Pragfoto’s: Koningin se jubileum skop af met vaandelparade

Die koninklike familie se verskyning op die balkon van Buckingham-paleis is ‘n hoogtepunt. (Foto: Daniel Leal/AFP)

Die strate was stampvol met Union Jack-vlae wat wapper aan die begin van die vier dae lange viering van koningin Elizabeth II se 70ste jaar op die Britse troon wat vandag met die vaandelparade (Trooping of the Colour) in Londen begin het.

ʼn Groot skare het Donderdag in die strate van ʼn sonnige Londen saamgedrom in die hoop om lede van die koninklike familie tydens dié kleurryke parade te sien.

Hoewel die koningin se verjaardag reeds in April was, word die Britse monarg se verjaardag sedert die 18de eeu amptelik met die vaandelparade in Junie gevier.

Meer as 1 200 Britse soldate het aan die parade deelgeneem.

Maroela Media het vroeër berig dat die koningin in Februarie vanjaar die eerste Britse monarg geword het om sewe dekades lank te regeer nadat sy op 6 Februarie 1952 op 25-jarige ouderdom die troon bestyg het ná die dood van haar pa, koning George VI.

Die koningin se mylpaal-jubileum, wat moontlik die laaste groot openbare feesviering van haar bewind kan wees, word tot eerskomende Sondag met straatpartytjies, gedenkdienste en ʼn spoggerige konsert by die Buckingham-paleis gevier.

Prins William, prinses Anne en prins Charles op hulle perde tydens die parade. (Foto: Ben Stansall/AFP)

Prins Charles neem stelselmatig die leisels oor

Prins Charles, die troonopvolger, het saam met sy suster, prinses Anne, en sy oudste seun, prins William, die hertog van Cambridge, aan vandag se militêre parade deelgeneem. Ander lede van die koninklike familie is per koets na die paradegrond geneem.

Charles het vanjaar die parade se militêre inspeksie behartig en saam met prinses Anne en prins William die koninklike saluut namens die koningin beantwoord.

Dié tradisie is een van verskeie pligte wat die prins van Wallis toenemend by die bejaarde monarg – wat weens haar gesondheid en moeite met loop al hoe minder in die openbaar te sien is – begin oorneem.

Hy het vanjaar ook namens sy 96-jarige ma die seremoniële opening van die Britse parlement – wat as een van die belangrikste rolle van die staatshoof beskou word – bygewoon.

Prins George (8), prins Louis (4) en prinses Charlotte (7). (Foto: Ben Stansall/AFP)

Koninklike kinders op die voorgrond

Die Cambridge-kinders het vanjaar vir die eerste keer tydens die vaandelparade nie hul ouers by die Buckingham-paleis ingewag nie, maar is saam met hul ma, Kate Middleton, die hertogin van Cambridge, en Camilla Parker-Bowls, die hertogin van Cornwall, in ʼn koets na die paradegrond en die paleis geneem.

Prins George (8), prinses Charlotte (7) en prins Louis (4) het met skrefiesoë al laggend vir die skare gewaai.

Louis is ook in dieselfde wit vlootuitrusting, wat ʼn tweejarige prins William 37 jaar gelede by dieselfde geleentheid gedra het, opgemerk.

Koningin Elizabeth II. (Foto: Daniel Leal/AFP)

Koningin straal in geskiedkundige balkon-foto’s

ʼn Hoogtepunt van die geleentheid was natuurlik die koninklike familie se verskyning op die balkon van die Buckingham-paleis om vir die skare te waai en na die verbyvlieg van militêre stralers te kyk.

Die koningin het vanjaar net twee keer op die balkon verskyn, eers saam met haar neef, die hertog van Kent, tydens die parade en later saam met die hoof werkende lede van die Britse koninklikefamilie.

Die monarg het in ʼn ligblou rok, diamantborsspeld en haar kenmerkende pêrelhalssnoer en oorbelle gepronk.

Dié ikoniese foto’s sal moontlik van die bepalende beeldmatriaal van haar jubileum-naweek wees.

Meghan en Harry vanjaar slegs toeskouers

Verskynings op die paleis se balkon is vanjaar tot slegs werkende koninklikes beperk. Dit beteken dat prins Andrew, die hertog van York, en prins Harry en Meghan Markle, die hertog en hertogin van Sussex, nie vanjaar op die balkon verskyn het nie.

Dit is die eerste keer wat die hertogin weer ʼn draai in die Verenigde Koninkryk maak sedert sy en Harry in 2019 finaal van hul koninklike pligte afstand gedoen het. Die egpaar woon tans in Kalifornië in die VSA saam met hul twee kinders, die driejarige Archie en 11 maande oue Lilibet.

Meghan is egter tydens vandag se verrigtinge saam met jonger lede van die koninklike familie in die Buckingham-paleis opgemerk. Op foto’s wat deur ʼn venster geneem is, kan gesien word hoe sy speels vir een van die jonger koninklikes sê om stil te wees tydens die verrigtinge.

Die koningin het prins Andrew in Januarie weens ʼn seksuele aanrandingsaak van sy militêre verantwoordelikhede ontneem, wat hom in praktyk van enige amptelike rol onthef het.

Bronne: AFP, BBC, Independent UK.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nici ·

Interessant: When a surname is required, though, the descendants of Queen Elizabeth and Prince Philip often use the surname Mountbatten-Windsor.
Parker-Bowles is Camilla se eks man se naam. Bietjie navorsing hier sal goed wees.

Annelize ·

Klein prins Louis was vir my die “showstopper”, veral toe sy ousus sy arm platdruk, want hy het nou genoeg vir die skare gewaai. Die kyk wat hy haar gegee het was “priceless”, en toe gaan hy heel ongestoord voort. Ek dink die Cambridge kinders is agter die skerms ‘n absolute “scream”.

Eden ·

Toe Dr Verwoerd Die Transvaler se redakteur was en die Royals SA in 1947 besoek het, is geen woord oor hul besoek in die koerant geplaas nie. Maar danksy Huisgenoot weet almal deesdae wie die spul bloedsuiers is. Hulle kindertjies is dan so oulik..sug.

RB ·

Die afgeskaalde groep op balkon maak sin; regtig nie nodig dat almal verskyn.
Drie kleingoed is, wat my pa sal noem: Orrelpypies – seker koninklike orrelpypies. Pragtig!! Wil voorkom of hulle is ‘n veel gesonder/liefdevolle omgewing grootword as die twee geslagte voor hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.