrek.

Bronne: AFP, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

philippus ·

Die eerste minister Boris was uit gejou en vir die eerste keer is n senior lid van konings huis uitgejou, Harry en sy yank was uit gejou. Groot gejuig vir William en Kate, geen boeeee hoorbaar soos met sy sensasie soekende boetie nie

Eden ·

96 is nogal oud om sulke partytjies by te woon. Maar aan die ander kant weet Liesbet sy kan nie vir Charlie die troon aangee nie. Hy is maar pateties.

Martie ·

Ek dink nie die BBC het na dieselfde diens gekyk as ek nie. Dalk het hulle die klokke gehoor en gedink dit is die skare. Want van wat ek kon sien en hoor was Megan en Harry definitief nie hartlik deur die skare verwelkom nie. Hulle was in werklikheid doodstil. William en Kate was wel hartlik toegejuig toe hulle arriveer. En hulle was ook nie ‘n viertal nie. Harry en Megan was heeltemal apart van die res van die koninklikes. Op die kommentare van die live videos is Megan en Harry hartlik uitgejou en geboo!!!!

Catherina ·

Wens H en M wil nou uit kollig bly. Genoeg v hulle gehad

AH ·

Net so! Hulle wou mos uit die kollig bly om hul privaatheid te kry, maar nou probeer hulle alles in hul vermoë om weer in die kollig te wees!! Presies soos die bedorwe brokkies wat hulle is!! Maak my naar!

Niklaas ·

Mag ou Harry en sy Yank vrou tog nou besluit om vir ewig weg te bly. Hul wou dan so graag onder die paparazzi se oê uitkom. Nou mis hul blykbaar die kalklig so effe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.